27 March 2008

"DIE ARGUS IS NIE SO ERG NIE"

Argus Cycling08_Sport_wk--297x250.jpgEk en my vrou het hierdie jaar die Cape Argus aangepak. Die was ons eerste Argus en het ons baie uitgesien. Die dag was perfek en was dit nie té warm nie. Die briesie was koel, maar glo my die sweet het nogtans op die Kaap se paaie gedrup toe 32 000 ryers die Cape Argus Pıck n Pay-fietstoer vir 2008 aangepak het. Persoonlik glo ek natuurlik dat vir omtrent 80% van die deelnemers van die Cape Argus is die fietstoer ‘n geleentheid om te kyk hoeveel jy jouself kan straf voordat jy tot die besef kom dat jy jouself eintlik skade aanrig.

Hier volg my ervaring:

Een van die belangrike komponente tot jou as fietsryer is natuurlik die fiets en daarna is dit om om seker te maak jy het genoeg om te drink. Hier is ek en Candice se watersakke, of "camel packs", soos dit in fietsry kringe bekend staan.








Hier langsaan is ons rekenaar fietsry horlosie. Dit help nogal baie, veral as jy jouself sekere afsnypunte gemaak gestel het. Hieronder is ook die sensors wat hulle aan jou bene sit om te monitor wat jou finale tyd is.







Die eerste gedeelte was maklik. Teen die tyd wat ons groep weggetrek het, was die wenners van die Argus alreeds besig met pannekoeke en heuning so daar was geen rede om te probeer wen nie. Die eerste paar opdraende kon maklik uit die weg geruim word, want die bene is nog vars, die longe vol vars oggendlug en die energie is volop.

Na die eerste aanvanklike paar heuwels word dinge makliker. Vir ongeveer 40 kilometer is dit al die pad plat aarde en gaan dit baie goed. Almal chat en praat van hoe maklik die Argus is en hoe hulle gedink het dit is baie moeiliker.

En dan tref die realitiet jou: Vanaf Simonstad af is dit slegs pyn. Die opdraende begin en die fiksheid of gebrek daaraan begin jou inhaal. Jy praat al hoe minder en begin dink aan hoekom jy dit aan jouself doen. Skielik is elke waterpunt vir jou ‘n geleentheid om asem te skep en om gemoedsrus te kry dat jy nie die enigste een is wat besig is om selfmoord te pleeg nie.

Vir die res van die wedren wil jy graag iets sê, maar die enigste geluide wat uitkom is sulke blaasgeluide soos jy soek vir asem. Net as jy dink dinge word beter dan tref Chapman’s (of “Chappies” soos dit in fietry kringe bekend staan) jou. Die mense langs die pad spoor jou so bietjie aan, maar wanneer Chappies uiteindelik aanbreek droog die motivering op en is daar niemand om jou aan te spoor nie. Net jy en Chappies.

In die begin is Chappies nie so bad nie en jy begin amper dink dat dit maklik is. Die probleem is egter dat jy nie lekker om die draaie kan sien nie. Om elke draai is daar nog ‘n stuk van Chappies. Jy begin aan jou familie dink, jy oorweeg selfs ‘n potjie golf saam met Tiaan Terblanche van wie jy niks hou en wat ook nie van jou hou nie. Alles lyk en voel net baie beter in vergelyking met die pyn wat jy ervaar.

Teen hierdie tyd voel jou bene soos twee dooie stukke vleis. Jy het geen beheer regtig meer nie, maar jy druk deur. Dan oorwin jy Chappies en dan dink jy die ergste is verby. Die mense langs die pad begin verskyn weer en begin jou weer motiveer.

Teen hierdie tyd is jy so moeg dat dit nie meer ‘n verskil maak of dit opdraende of afdraende is nie. Jy wil nie meer op ‘n fiets wees nie, maar die reis moet voltooi word. Jy bereik dan Suikerbossie. Hier het jy alles nodig. Alle motivering wat jy kan kry. Jy begin dink aan Lance Armstrong se outobiografie : “It’s not about the bike” en verstaan skielik hoekom dit nie oor die bike gaan nie, want die bike gaan nie na die tyd van al die krampe skree nie. Jy begin gee nie meer om dat die ou tannie van 70 jou op haar gemak verby gaan nie. Jy wil net klaar maak. Die pyn moet net ophou. Jy wil ophou voel asof jy besig is om die tydelike met die ewige te verruil.

Dan is die einde in sig. Suikerbossie word oorwin. Jy haal die wenstreep. Die mense klap vir jou hande. Jy het dit gemaak. Jy kry ‘n medalje vir jou moeite en jy voel trots op jouself en voel amper dat die medalje die moeite werd is. Vir al jou sweet en pyn kry jy ‘n stukkie silwer aan ‘n rooi lint om jou pyn beter te maak.

Daardie rooi lint met die stukkie silwer plaas jou egter in die posisie om nadat die Argus verby is ewe nonchalant vir almal wat jou vra te sê:

“DIE ARGUS IS NIE SO ERG AS WAT ALMAL DINK NIE”!

2 comments:

Mila said...

Attie, volgende jaar die "Two Oceans", hu??

Stefan said...

Attie en Candice, julle is legends!! Attie, love your work. Love'it!