02 September 2009

MONTZINGERS X 3

Die Montzingers het besluit dat 2009 die jaar is wanneer ons nog 'n byvoeging tot ons huishouding gaan maak. 2 honde en 2 katte is nou genoeg, dit is tyd vir mense. Na vele nabetraging en oorweging van die voordele en nadele het ons Maart 2009 as die vetrekpunt geteiken. Dit was 'n besluit waaroor ons baie opgewonde was en steeds is. Ons het heeltyd gepraat oor: Hoe gaan hy/sy lyk? Gaan dit 'n seuntjie of dogtertjie wees? Wat gaan sy/haar naam wees? En so meer.........

Gedurende die einde van Mei, begin Junie het Candice begin kla dat iets nie lekker is met haar nie. Sy kon dit nie verduidelik nie en het sy snaakse gevoelens oral deur haar lyf begin ervaar. Sy was toe oortuig dat sy swanger is. Ek het gedog dat dit sin maak: dat sodra jy swanger is jou liggaam onmiddelik begin reageer. Ons was toe reeds opgewonde. Gedurende die eerste week van Junie toe koop Candice twee tuis swangerskap toetse. Die opgewondenheid was egter bietjie geblus toe die eerste toets onduidelik was. Daar was veronderstel om twee vertikale lyntjies te wees, maar daar was slegs een lyn en nog 'n baie onduidelike tweede lyntjie. Ons het toe besluit om die tweede toets die volgende oggend te doen, aangesien die toetse meer effektief in die oggend is.

Ons was steeds opgewonde maar nie meer so entoesiasties nie. Die volgende oggend is ons opgewondenheid verder gedemper toe ons die tweede toets doen. Dit resultaat was maar baie dieselfde soos die vorige toets. Die tweede vertikale lyntjie was verskriklik vaag. Die dowwe lyntjie het my egter oortuig dat ons wel swanger is. Jy kan tog nie net 'n bietjie swanger wees nie. Of jy is swanger of jy is nie. As sy nie swanger was nie dan moes daar niks gewees het nie, nie eers 'n dowwe lyntjie nie.

Candice was nog nie oortuig nie. Gedurende Junie het ek vir 'n week lank gaan jag en Candice my per foon meegedeel dat sy nou wel oortuig is sy is swanger. Sy het weer 'n toets gekoop en het ons onderneem om dit saam te doen wanneer ek terug van my eskursie is. Die Saterdagoggend het ons toe ons derde toets gedoen. Altwee lyne was so rooi soos 'n student se oë na 'n goeie kuier sessie die vorige aand.

Dit was die beste gevoel ooit. Hierna het ons 'n afspraak gaan maak by die dokter en soveel moontlik inligting probeer bekom oor wat ons moet doen, wat ons moet eet, watter pille Candice mag drink, of daar enige toetse gedoen moet word en so meer...... Lekker ondervinding maar ook scary terselfde tyd, want jy leer hoe baie wel verkeerd kan gaan.

Ons eerste sonar was begin Julie. Ek het 'n hol kol op my maag van opgewondenheid gehad. Ek het nie geweet hoe ek sou reageer nie. Candice was so gelukkig sy kon nie ophou smile nie. Die dokter het begin soek en ons het die skerm stip dopgehou, maar ons kon niks sien vir die eerste paar sekondes nie. En toe skielik sien ons iets wat flikker: 'n Hartklop en toe die babatjie. Hy was nog baie klein, maar hy was daar en as jy mooi kyk kon jy hom/haar sien. Die besef dat ons instaat was om 'n lewe te verwek was oorweldigend en kon ons beide nie ophou glimlag nie.

Die eerste twee sonars hierbo is op ses weke en die ander op 101/2 weke.

Ons kan nie meer wag nie. Ons tweede scan was in begin Augustus en het die babatjie toe al wesenlik gegroei. Hy het sommer sy armtjies geswaai en sy beentjie geskop en in die rondte gedraai terwyl ons hom op die sonar gesien het. Dit het gelyk of hy oefen. Hy gaan 'n baie aktiewe babatjie wees.

Intussen voel dit soms asof die werklikheid nog nie ingesink het nie. Dit voel nie asof daar 'n baba oppad is nie. Ons het nog geen klere, doeke, bed of allerande baba goedjies gekoop nie. Die naweek het 'n vriendin van Candice vir ons ons eerste babakleertjies gegee. Die werklikheid het toe begin inskop. Die tyd stap aand en die groot dag kom vinnig nader.

Candice se liggaam verander intussen baie en is ons volgende "detail" sonar die 10de September. Ek sal mal daaroor wees as dit 'n seuntjie is en Candice soek graag 'n dogtertjie. Ons besef egter dat soos die verantwoordelikheid van ouerskap insink dat ons baie gelukkiger gaan wees dat hy/sy slegs gesond moet wees.

Elke pa soek egter 'n seun waarmee hy 'n bal kan skop en die ma 'n meisie wat haar kan help om die skottelgoed te was :)

Word vervolg....................