19 October 2009

Clarens toe

Die Vrystaat is bekend vir sy vlaktes. Dit is veral sigbaar as jy vanaf Bloem na die noordelike dele van die provinsie beweeg. Maar draai nou net jou motor se neus in ‘n oostelike rigting, en die Vrystaat verruil sy uitgestrekte grasvelde vir koppies wat sommer vinnig al hoe hoër duin hoe verder jy ry. Net sowat ‘n halfuur buite Bloem het die landskap al klaar vir Suné aan die Kaapse wynlande laat dink. Ons het verby Ladybrand, Clocolaan, Ficksburg en Fouriesburg gery met die majestieuse Maluti’s wat in die agtergrond in die Bergkoningkryk van Lesotho vir ons wink.

Die pragtige omgewing het die pad sommer baie korter gemaak en toe ons ons oë uitvee lê die juweel van die Oos-Vrystaat, Clarens, voor ons. Die dorpie was al klaar ‘n miernes van bedrywigheid, want Mini (die karretjie) het ook die naweek gekies om hulle 50ste verjaarsdag partytjie hier te hou.

Ons het die naweek by Cottage Pie gastehuis gebly. Oulike plekke teen die berg in Clarens. Dit was lekker om na die lang sit ‘n lekker koffie te maak en dit op die swaaibank te geniet en te wonder of hier nie tog ‘n paar kabouters in die bos wegkruip nie. Dit was wonderlik stil gewees. Al wat jy hoor in die duiwe wat koer, mossies was kwetter en ‘n Piet-my-vrou wat roep terwwyl almal nesskrop vir die aand.

Ek en Sune is toe dorp toe om ietsie te gaan eet. Ons het toe besluit op ‘n pizza by die Pizzeria. ‘n Oulike restaurant wat spesialiseer in pizza. Jy kies ‘n standaard basis en jou eie toppings. Die regte pizza oond doen ook maar net ietsie spesiaals, want ek het lanklaas so lekker pizza geëet.

Die volgende oggend nadat ons lekker laat geslaap het, is ons weer die dorp in, en toe het die res van die Mini eienaars gearriveer. Mini’s oud en nuut net waar jy kyk. Ons stap toe maar rustig deur al die snuisterywinkels en beloer wat al die mense verkoop. Ons gunsteling plekke in Clarens is die gallerye. Een van ons gunstelinge is Johan Smit se gallery. Eendag as ek nie weet wat om als met my geld te doen nie, gaan ek nog hier ‘n pragtige skildery kom koop van die Populierbome en bale wat so op die lande lê. Die Blou donki (dit is reg gespel) Gallery het ook ‘n paar pragtige werke gehad, maar dit was ‘n skildery van Ben van Wyk wat ons laat staar het hierdie naweek. Ook ‘n plaastoneel met ‘n windpomp en stukkende plaasdraad in wonderlike helder rooi en geel en oranje wat ons droom het van waar die regte plek is om die een te hang. Eendag ……..







Die eintlike rede hoekom ons Clarens toe gekom het was omdat Wouter en Nanette trou. Na ‘n lekker sny koek by La Moelin koffiewinkel is ons huis toe om te gaan titivate.

Die bruid en bruidegom lyk pragtig, die dominee preek, maar al wat ek wonder is wat met my span gebeur in die Curriebeker semi-finaal. Ek voel in my sak hoe die foon vibreer soos die een na die ander smsse deurkom. Is dit gelukwense, is dit boodskappe om te sê, so naby maar tog so ver. Nog ‘n keer vibreer die foon en ek is seker dis Boedies se gelukwense met my span wat die Bok belaaide Haaie op hulle tuisveld pakgegee het. My vermoedens word bevestig toe ek omdraai en sien hoe die ouens oorkant die gangetjie die telling vir mekaar fluister. VRYSTAAAAAAT!!!!

Die onthaal was in ‘n plaasskuur net buite Clarens en ons het heerlik gekuier en geëet.

Die tyd in die pragtige Oos-Vrystaat was heeltemal te vinnig verby, en dit was heerlik om saam met Suné bietjie weg te breuk en ook sommer ons twee jaar huweliksherdenking te vier, al was dit so maand te vroeg. Ek hoop ons kan gou weer kom kuier!!