28 July 2008

Hier kom die Cheethas!!

Vrydagaand was ek vir die eerste keer in 'n lang ruk op Vodacompark om my span in aksie te sien. Die Cheetahs het maar weer 'n sware Super 14 agter die rug, en ons was maar op ons senuwees gewees vir die Curriebeker. Maar ons het die laaste 2 weke darem weer hoop gekry om die Curriebeker weer te wen. Na die laaste 2 weke so groot oorwinnings is my span weer bo-aan die punteleer. Ek moet net bysê, die Bulle het een game minder as ons gespeel.

Hierdie naweek het die Valke hulle beste probeer, maar kon nie hulle verrassingsoorwinning soos teen die WP herhaal nie. Die Valke het die seisoen, onder Rudy Joubert, besluit hulle skop nie! Ek het voor die game met die Valke se konditioneringsafrigter gepraat wat hier by ons geswat het. Hy sê hulle ouens is moet fikser wees as ander spanne omdat hulle juis die bal so baie rondgooi. Dit help nie hulle skop besit weg nie, daarom hardloop hulle en kyk wat gebeur.
Die Cheetahs was egter reg vir hulle. Hulle verdediging wat hulle in die steek gelaat het in die Super 14, was op die aand baie goed. Die ouens was ook aangespoor deur Kabamba Floors wat sy 50ste wedstryd vir die Cheetahs gespeel het. Die foto het nie mooi uitgekom nie, maar dit is Floors wat die span op die veld gely het.

Hier het die Valke sommer van agter hulle eie pale 'n poging aangewend.

Soos ek genoem het was die Valke onder baie druk en moes hulle noodgedwonge meer skop as wat hulle seker graag sou wou. Dawid de Villiers was weer uitstekend in die lynstane en het goeie besit in hierdie faset verseker. Hy het die Sharks ook ore aangesit in verlede week se wedstryd.

Die Cheethas hou mos ook van hardloop. Hulle was ook nie skaam om die bal rond te gooi nie. Die agterlyn is egter vroeg ontwrig met 'n besering van Chris Rossouw. Tewis de Bruyn het na 10 toe geskuif en Niel Powell het die nommer 9 posisie oorgevat. Die jong Robert Eberson waaroor so baie gepraat word het ook in die wedstryd sy eerste drie in die wit en oranjre trui gedruk. Ek dink daar gaan nog baie wees.

Dit was ook 'n eerste vir die skeidregter wat sy eerste Curriebeker game geblaas het, en hy het die Cheetahs omtrent gestraf. Ek was bietjie ver om te sien of hy reg is of nie.
Die pêl wat ons genooi het, het kaartjies vir die Cheetah VIP losie gehad. Vreemd, daar moet jy jou drank koop, maar in die ander is alles gratis. Maar nou ja. In die agtergrond kan julle die nuwe hoofpawiljoen in wording sien wat al moes klaar wees vir die toets teen Wallis wat aan die begin van Junie gespeel is.
Dit was lekker om so baie drieë te sien, en ook te sien dat die Vrystaat weer met selfvertroue speel. Hier is die jong Wilton Pietersen wat die laaste van die Vrystaat drieë druk, net voor die eindfluitjie blaas.
Al wat ek nog wil sê: Die Curriebeker bly in Bloem!!!!




24 July 2008

MAXIMUS EN DIE BEGIN

Ek vertel vir almal lekke van Maximus, maar ek het vergeet hoe amper ons die arme dier weer teruggee het aan die begin. Hy het elke liewe nag gehuil en ons uit die slaap gehou. Hy het in die huis geslaap en sodra ons die badkamer deur toemaak, waarin hy slaap dan is dit 'n wolfgeluid tot in die oggend.
Daar was niks nice omtrent dit nie. Wel een oggend na omtrent 3 aande van te mins slaap en 4 uur of 5 uur in die oggende opstaan en met die hond speel buite op die gras was ek behoorlik moeg en kon my oe nie meer toegaan nie want hulle is heeltyd oop.

Ek het toe hierdie foto van myself geneem na nog 'n nag van geen oog toemaak nie.
Dinge het egter nou verander en is Maximus baie soet en soek ons nou vir hom 'n maaitjie.

22 July 2008

Bath en Bristol

My ma-hulle was mos vir 'n maand hier by ons in Engeland vir 'n kuiertjie. Ons het toe besluit om die laaste naweek wat hulle hier was, so effe die pad te vat. Ons het besluit om Bath en om spesifiek na die Roman Baths toe te gaan, waarvoor Bath bekend is. Al die nodige reelings is getref, insluitende die huurkar. Ons karretjie is mos 'n Ford Ka, nie rerig 'n familiemotor nie.

Hier is die voertuig waarmee ons die pad gevat het. Dit was 'n Vauxhall (wat in Suid Afrika Opel genoem word). Lekker groot kar met baie spasie vir alles wat ons wou saamvat. Ry soos 'n droom.
Hier is Philemon besig om die kar vol te maak vir die pad. Die outjie het nogal die petrol gesuip, veral met die aircon aan. Ons is gewoond aan die Ka, wat op petroldampe ry, so dit was nogal snaaks om gereeld te moet stop om weer petrol in te gooi. Mens gooi mos self petrol of diesel in jou kar by die garages en dan gaan jy in om te gaan betaal. Jy gee net vir hulle die nommer van jou pomp en dan laat waai jy. Jy los jou kar net daar terwyl jy betaal, want hulle kan miskien dink jy wil wegry sonder om te betaal.

Wel, ons het in Bath aangekom. Soos in die onderstaande foto gesien kan word, was daar heelwat karre in Bath. Ons het seker vir 'n uur in die toe gestaan nog in die kar, net om in Bath in te kom! Die plan is toe laat vaar om Bath toe te gaan en ons het die ander pad gevat Bristol toe, waar ons hotel was. Oppad soontoe in ons pekie in verdwaal, so dat ons die hotel in heeltemal die verkeerde dorp gesoek het. Ons het toe die Premier Inn gekry, al die tasse uitgehaal om te gaan inboek en toe was ons by die verkeerde hotel! Ons het in 'n Premier Inn in Bristol City Centre gebly wat my nogal verras het. Dis 'n goedkoop hotel in die UK, maar dit was regtig nice gewees.
Hier is die hotel.
Oorkant die hotel. Daar is 'n groot roundabout (verkeersirkel) net voor die hotel waar mens in die stad inkom. Die ander mense het 'n bietjie gedut terwyl ek en Will na House of Fraser toe was om bietjie shopping te gaan doen.
Oppad terug het ons gaan kyk hoe Stonehenge lyk. Dis miljoene jare oud en al die slim mense weet nogsteeds nie regtig hoe hulle die massiewe klippe daar gekry het of hoekom hulle dit gebou het nie. Dit was anders as wat ek verwag het, want daar loop twee groot paaie net langs dit verby. Ek het gedink dit gaan diep in die veld wees, weg van enige beskawing af. Omdat ons lede van English Heritage is, kon ons verniet ingaan.

Will voor die ruines. Hy was nogal ongelukkig en was moeg van die lank ry. Ons kon hom darem kry om so amper te smile vir die foto.




















Water, jou lekker ding!

Biep Biep, Biep Biep. Vrydag oggend, 5:45. Snooze knoppie. Biep Biep, Biep Biep. Suné staan op om te gaan stort. Sy stap badkamer toe, kom terug en klim weer in die bed. Sy sê daar is nie water nie. Is die pype dan gevries? Dit was nie so koud deur die nag nie. Nie eers onder vriespunt as ek reg onthou nie. Sy stel maar weer die wekker om die storttyd te omskep in nog 'n paar minute van slaap.

Later moet ons maar opstaan. Ek het ook nie gisteraand gestort nie. Die bed het te lekker gelyk. Sou voor werk stort. Gaan kry maar water in die yskas en gooi dit in die ketel om daarmee gesig te was. O hel, die toilet kan ook nie spoel nie. Gisteraand se skottelgoed moet ook nog gewas word. My ma-hulle kom kuier die naweek. Hopelik is alles darem al reg voor hulle vanmiddag arriveer.

Ek het weer deur die loop van die oggend 'n draai by die huis gemaak net om seker te maak dat daar nie 'n pyp geys en toe gebars het nie. Dit het met 2 mense wat ek ken die winter al gebeur en hulle het baie skade gehad. By die huis aangekom loop ek in een van die bouers raak. Hy se dat die hele kompleks nie water het nie. So erens het iets gebars of gebreek wat ons van water voorsien. Dit behoort darem nie te lank te vat om te herstel nie. Ek stuur toe maar vir my ma-hulle 'n sms dat hulle maar moet stort voor hulle ry. 'n Mens weet nooit.

Kom 2uur by die huis, vol hoop. Niks water nie. Ek is toe saam met Suné landloop toe. Kom terug by die huis, vol hoop. Niks water nie. Ek ry toe en gaan koop 'n paar 5l bottels water. 'n Mens kan nou nie eers tee en koffie maak nie. My ma-hulle het toe ook sommer vir ons 'n paar 5l bottels gebring. Gooi al die drinkwater oor in bekers en houers wat ons het en ry om weer die bottels maar by die naaste motorhawe te gaan volmaak. Ek wil nou nie van die duur drink water in die toilet afgooi nie. Wie het geweet dat 'n toiletbak vat 9-10l water om te spoel. Dit is bleddie baie. Moes maar weer ry om te gaan volmaak vir die opstaan dievolgende oggend.

So staan ons op, vol hoop. Niks water nie. Gelukkig het ons darem genoeg om almal aan die gang te kry. My ma en Suné is dorp toe om onder andere eetgoed te kry vir die rugby, en met die bottels om hulle te gaan volmaak. Praat later met my neef wat in Pellisier bly. Dit is die woonbuurt net bo ons wat ook nie water het nie. Hulle water het darem aangekom. Great, nou kan dit nie meer te lank wees nie. Maak elke halfuur die kraan oop, en luister angstig na die toiletbakke om vol te loop, vol hoop. Niks water nie.

Saterdagaand maar by familie gaan stort en die bottels daar gaan volmaak. Sondagoggend was ons by 'n ander neef se dogterjie se doop. Na die tyd eers by 'n vulstasie gestop om die bottels vol te maak. Kom terug by die huis, vol hoop. Niks water nie. My ma-hulle is terug huis toe en Suné bel 'n vriendin dat sy daar gaan stort. En om die bottels vol te maak. Kom terug by die huis, vol hoop. Niks water nie. Maandagoggend maar weer water in die ketel kook om gesig te was. Ek het toe sommer by die werk gestort voor my dag begin het. Intussen het ons op OFM se nuus gehoor wat die probleem is. Bloemwater of die munisipaliteit, wie ookal verantwoordellik is, het 'n klep of 'n valve of 'n ding reggemaak wat foutief is op die pyp wat vanaf die opgaardam loop wat ons water voorsien. Dit is opsigself nie 'n probleem nie, want daar is resouvoirs wat in sulke gevalle water aan die woonbuurte voorsien. Hulle het toe nooit gekyk of dat die resouvoirs genoeg water het nie. Terwyl hulle toe aan die pyp werk, gebruik die mense in die suidelikke woonbuurte van die stad toe die resouvoir leeg. Nou is die pyp herstel, maar die resouvoir moet nog vol loop sodat die waterdruk genoeg is om die buurte te voorsien. Hulle se toe ook op die nuus dat alles 6uur die aand herstel sal wees. Great!


6 Uur bel ek vir Suné om te hoor of daar water by die huis is, vol hoop. Niks water nie. Toe kom sy maar hier na my werk toe dat ons maar hier kan stort. So gaan slaap ons. Suné staan toe middernag op en daar hoor ek 'n wonderlike geluid. 'n Toilet wat spoel en weer vol loop. Vanself.

As ek ooit moet kies om sonder water of elektrisiteit te wees kies ek elektrisisteit. Sonder om 2 keer te dink. Daar is alternatiewe vir krag, nie vir water nie. Ek weet nou nie of julle die gaan lees nie, Pres. Mbeki en Mnr. Zuma, maar maak 'n plan om mense wat nie hierdie basiese geriewe het nie te help. So paar minder partytjies, minder onnodige vlugtige oorsee, minder onnodige luukshede en spandeer dit aan die mense van die land wat dit nodig het. Ek het baie empatie met hulle situasie. Wees dankbaar as jy 'n kraan oopdraai en daar is water!

16 July 2008

DIE MONTZINGER FAMILIE


Hier is 'n paar foto's net om julle op hoogte te bring van hoe die Montzinger familie intussen gegroei het. Maximus was aanvanklik baie huilerig en het ons hom jammer gekry. Hy is egter nou baie rustiger en begin al hoe meer leer. Hy is egter stout. Hy grawe gate in die tuin. Hy byt die katte of lek hulle tot hulle sopnat is, veral vir Oscar (die oranje kat). In die oggende as hy inkom moet hy iets in sy mond het, so enige skoen of sokkie vind vinnig 'n pad na sy mond toe. Hy is egter diep in ons harte gekruip en word hy lekker bederf. Op Candice se afdae kom kruip hy by haar in as ek werk toe gaan en dan slaap hy soos 'n babatjie. Hy groei vinnig en gaan nog baie groter word.

Hier is 'n paar foto's van die familie:

Die boonste twee foto's is geneem terwyl ons gaan stap het die naweek. Links middel probeer Candice almal (Maximus se ma, pa en boetie) leer om te sit, maar Maximus wil nie luister nie. Hierbo kan jule sien hoe groot Maximus nou al is vandat ons hom gekry het. Hier langsaan is almal besig om in vrede die warmte van die son uit te soek.
Die famlie groei letterlik en figuurlik maar dit is nogal lekker.

12 July 2008

Die Boedies op Skype

Ek, Schalk en Attie het onlangs die nodige fasiliteite bekom sodat ons mekaar ten minste naweke op die wereld wye web kon raakloop.


Ons het al 'n paar lekker kuiers met die hulp van Skype deur gewerk en siende dat ons nie deesdae meer so gereeld kan kuier nie, is dit darem soort van 'n troosprys om darem so nou en dan te sien hoe dit met die manne gaan.



Dis net Mila wat nog nie op die lug is nie, hy lei mos aan internet-lessness, ook sy verskoning vir hoekom hy so min blog deesdae.