29 May 2009

Dullstroom

Op party klein dorpies in Suid Afrika mag jy soms tot ‘n koei in die straat sien loop,  die beste plek om te besoek is die Wimpy en dan is dit asof die kos daar anders is as in die Wimpy’s waaraan jy gewoond is. Maar Dullstroom is ‘n klein dorpie met ‘n verskil. Dis amper asof almal wat Dullstroom besoek glo dat die plek ‘n geheim is en dat net die mense wat daarvan weet, hierheen kom en moet vir niemand vertel nie, want net-nou kom almal hierheen en verloor die plek sy rustigheid.

Rooibors Jakkals Voël

Saterdagoggend vat jy die N12 oos in die rigting van eMalahleni. Nee, nie ‘Emma wil nie lê nie’, eMalahleni, dis mos nou wat van Witbank geword het. Na Witbank sien jy wat lyk soos ‘n grys hoop sement en tussen dit alles steek ‘n vierkantige toring uit met ‘n witkol en ‘n blou skip daarop wat strek om bo die grys stof uit te kom. Jy is besig om by Middelburg verby te ry en die toring met die blou skip is Columbus Stainless, die lekkerste plek waar ek nog gewerk het. Ek verlang sommer terug na my UTCAS stelsel wat ek soos ‘n pasgebore baba opgepas het, na ons haar die eerste keer inwerking gestel het.
Forrel Dam by Ce La Vi
As jy die Belfast bord sien, draai jy af en gaan noord. Belfast is een van daai klein dorpies, so jy swaai maar oos en hou dan die Corolla se neus in die rigting waarin die meisie van die GPS jou wys. Net wanneer jy begin wonder of ons dan nooit weer gaan koffie drink nie en die gegrom van jou maag harder raak as die ‘songs’ uit Estelle se iPod, dan ry jy Dullstroom binne. Dit vat ‘n minuut of twee om aan te pas by die rustige tempo van die plek. Oral loop mense rond van een winkel na die ander, en moet mens selfs stadiger as die aanbevole 60km/h ry, anders ry dalk net iemand wat oopmond van verwondering die ‘curios’ loop en bewonder, onderste bo.
Kaapse Oor-Uil

Jy parkeer sommer enige plek en vra vir die wag, wat homself eers op die naam kom voorstel, om te kyk, want alles is binne loop afstand. ‘n Neute verkoper probeer hard om jou te oortuig dat syne die beste op die dorp is. Dan maak jy jou eerste stop by Harry’s Pancakes. Dis ook hoe die idée gekom het om weg te breek Dullstroom toe vir die naweek, want jare na jy hier was kry jy een aand ewe skielik weer ‘n helse lus vir Harry se gevulde pannekoeke. Hulle is almal goed, maak nie saak of jy die soutes of die soetes probeer nie. Nie dat dit my gewoonlik keer nie, seker maar oor dit meer aanvaarbaar is, kies ek ‘n soute, want dis darem nog baie vroeg. Mens se tone krul sommer van die lekker.

Na ek vir my ‘n polar fleece top by die Jeep winkeltjie gekoop het en Estelle ‘n oulike rugsak by Handy Bags gekry het is dit tyd om ons ander gunstelling plek in Dullstroom te besoek. In ‘n plek waar tyd nie saak maak nie is daar tog 2 baie belangrike tye om te onthou. 10:30 en 14:30, want dis wanneer die “Birds of Prey” hulle ‘Flying Displays’ het en dis iets wat mens net nie kan mis nie. Mense vertel my hulle was in Dullstroom en as ek hulle vra dan sê hulle, nee, hulle weet nie van die ‘Birds of Prey Centre’ nie. Wel, dan’s ek jammer, maar dan was jy nog nie regtig in Dullstroom nie. ‘Birds of Prey’ is omtrent ‘n kilometer buite Dullstroom, net voor jy Dullstroom binnekom van Belfast se kan af. Jy sal hulle borde sien en dan vat jy ‘n kort stukkie, seker 500m, grondpad en dan’s jy daar.




Maak seker dat jy so rukkie voor 10:30 of 14:30 daar is en gaan kies ‘n lekker plekkie om te sit. Die ‘Flying Display’ word deur Mark of Mark of soms albei Mark’s terselfde tyd gedoen en dis ongelooflik interessant. Glo my jou mond sal oophang, wat dalk nie so slim idée is met al die roofvoëls wat vlak bo-oor jou kop verby vlieg nie, maar jy kan nie anders nie. Mens stap terug na jou kar toe met ‘n nuwe waardering vir wat die voëls alles in die natuur doen, seer maagspiere van al die lag vir wat die twee Marks alles kwyt raak en jou kamera vol een-keer-in-‘n-leeftyd fotos van roofvoëls vat reg oor jou kop vlieg en vleis uit die lug uit vang. Ek en Estelle is mal oor die ervaring. Ons was jare terug daar toe hulle nog op ‘n ander plaas in die rigting van Lydenburg was en die keer het ons sommer beide die Saterdag 14:30 en die Sondag se 10:30 vertonings bygewoon.

Ce La Vi se lodge

Toe die heuwels lang skaduwees begin gooi en die droë gras die wêreld met goud bedek, is ons op ‘n grondpad en klou die Corolla aan die rowwe klippe terwyl ek haar uit die slote en weg van die skerper klippe probeer hou. Ons klim al hoër tot die uitsig onder ons uitgestrek lê met forrel damme van bo tot onder aan die voet van die berg. Ce La Vi is die lodge waar ons bespreek het. Die lodge het plek vir omtrent 10 mense, maar oor dit ‘n stil naweek was het hulle dit vir ons gegee teen die normale tarief, al was dit net die twee van ons. Daar is ook ander akkomodasie op die plaas, maar ek beveel die lodge aan.
Ce La Vi
Dis teenaan ‘n redelike groot forrel dam en die omgewing is vrek mooi. Dit was al laat skemer toe ons daar aankom en ons het net afgepak en toe dadelik die lieflike kaggel aangesteek met die hout wat deur die lodge voorsien is. Na ek ‘n vleisie gebraai het, het ons nog hout op die kaggel gesit, rooiwyn geskink en ‘n fliek opgesit. Lekkerder kan mens nie kry nie. Ons is vroeg Sondag uit die vere om fotos in die goue uur net na sonnop te neem van die weerkaatsing van die koppies in die dam en van die eende wat in die water speel.
Na koffie en beskuit is ons terug Dullstroom toe. Vir middagete het ek gereken as mens in Dullstroom is moet jy soos die Dullstroomiane maak en toe by die ‘Old Transvaal Inn’ hulle forrel ontbyt probeer terwyl Estelle dit veilig gespeel het en weggelê het aan ‘n tradisionele boere ontbyt. Vol geëet, uitgerus, met nuwe lus vir die lewe en herhinderinge van ‘n baie lekker naweek het ek die meisie van die GPS gevra vir die pad huis toe en terwyl die ‘Parletones’ ‘Baby Be Mine’ deur die iPod sing vat die Corolla die teerpad terug Johies toe.

08 May 2009

Pofadder

Pofadders is groot, lui slange met dik lywe en gewoonlik minder as ‘n meter in lengte. Hulle kleur verskil van  mekaar maar wissel gewoonlik van grys to ligbruin met geel, wit en swart merke in 'zigzag'patrone. Die Pofadder het baie slagoffers omdat hy op sy kamoeflering staatmaak vir beskerming en dus nie sommer wegbeweeg wanneer iets hom benader nie. Dis dan ook hoekom daar gereeld op die slag getrap word. Sy gif is erg ‘Cytotoxic’, wat beteken dit val die selle aan. ‘n Byt van die slang is ‘n redelik ernstige mediese noodgeval. Dit kan ure vat voor die simptome begin ontwikkel. Die beste raad is om ‘n drukverband op te sit en die pasient na die naaste hospitaal te neem.
Hoe sit mens ‘n drukverband aan:
  •  Laat die slagoffer dadelik lê.
  • Pobeer om hom/haar te kalmeer en te laat ontspan.
  • Bly self kalm, daar sal genoeg tyd wees.
  • Gebruik ‘n verband om die arm of been wat gebyt is mee te verbind.
  • Begin by die plek waar die byt was en werk opwaarts.
  • Moet nie enige kledingstukke probeer uittrek nie, mens wil juis hê die slagoffer moet so min as moontlik beweeg anders versprei die gif vinniger.
  • Verbind die arm of been so styf soos wat mens dit vir ‘n geswikte enkel sou doen.
  • Stewig, maar nie so dat dit bloedsomloop afsny nie.
  • Mens dink gewoonlik jy moet 'n tou om die arm of been bind, maar 'n verband om die hele been of arm van die bytplek af boontoe is beter.
  • Voeg ‘n spalk by sodat die arm of been nie kan buig of beweeg nie.
  • Moet nie die byt area masseer of vryf nie.
  • Moet nie die verband afhaal todat jy by die hospitaal is nie.
Wat om nog te doen:
  • Maak ‘n nota van die tyd wat die byt gebeur het. Dit help dokters om die vordering van die gif te bepaal.
  • Verwyder ringe, horlosies, ens. want swelling kan daartoe lei dat sulke objekte groot pyn veroorsaak.
  • Hou die slagoffer so stil as moontlik en ry hospitaal toe. Met ‘n Kaapse Kobra wil jy so gou moontlik daar kom, maar andersins het jy bietjie tyd en is dit beter om veiliger te probeer ry.
  •  Onthou dat skok altyd teenwoordig is met slangbyte en dat dit amper gevaarliker is as die slanggif self. 
  • Probeer die slagoffer kalm hou.
Nou hoekom al die raad oor hoe om ‘n Pofadder se byt te hanteer? Wel, die storie begin so...Laasnaweek is ek en Estelle na die plaas in die Kalahari. Dit het onlangs baie gereën en toe het die Molopo vir die eerste keer in ‘n paar jaar afgekom. Die meeste water het alweer in die sand ingetrek, maar daar is steeds poele en klein dammetjies oral in die rivier en die gras in die rivier staan ongelooflik lank.
Ek en Estelle het die vorige dag lank in die rivier tussen ‘n klomp bossies weggekruip terwyl ons beurte gemaak het om fotos te neem van al die voëls wat by die poele kom water drink. So Sondagoggend besluit ons toe om dou-voor-dag op te staan en te gaan fotos neem. Ons het eers ‘n ent in die veld ingestap om twee aasvoëls wat lyk of hulle in ‘n boom wil broei af te neem. Ons het ook Koedoes gekry en ‘n paar lui tarentale op ‘n boomstomp afgeneem. Daarna is ons in die rigting van die dammetjie.
Ek reken ek sal so entjie van die dammetjie af net so effens in die bosse in trek sodat die voëls by die dammetjie ons nie hoor of gewaar nie. Ek klim toe uit om die tripod agter op die bak te kry en wag vir Estelle om te kom. ‘Is die dan nie ‘n Pofadder nie?’, vra sy vanuit die passasierskant van die Hilux. Sy het haar voet by die deur uit gesteek, oppad om uit te klim toe sy, vir wie-weet watter rede, kyk waar sy gaan trap. Dis toe dat sy die slang daar regonder haar voet sien lê en toe vinnig haar voet terugtrek.
Ek het agter op die Hilux gespring en gaan kyk en toe dadelik op haar geskreeu om haar deur, wat toe nog oop was, toe te slaan. Ek het myself wit geskrik en ek kry nou nog hoendervleis as ek dink wat kon gebeur het. Ons sê maar net dankie dat sy vir een of ander rede besluit het om eers te kyk voor sy uitgeklim het. As dit ek was, was dit ‘tickets’!
Molopo Rivier
Van al die 1000 hektaar of 10 000 vierkantemeter van die plaas het ek net mooi gaan stop presies langs die Pofadder en nie so dat hy voor of agter die bakkie is nie, maar reglangs die passasierkant se deur. Nadat ek ‘n foto geneem het, het die adder ewe lui onder die gras verdwyn, glad nie haastig nie.
Die Pofadder en die Swart Mamba is twee van die gevaarlikste slange en ek het hulle altwee nou al op die plaas gesien. Die eerstehulp behandeling vir altwee is soos hierbo beskryf, so Boedies, maak seker julle lees dit weer, want soos julle weet is daar nie enige hospitale naby die plaas nie.
Behalwe dat een van ons dit amper nie gemaak het nie, was die tydjie op die plaas weereens baie ontspanned en siende dat dit nou bietjie koeler is was daar ook minder goggas in die aande, en Estelle het dit baie waardeer. Dit genoem, Mila, jy sal nie bly wees om te hoor, dat ek die keer in die aand deur van daai vieslike spinnekoppe gebyt is en dat dit vir 3 dae aanmekaar gejeuk het dat dit klap nie. Hopelik gaan ons die jaar wanneer dit kouer is en dan behoort hulle ook minder te wees.
Pofadder noodhulp bron: www.seanthomas.net/oldsite/venom.html