30 March 2008

Die Bali Grand

Ek was onlangs weer in Durban vir werk en hierdie keer is ons ingeboek in die "Bali Grand Geust Lodge". Die bed en ontbyt plekkie is in Amanzimtoti en ongeveer 20km van Durban af. Die verkeer in en uit Durban was glad nie te erg nie en daarom was die 20 km glad nie sleg nie. Mens ry heelpad langs die N2 en kan binne 30 of 40 minute in Durban se middestad wees.

Die plekkie is hoofsaaklik vir besigheids mense wat in die Durban omgewing kom besigheid doen, maar hulle verwelkom ook vakansiegangers. Die tarriewe is ook heel billik vir wat mens kry. Vir 'n paartjie betaal mens R640, wat R320 per persoon is. Die plekkie is 'n klipgooi van die Indiese Oseaan af en nie te vêr van Amanzimtoti se hoofstrand af nie. Ek kon vanuit my kamer die hotel sien waar van die Boedies een keer op Universiteit gaan vakansie hou het.


Amanzimtoti
Die atmosfeer by die Bali Grand is heel gemaklik met hulle selfbedienings kroeg, waar mens vir jouself 'n bier kan gryp en dan net later vir hulle sê wat jy gehad het. Die kamers is baie groot met die lieflikste mat waarop ek net heel aand kaalvoet op wou loop. Dit laat mens sommer ontspan na 'n lang dag se vergaderings. In die kamer is daar ook 'n mini yskassie met allerhande drankies. Die sisteem is dieselfde hier, jy neem waarvoor jy lus is en as jy uitboek, laat jy hulle net weet wat jy gehad het.

Die beste is seker om die oggend op te staan, 'n lekker stort te vat en op die balkon te gaan sit met 'n stomende koppie koffie terwyl jy staar na die verskillende skakering van oranje en geel wat die son op die horison gooi soos wat dit oor die see opkom. So as jy ooit in die Durban omgewing moet gaan besigheid doen of selfs net vir 'n naweek wil gaan ontspan, kan jy gerus die Bali Grand probeer.

[Kliek op die + om in te zoom]

Sien groter kaart

Hulle web adres is: http://www.baligrand.co.za/

27 March 2008

"DIE ARGUS IS NIE SO ERG NIE"

Argus Cycling08_Sport_wk--297x250.jpgEk en my vrou het hierdie jaar die Cape Argus aangepak. Die was ons eerste Argus en het ons baie uitgesien. Die dag was perfek en was dit nie té warm nie. Die briesie was koel, maar glo my die sweet het nogtans op die Kaap se paaie gedrup toe 32 000 ryers die Cape Argus Pıck n Pay-fietstoer vir 2008 aangepak het. Persoonlik glo ek natuurlik dat vir omtrent 80% van die deelnemers van die Cape Argus is die fietstoer ‘n geleentheid om te kyk hoeveel jy jouself kan straf voordat jy tot die besef kom dat jy jouself eintlik skade aanrig.

Hier volg my ervaring:

Een van die belangrike komponente tot jou as fietsryer is natuurlik die fiets en daarna is dit om om seker te maak jy het genoeg om te drink. Hier is ek en Candice se watersakke, of "camel packs", soos dit in fietsry kringe bekend staan.








Hier langsaan is ons rekenaar fietsry horlosie. Dit help nogal baie, veral as jy jouself sekere afsnypunte gemaak gestel het. Hieronder is ook die sensors wat hulle aan jou bene sit om te monitor wat jou finale tyd is.







Die eerste gedeelte was maklik. Teen die tyd wat ons groep weggetrek het, was die wenners van die Argus alreeds besig met pannekoeke en heuning so daar was geen rede om te probeer wen nie. Die eerste paar opdraende kon maklik uit die weg geruim word, want die bene is nog vars, die longe vol vars oggendlug en die energie is volop.

Na die eerste aanvanklike paar heuwels word dinge makliker. Vir ongeveer 40 kilometer is dit al die pad plat aarde en gaan dit baie goed. Almal chat en praat van hoe maklik die Argus is en hoe hulle gedink het dit is baie moeiliker.

En dan tref die realitiet jou: Vanaf Simonstad af is dit slegs pyn. Die opdraende begin en die fiksheid of gebrek daaraan begin jou inhaal. Jy praat al hoe minder en begin dink aan hoekom jy dit aan jouself doen. Skielik is elke waterpunt vir jou ‘n geleentheid om asem te skep en om gemoedsrus te kry dat jy nie die enigste een is wat besig is om selfmoord te pleeg nie.

Vir die res van die wedren wil jy graag iets sê, maar die enigste geluide wat uitkom is sulke blaasgeluide soos jy soek vir asem. Net as jy dink dinge word beter dan tref Chapman’s (of “Chappies” soos dit in fietry kringe bekend staan) jou. Die mense langs die pad spoor jou so bietjie aan, maar wanneer Chappies uiteindelik aanbreek droog die motivering op en is daar niemand om jou aan te spoor nie. Net jy en Chappies.

In die begin is Chappies nie so bad nie en jy begin amper dink dat dit maklik is. Die probleem is egter dat jy nie lekker om die draaie kan sien nie. Om elke draai is daar nog ‘n stuk van Chappies. Jy begin aan jou familie dink, jy oorweeg selfs ‘n potjie golf saam met Tiaan Terblanche van wie jy niks hou en wat ook nie van jou hou nie. Alles lyk en voel net baie beter in vergelyking met die pyn wat jy ervaar.

Teen hierdie tyd voel jou bene soos twee dooie stukke vleis. Jy het geen beheer regtig meer nie, maar jy druk deur. Dan oorwin jy Chappies en dan dink jy die ergste is verby. Die mense langs die pad begin verskyn weer en begin jou weer motiveer.

Teen hierdie tyd is jy so moeg dat dit nie meer ‘n verskil maak of dit opdraende of afdraende is nie. Jy wil nie meer op ‘n fiets wees nie, maar die reis moet voltooi word. Jy bereik dan Suikerbossie. Hier het jy alles nodig. Alle motivering wat jy kan kry. Jy begin dink aan Lance Armstrong se outobiografie : “It’s not about the bike” en verstaan skielik hoekom dit nie oor die bike gaan nie, want die bike gaan nie na die tyd van al die krampe skree nie. Jy begin gee nie meer om dat die ou tannie van 70 jou op haar gemak verby gaan nie. Jy wil net klaar maak. Die pyn moet net ophou. Jy wil ophou voel asof jy besig is om die tydelike met die ewige te verruil.

Dan is die einde in sig. Suikerbossie word oorwin. Jy haal die wenstreep. Die mense klap vir jou hande. Jy het dit gemaak. Jy kry ‘n medalje vir jou moeite en jy voel trots op jouself en voel amper dat die medalje die moeite werd is. Vir al jou sweet en pyn kry jy ‘n stukkie silwer aan ‘n rooi lint om jou pyn beter te maak.

Daardie rooi lint met die stukkie silwer plaas jou egter in die posisie om nadat die Argus verby is ewe nonchalant vir almal wat jou vra te sê:

“DIE ARGUS IS NIE SO ERG AS WAT ALMAL DINK NIE”!

14 March 2008

'n Dag in London

Stella se post van ‘n dag in sy lewe het my geinspire om ook so iets te doen. Om te wys wat ons hier in London doen deur die dag en so.

Vroeg opstaan was nog nooit my sterkpunt nie. En as dit koud is as jy moet vroeg opstaan, dan is ek nog minder in die mood. Ongelukkig kan mens nie verby die feit kom dat dit koud gaan wees in die oggend hier in die Verenigde Koningkryk nie.

Die is ‘n foto geneem van ons balkon af oor ons agterplaas. Die mis is partykeer so dik dat mens nie die sokkerveld agter ons erf kan sien nie. Die ys is ook gewoonlik sommer kliphard op die karre gevries in die oggend. ‘n Mens kry sulke skraper om die ys van jou windscreen af te skraap in die oggend, maar ons het nog nie sulke fasiliteite nie. So, in daardie opsig wil ek net vir Woolworths van Suid Afrika dankie sê vir hulle winkelkaart. Ek het nog altyd geweet daai kaart gaan handig te pas kom êrens. Uit desperaatheid het ek sommer die eerste keer my Woolies kaart gebruik om die ys af te krap. Thanks Woolies! Ons het sedert opgegradeer – ons gebruik nou die eierspaan om die ys af te skraap.
Dan vir Elzna stasie toe vat en later vat ek vir Will skool toe. Van daar af stasie toe en dan vat ek die trein Lewisham toe.









Van daar af klap ek die DLR (Docklands Light Railway) tot by Canary Wharf. Die DLR is soos ‘n enkelspoor trem wat heelwat stadiger as die gewone treine en die tubes is.


Canary Wharf is nogal ‘n indrukwekkende plek om vir die eerste keer te sien. Dit was voorheen dokke vir skepe se aflaai en oplaai. Daar is nogsteeds hyskrane langs die water, maar slegs vir historiese betekenis. Dit het egter verval en toe het hulle die hele area herbou en nou is dit een van die belangrikste finansiele distrikte in die wêreld.


Van die grootste geboue is die HSBC gebou, die Citigroup gebou en die Lehmans Brothers gebou. Daar is ‘n park tussen die geboue wat nou in die winter ‘n ysskaatsbaan gehuisves het. Siende dat ek nie eers kan staan op die ys nie, het ons dit nie probeer nie. Mila sou dit geniet het, hy is ‘n kranige skaatser en het ons laaskeer gaande gehad met sy moves en skills. Onder dit is ook ‘n shopping centre en parkering. Dit is egter ‘n malhuis met etenstyd en om tussen al die ‘suits’ deur te kom oppad na my gunsteling toeba winkel, is nogal ‘n mission en ‘n half.






By die werk – Met die tydverskil tussen hier en New York werk dit nogal lekker uit dat ons die US Power trades deurgaan en dan enige foute of nodige veranderings weer kan teruggee aan die traders om reg te maak of ons doen dit sommer partykeer.

Na werk, terug op die DLR tot by Lewisham, terug op die trein, loop van die stasie af of Elzna kom haal my as dit koud is of dit reën.



By die huis gekom, is dit badtyd vir Will en dan ontspan na die lang dag.

London is nogal anders. Baie mense sê dis soos ‘n wêreld op sy eie. Dis ‘n mengelmoes van verskillende kulture en amper soos ‘n snapshot van die wêreld met iets van alles. Ons moet nog al die museums, gallerye en plekke om te sien gaan doen. Al ons London uitstappies sal ook gedokumenteer word en dit sal op die blog verskyn.

Geluk Mnr en Mev Montzinger!



Namens myself en Die Boedies wil ons vir Adrian en Candice baie geluk wens met hulle troue. Dit was ‘n baie lekker kuier en al was ons naweek in die Paarl baie kort, was dit absoluut die moeite werd. Die omgewing daar is regtig baie mooi en soos Mila gesê het, met tye vergeet mens jy is in die Kaap en dit voel of jy iewers in Italie of iewers is. Candice het gestraal en het pragtig gelyk. Attie het ook goed gelyk, so goed soos ons manne ook nou maar kan. Ons weet mos almal dat dit vir ‘n man seer is om so goed te moet lyk en dit kom definitief nie natuurlik nie. Die troue was ‘n jol en dit was veral lekker om weer saam met die ere vriende van Die Boedies, Willem Breed en Chris Botha, te kon kuier. Chris staan ook op trou en die Boedies wil sommer van die geleentheid gebruik maak om hulle baie geluk te wens met hulle verlowing en sterkte met al die trou reëlings.

Die Boedies wens vir Adrian en Candice ‘n lang en gelukkige huwelik toe en wil hulle die versekering gee dat ons agter hulle staan deur dik en dun.

Lank sal hul lewe in hul Gloria!!

07 March 2008

"FOR BETTER OR FOR WORSE"

Hoe beskryf 'n mens jou mooiste dag. Geen woorde kan dit mooi genoeg vasvat nie. Selfs al probeer jy dan voel jy altyd na die tyd ek kon dit beter doen. Ons dag was inderdaad so gewees. Die 1ste Maart 2008 was absoluut die wonderlikste dag in die lewe van die Montzingers. Candice se baie goeie organiseringsvernuf het daartoe bygedra dat alles op die dag volgens plan verloop het en kon ons nie vra vir 'n beter troue nie.
Ten spyte hiervan en die aanhoudende versekering dat alles perfek gaan verloop was daar steeds skoenlappers wat mal gegaan het die week en die dag voor en die dag van die troue. Die ontbyt saam met die Boede voor die tyd het die senuwees bietjie bedaar en Candice se sjampanje het haar weer kalmeer.
Al die ander dinge het egter op die agtergrond verdwyn die oomblik toe
Candice by die kerk se deur instap. Sy het absoluut fantasties gelyk. Alles aan haar was perfek. Op daardie oomblik wou alles binne my ontplof van trots met die wete dat ek die een is wat sy gekies het. Die mooi prentjie van waar sy in die kerk se deur staan en daarna afstap na my toe in die kerk is by verre die beste visueel wat ek vir ewig in my geheue gaan vashou. Dit is inderdaad 'n lekker gevoel om getroud te wees. Alles voel net voltooi, so asof die legkaart nou finaal inmekaar pas.

Die kerk was pragtig en nadat ons met almal buite gesels het was dit tyd vir kuier by die onthaal.
Die kerk waar ons getrou het is meer as 'n honderd jaar oud en word genoem die Het Gestich Slawe Kerk, vandag is dit grotendeels slegs 'n toeriste aantreklikheid.

Hierna was dit natuurlik tyd om te gaan kuier. Die plek waar die onthaal was, is bekend as Ashanti Wynlandgoed. Dit is redelike jong plaas en nie baie bekend vir hul troues nie. Die dag het egter baie goed afgeloop en die dame wat verantwoordelik was vir die organisering het 'n perfekte werk daarvan gemaak. Die lekker wyn wat almal gedrink het, het natuurlik gehelp om almal te laat relax en dit was nie lank nie of almal het lekker gekuier. Dit was lekker dat die Boedies weer teenwoordig was en het ons lekker gekuier. Schalk in sy afwesigheid was baie gemis. Daar is niks lekkerder in die lewe as om goeie oomblikke saam met die mense wat die naaste aan jou is te spandeer nie. Saterdag was ek en Candice se beste oomblik en watter voorreg was dit nie om dit saam met mekaar, vriende en spesifiek vir my saam met die Boedies te deel nie. Ek kan nie wag vir die res van ons lewens saam nie.

04 March 2008

Vordering

Hier is hy nou! Ons bly nou al 2 maande in ons nuwe huis. Nog baie stowwerig maar al aansienlik beter as die eerste foto's wat julle gesien het, en ons geniet elke oomblik in ons nuwe woning. Ek wag nogsteeds dat iemand moet kom kuier! Die grasplant was hel, maar absoluut die moeite werd. Om so in die grond doenig te wees doen darem net iets vir die siel.


video

03 March 2008

Leeds Castle

[Kliek foto om te vergroot]
Ons was vir die naweek in Maidstone gewees en toe het ons besluit om 'n trippie te maak Leeds Castle toe. Ek was effe siek, so ek het die baie stap nie so baie geniet nie. Gelukkig is die kaartjies geldig vir 'n jaar, so ons sal defnitief weer teruggaan om dit ten volle te geniet. Miskien ook as die weer bietjie beter is.

Hier is ek en die jongman voor die poue. Die goed het my nog altyd skrikkerig gehad. Ek dink ek het 'n pou-skermutseling gehad toe ek klein was en daarom is ek net versigtig. Nie bang nie, nooit bang nie. Net versigtig.


[Kliek fotos om te vergroot]

[Kliek foto om te vergroot]

Die kasteel van ver af.


In die binnehof.



[Kliek foto om te vergroot]