30 January 2007

BNN: Bush Samesprekings


Boedie Nuus Netwerk:
Minister van aangewese sake, Adrian Montzinger en sy regter hand, Mej. Candice Brown het die week samesprekings gevoer met George Bush in pogings om hom te oorreed om sy lemoene te vat en sy troepe uit Irak te ontrek.

Hartenbos vakansie

Daar is nie veel dinge wat my 3 uur in die oggend uit die bed uitkry nie. Diaree is een van die die dinge, en die ander is om die lang pad see toe aan te durf. Gelukkig was dit hierdie keer laasgenoemde. My ma-hulle, ek en Suné is net voor 4 uur toe hier uit die Rosestad uit oppad na Hartenbos. Dit sal die eerste keer wees dat ek daar gaan vakansie hou. Ek was al saam met vriende daar maar net vir ‘n langnaweek in my studente jare. Ek het my daardie tyd toe al voorgeneem om weer ‘n vakansie hiernatoe te kom. My klein niggie en haar ouers is ook mal daaroor om elke Kersfees hulle karavaan te pak en te gaan kamp daar waar ‘n gaatjie oop is in die baie bedrywige Hartenbos omgewing. Hulle het al lankal vir my ma en pa gevra dat ons dan die afgelope Kersfees saam met hulle gaan vakansie hou.

Maar nie te min. Ons is toe hier uit Bloem uit weg nog voor die son behoorlik sy kop uitgesteek het. My ma-hulle is nogal mense wat daarvan hou om langs die pad te stop om na besienswaardighede te gaan kyk. Nie iets wat ek ge-erf het nie. Ek staan vroeg op om so gou as moontlik by die see te kom. Suné was nog nie by die Gariep Dam gewees nie, so dit was ons eerste besienswaardigheid vir die vakansie. Dit is ‘n groot spil water daar bymekaar. Dit lyk of daar ook lekker kampplek is, en ek sal graag een of ander tyd daar ‘n tent wil gaan opslaan. Dit is net voor Colesberg, so ook toe sommer die regte plek om ‘n vinnige koffie te maak en bestuurders te wissel.

Ons was gelukkig gewees en het ‘n paar donderwolke in die Karoo gevang. Dit het dinge darem aan die koel kant gehou. Toe ons deur die donderwolke is, het die aircon in my pa se groen wa die nodige verligting verskaf. Ons het op die N1 gehou tot in Beaufort-Wes en toe weggedraai Oudshoorn toe. In De Rust moes ons ook eers weer stop om ‘n koue koeldrank te koop en tot my ergernis deur ‘n paar winkeltjies te stap wat net goed verkoop wat mens op die “mantelpiece” van die kaggel pak. Julle weet, daai porselein beeldjies ens. Ek noem dit sommer kaggelk _ k.

Net anderkant de Rust tref jy die Swartberge (dink ek) en Meiringspoort. Daar weer gestop en die kronkelpaadjie opgestap tot by die yskoue waterpoele met die waterval wat hulle van helder bergstroom water voorsien. Steeds was dit nie ons laaste stop nie. Die aantrekkingskrag van die padstalle met al sy konfyte en vrugte uit die Klein-Karoo is veral vir my ma, net ‘n te groot versoeking om verby te ry. Die klomp vinknesse in die boom langs die padstal het my meer geïntriseer. Toe hou ek maar my lyf fotograaf.

Uiteindellik was al die padstalle agter die rug en was dit nog net die Outeniqua pas wat voor ons gelê het. Ons het sonder veel moeite by ons bestemming in Klein Brak uitgekom. Ons sou die volgende 2 weke in die in die onderte helfte van die huis bly van my ma se ou skoolvriendin. Klein Brak is ongeveer 10 km uit Hartenbos. Die familie het ook net buite Klein Brak gekamp oppad na Hartenbos. Dit het dit baie gerieflik gemaak om in die oggende gou daar by hulle te stop voor ons see toe gaan, of vir die aand se braai.

Ons het sommer al die eerste middag koers gekies see toe. Tot ons teleurstelling was die strand op Klein Brak gesluit weens Bloublasies. Ons het maar daar op die strand gelê en vir die branders gekyk. Maar dit was nie lank nie of die een Vrystater of Transvaler na die ander durf die branders aan. Na ‘n paar minute was almal maar aan die swem, Bloublasies of te not. Ons was geseën met heerlike weer. Ons het nie die sonskyn gemors nie en was elke dag tot na middagete op die strand. Wat ook lekker was op Hartenbos se strand was die ATKV en Huisgenoot se strandverhoog. Van 10 uur tot 14:00 was daar kunstenaars soos Amor, Theuns Jordaan en ander bekende Afrikaanse sangers om die mense te vermaak, met Idols en Mej. Bene en Mnr. Boepens kompitisies.
Heel lekker!! Almal was vasberade om sou gou as moontlik kleurtjie aan die lyf te kry.

Daar was ‘n paar dae wat die wind en weer ons nie heeltemal so goedgesind was nie, maar dit het ons die kans gegee om die omgewing te verken en ‘n deur die plaaslike mall te gaan loop. Ons het tot sover as Knysna gery. Die natuur so al langs die kus af is regtig asemrowend. Net anderkant Knysna was ons by die Tuin van Eden. Wandelpaaie lei jou deur die woud met die grootste en hoogste geelhoutbome wat jy in jou lewe gesien het! ‘n Mens dink ook onwillekeurig terug na Oupoot van Kringe in die Bos wat jy laas in matriek gelees het.

Kersdag was ons vroeg op om die eerste oggenddiens by te woon. Middagete het ons by die familie gaan braai, en rustig verkeer vir die res van die dag. Nuwejaar was egter ‘n ander storie. My niggie het ons saamgesleep Diaz strand toe op Mosselbaai. Daar was duisende mense wat die nuwejaar ingewag het op die strand. Daar was honderde gate gewees waar die mense in vuur gemaak en gesit en gekuier het. Daar was ‘n hele klomp wat nie die middernag uur gesien het nie. Dit was heerlik om Suné ‘n soen te gee terwyl ons kyk hoe vuurwerke die see en branders verlig.

Die laaste paar dae het heeltemal te vinnig verby gegaan. Ons het elke oomblik wat ons kon op die strand deurgebring net om seker te maak die tên lyk so goed as moontlik en soveel foto’s te neem as moontlik. Sommer ‘n paar tips vir ander amateur fotograwe. Onthou as jy foto’s op die strand neem, gebruik tog jou kamera se Beach Scene opsie vir die beste kwaliteit. Nog ‘n ding. Onthou om die lense gereeld skoon te maak. Dit raak net soos sonbril ook vuil, en dan is jou foto’s vol ligstrepe.

Ek soek nog na venote om ‘n stukkie grond tussen Klein Brak en Hartenbos te koop. Hartenbos Landgoed. Gaan kyk by http://www.hartenboslandgoed.co.za/. Laat my weet as julle belangstel. Dan besit ons ons eie stukkie paradys waar ons nog hope herhinneringe kan bou.

Mag almal ‘n geseënde 2007 beleef waarin al julle drome sal waar word. En wie weet, DV, kuier ons die einde van die jaar saam op Hartenbos!

26 January 2007

Holidays Des 2006

Die Roelands het die amptelike landswye vakansiebreek gejoin die Vrydag voor Kersfees. Ons het die pad Noorde toe gevat. Polokwane toe. Hope karre. Sommer baie hope bymekaar. Die indrukkery by die tolhekke was so erg dat toe ek weer sien toe is ek terug in Pretoria na ’n uur se ry. Polokwane, of Pietersburg - Ek het vergeet hoe warm dit daar word. Dankie tog vir die swembad. Luilekker dae is deurgebring in en om die swembad. Jy gaan swem as jy opstaan. Dan eet jy en die etery maak jou warm. Dan swem jy weer. Swem maak mens honger, so dan eet jy weer ’n stukkie. Eet maak jou weer warm. So het dit aangegaan.
’n Bose kringloop waarin ek enige tyd sal verval.

Kersfees is nie rerig my ding nie. Vir Will was dit egter ’n wonderervaring van ’n ander soort. Die ervaring om sy gesig dop te hou as hy sy geskenke oopgemaak het, kan geld nie koop nie. Veral toe hy sy nuwe groot trok oopgemaak het. Die ander geskenke is laat staan en alle aandag is toegespits op die nuwe ryding.
Terug by die huis vir Nuwejaar. Dankie tog 7de Laan het hulle rooi koeldrank, kinderkrans dans, partytjie “skouspel” laat staan vir Nuwejaar. As ek dit nog een keer moes kyk, dan het ek ’n episode van epidermiese proporsies gehad. Dis erger as die Puk Eerstejaarskonsert se swakste deelnemers. Ons het maar soos nat weeshuisbrode by die huis gesit en vuurwerke by die boonste venster uitgekyk.

Soos rum en raisin roomys, Wellington en Coke en McD’s Number 1 Medium kom alle goeie dinge ook tot ’n einde. Die vakansiegevoel het die eerste Maandag verdwyn soos die mis op die N4 anderkant Witbank as dit 11 uur die oggend is. Terug by die werk. Same old, same old. Honderde e-mails om te deur te gaan. Die meeste was in elk geval junk. Terug by die deadlines, due dates en tasks om te complete. 2007 is die jaar wat die dinge moet gebeur. Verandering is goed.

23 January 2007

RUGBY ERVARING!

Saterdag die 20 Januarie het ek en Candice se pa die opwarmingswedstryd tussen die Stormers en die Boland gaan kyk. Ek is 'n groot Stormer fan en ek mis nie sommer 'n geleentheid om die manne van die Kaap te gaan ondersteun nie. Wel die hoofwedstryd was veronderstel om 18:00 te begin. Ek en die skoonpa besluit toe ons sal so teen 17:00 se kant daar opdaag aangesien ons 'n "lekker" sitplek wil verseker. Wel tot ons ontnugtering besef ons, toe ons by die veld opdaag, dat die hele Bolandstreek se mense het besluit om te kom rugby kyk. Daar was baie mense. Daar was nie 'n plek vir 'n muis nie. Wat dit nog meer chaoties gemaak het was die feit dat almal dieselfde prys betaal het, so jy kon sit waar jy wil. Om 'n idee te gee van onverwags baie mense daar was: Die koeldrank stalletjies was twee keer leeg verkoop voordat die hoofwedstryd begin het. Die kosstalletjies het ook vroeg al hul deure gesluit. Swak organisasie.
Die stadium was egter nie een wat ontwerp was vir so 'n groot skare nie. Al die ander beter toegeruste stadiums was beset vir opgradering, so dit was die beste wat hul kon doen.
In die einde was dit nogsteeds die moeite werd. Ek moes egter vir 80 minute lank op my twee bene staan. Die wedstryd self was 'n "one way traffic". Die Stormers lyk, soos elke jaar, goed agterlangs, maar hul forwards gaan in die vaste los sukkel. Ek hou maar duim vas.


Dit was ook 'n geleentheid vir my en die aanstaande skoonpa om bietjie te "bond". Hy is nie 'n slegte ou nie. Daar is wel sekere goed wat my krap, maar gelukkig trou ek nie met hom nie. Die aanduiding was darem dat hy dit geniet het. Wel dit was die hoogwatermerk van enige opwinding in my naweek.

(Indien die foto kwaliteit nie goed is nie, vra ek verskoning, het dit met my selfoon geneem!)
NUWE JAARS PARTY!

Wel ek weet dit is bietjie laat, maar ek belowe nou al vir 'n geruime tyd dat ek die foto's van party sal post. Ek en Candice was genooi gewees vir 'n Nuwe Jaar's party daar in die pragtige omgewing van Noordhoek. Willem Breedt het saamgegaan. Die tema was: NIGHT AT THE OSCARS: YOUR FAVOURITE MOVIE CHARACTER. Ek was Zorro, Candice was Zorro se dame en Willem Breedt was Vin Diesel. Daar was ook Kill Bill, The Matrix, 'n Seerower, die prinses van Star Wars, Scream, Tomb Raider asook Charlies Angels. Was 'n lekker tydjie. Die nuwe jaar het dus nie te sleg begin nie. Ons het presies 12 uur die tradisionele sjampanje gedrink en daarna net gekuier. Die girls wou net he dat Willem sy hemp moet uittrek om sy Vind Diesel spiere te wys. Elkgeval die foto's spreek vansself.

Willem wou seker maak die mense weet wie hy is. As ek sulke spiere gehad het sou ek nie my mond oopgemaak het nie. Die mense behoort te weet dat jy lyk net so as Vin Diesel jou "HERO" is.
Hier is Zorro saam met 'n paar ander karakters. Tomb Raider het nogal na aan die ware Jakob gelyk!

Natuurlik was Scream ook daar, maar soos julle kan sien het hy bietjie te diep in die bottel gekyk, so niemand was regtig bang vir hom, want hy was meer happy as enige iets anders, O JA, hy het plastiek mes gehad. BORING!!

Wel dit is maar slegs 'n paar foto's om die gees van die geleentheid te probeer oordra. Dit was lekker gewees. Altyd goed om die nuwe jaar in te gaan met vriende rondom jou. Ek is nie regtig 'n groot aanhanger van die nuwe jaar ding nie, maar die idee is nice en solank die idee nice is veronderstel ek kan jy dit maar net sowel op 'n nice manier doen, saam met baie nice mense. Ek het dit geniet. Ek kan nie wag om sien hoe ek 2008 gaan binnegaan nie.

20 January 2007

BNN: Osama

Boedie Nuus Netwerk:
Lede van die Boedies gesien saam met Osama in sy nuutste video op BNN.




11 January 2007

WESKUS ERVARING!

Ek en Candice het besluit om te gaan vakansie hou en die Wes-kus te besoek. Die Wes-Kus is nie normaalweg 'n gewilde bestemming nie, maar dit hou vir my 'n sekere diep gewortelde, amper 'n onbeskryfbare bekoring in. Ek hou van die ongerepte dele van die natuur waar geen mens nog sy hand aangesit het nie. Jy waardeer dit soveel meer want jy weet dit is nog nie besoedel deur een of ander menslike selfsug nie. Dit was heel lekker gewees. Ons het die Opel Corsa bakkie gepak met 'n tent, en maar gehoop ons sal iewers 'n plekker kry waar ons dit kon staanmaak. Wel die eerste aand het ons nie 'n plek gekry nie en moes ons maar in 'n gaste huis, wat teenaan 'n begraafplaas gelee is, slaap.

Die volgende oggend vroeg is ons weg en het 'n tannie ons jammer gekry in Strandfontein en het ons die tentjie daar opgeslaan. Dit was nice. Net ons twee alleen. Geen stres, geen werk, geen kinders, geen probleme. Net ons twee, die see die ongenadiglike warm son.
Die twee aande daar was fantasties. Ons het langs die strand gaan stap. Rustig gewees en net kwaliteit tyd spandeer. Het een aand by die gewilde opelug restaurant, DIE MUISBOSSKERM, te Lambertbaai gaan eet. Die moeite werd, sal dit aanraai.


Wel die tydjie het gekom en gegaan. Die breuk was heel aangenaam gewees. Dit was 'n tyd vir na betraging oor die tyd wat verby is. Daar was ook besin oor wat voorle en was die konklusie dat die toekoms vol moontlikhede en opwindende geleenthede is.


En alhoewel die son gesak het oor hierdie kort tydjie saam is ons daarvan oortuig dat daar nog baie sulke geleenthede gaan wees. Ek sien uit na nog baie jare van vakansies en onvergeetbare tye saam met Candice en wie weet dalk my eie kroos na 'n paar jaar. Dit was Adrian en Candice se Weskus ervaring.

Krieket by nuwe land!

Gedurende November het ek Willem Breedt gaan krieket by Nuweland. Willem is 'n vriend wat in dieselfde koshuis was en het ook saam op die Huiskomitee gedien. Willem werk nou in die Kaap. Ons het toe besluit om te gaan kyk hoe Suid Afrika die Indiers 'n krieket les of twee gee. Dit was fantasties. Daar is niks so lekker soos 'n lewendige groot sportgebeurtenis nie. Net jammer jy kan nie elke oomblik daarvan vasvat in video formaat in jou kop nie. Daar gebeur so baie dat jy net nie kan bybly nie. Dit was 'n "shaky" begin deur Suid-Afrika, maar uiteindelik het Justin Kemp ons gered met een van sy beste beurte tot dusver in Groen en Goud.




Dit was baie lekker gewees en Nuweland gaan nog baie van ons sien in die toekoms.
Dit was my eerste keer op Nuweland se krieketstadium as 'n toeskouer. Die bier het nogal lekker gevloei en die tyd asook die krieket skuif so nou en dan op die agtergrond met al die dinge wat rondom jou gebeur.



10 January 2007

BNN: Saddam


Boedie Nuus Netwerk:
Foto van boedies se laaste brannas saam met ou Saddam.


08 January 2007

Welkom by die amptelike blog van die BOEDIES

Die BOEDIES is ‘n BOND wat ontstaan het gedurende die laat 1999’s en vroeë 2000’s. Op daardie stadium was die idée slegs ‘n droom. Die droom het ‘n werklikheid geword met die passie en dryf wat Stefan le Roux aan die dag gelê het. Die behoefte aan ‘n tipe onvlugtingsmeganisme is geindentifiseer en was die slotsom dat daar iets daadwerkliks aan gedoen moet word. Die droom van die BOEDIES het toe ‘n werklikheid geword. Die BOEDIES sou ‘n BOND wees wat heeltemal divers in sy benadering sou wees, waar jongmanne kon saamkuier en gesels oor die dinge van die lewe, waar daar saam op jagtrippe gegaan kan word en daar tot in die middernagtelike ure gekuier en gesels kan word, waar jy jou hart geheime kan deel en verseker wees dat niemand anders dit ooit sal weet nie, waar elke lid se belange tenvolle op die hart gedra word en waar sport en vrouens prioriteit is, of is dit nou andersom? Voorwaar ‘n organisasie na ‘n man se hart.

Die BOEDIES bestaan nou al vir meer as 5 jaar en wag daar nog baie avonture vir sy lede. Alles wat ervaar is die afgelope jare is ongelukkig te veel om hier saam te vat. Die toekomstige gebeurtenisse, interresanthede en stories sal egter hier vertel word vir ander om deel van hierdie wonderlike ervaring te wees. Voorwaar ‘n nuwe dimensie in die evolusie van die BOEDIES.

HIER IS DIE LEDE:

STEFAN LE ROUX

’n Engel het een aand by Stefan se ma tussen die koöperasie se rakke verskyn en gesê: „Jy sal ‚n seun in die wêreld bring en hy sal sukkel en hulle sal hom Stefan noem.” 9 Maande later is Stefan gebore, gedurende 1979. Hy is die oudste van twee kinders. Die eerste asemteug wat hy inasem is die koel onbesoedelde beesmis reuk van die klein dorpie in die Noord-Wes provinsie met die naam: Stella. (As gevolg hiervan het Stefan dan ook die Boedie naam van STELLA ontvang.) Hy matrikuleer aan die Hoërskool Stella en besluit om homself te straf deur rekenaarprogrammering by Potchefstroom Universiteit te studeer. Gedurende skool is hy ‘n kranige sportman. Hy het NSUklere in rugby gekry. Hy was ook in die skoolkoor, maar het nooit regtig gesing nie. Daar moes ‘n sekere getal matrieks in die skoolkoor wees. Op Universiteit het hy ook nie sleg gedoen nie. Hy het sy rekenaarprogrameringsgraad in die minimum tydperk cum laude voltooi. Hy het daarna sy Honeurs ook cum laude voltooi. Hy het die liefde van sy lewe ontmoet op universiteit en vandag is hy gelukkig getroud met Estelle Jacobs. Hy werk huidiglik vir ‘n maatskappy wat grootskaalse programering doen vir van die top maatskappye in Suid-Afrika. Stella moet ook krediet ontvang vir die feit dat hy die BOEDIE organisasie basies van die grond af gekry het. Voorwaar die brein in die organisasie.

S. W. ROELAND

Mnr Roeland is gebore gedurende die koue droë wintermaande van 1979 in die nie pragtige dorpie met die naam Polokwane. Gedurende die goeie ou dae was dit egter nog Pietersburg. Hy is die tweede oudste van drie kinders. Die afkorting S. W. verteenwoordig sy volle name: Schalk Willem. Hy is egter net aanvaar deur die BOEDIES as SW. Hy het tot en met die ouderdom van 18 jaar al sy somers gespandeer in die bloedige warm son van die lae veld en gaan nogsteeds gereeld terug om die lang somersdae te trotseer en om die pragtige sterrehemel waarmee die laeveld se uitspansel jou mee trakteer te aanskou (nie regtig nie). Hy het op skool goed gedoen. Weet nie lekker watter goed nie, maar hy het goed gedoen soos krieket en rugby speel. Hy was ‘n kranige losskakel op laerskool, maar op Hoërskool moes hy die waarheid trotseer dat hy nooit ‘n rugbyspeler sal wees nie. Hy het toe sy aandag gevestig op krieket. Hierin het hy baie prestasies behaal. Hy is ‘n kranige krieketspeler en het hulle baie trofee’s gewen terwyl hy in die span was en het hy self provinsiale klere verwerf met sy talente. Hy het matriek met ‘n vrystelling geslaag en is Potchefstroom toe om Ekonomie te studeer. Hy het sy graad in die voorgeskrewe tydperk klaargemaak en het ook sy Honeurs voltooi. Hy het ook die koshuiskrieketspan baie suksesvol aangevoer tydens sy tyd in die koshuis. Hy het ook die liefde van sy lewe ontmoet op universiteit en is hy vandag gelukkig getroud met Elzna en is hy die trotse vader van ‘n pragtige blou oog seuntjie met die naam Will wat op ‘n druppel water soos sy pa lyk.

EMILE LANGEVELD

Emile Langeveld is ‘n kind van die Vrystaat. Hy het gedurende die lang koue droë wintermaande van 1979 sy eerste koue asemteug ingeasem en het tot vandag toe ‘n sagte plekkie vir die Staat wat vry is. Hy het sy kinderdae in die lang uitgerekte vlaktes van die Vrystaat gespandeer. Meer spesifiek het hy in Kroonstad grootgeword. Hy was in Rooies gewees. Daar is geen groter gebeurtenis op die kalender van Kroonstadders as die interskole tussen Bloues en Rooies nie. Hy was ‘n kranige losskakel op skool en het al goeie vertonings gelewer veral met interskole (Die laaste wedstryd wat hy egter opgedraf het was Rooies ongelukkig aan die verloorkant). Hy het ook vir Rooies in krieket verteenwoordig. Sy ballskills staan dus vir niemand terug nie. Hy het matriek geslaag met ‘n universiteitsvrytelling. Hy besluit toe om Biokinetika te bestudeer. Hy het sy graad toe in die minimum tydperk klaargemaak en besluit om sy Honeurs te doen. Sy honeurs het hy cum laude gevoltooi. Hy het baie geliefdes op universiteit ontmoet, maar nie een was die liefde van sy lewe nie, maar wel later in sy loopbaan. Sy is natuurlik ‘n vrystaatnooi wat sy diep gewortelde passie natuurlik onderstreep. Haar naam is Sune en hoop ons dat haar van binnekort Langeveld sal wees. Hy is tans werkagtig in Bloemies en is hy ‘n passievolle Cheetah ondersteuner.

ADRIAN MONTZINGER

Adrian Montzinger het sy verskyning op moeder aarde gemaak in die vroeë oggendure van ‘n koue wintersoggend met die gerustellende geluid van ‘n sagte motreën in die kaapse winter van 1980. Vanaf die ouderdom van 3 jaar oud het egter besluit om die res van sy winters en somers in die meer droë winters van die Hantam streek te spandeer. Die dorpie se naam is Calvinia. Hierdie dorpie is skilderagtig in elke opsig. Hy het gematrikuleer aan Hantam Hoërskool en was ‘n allrounder wat sport betref. Het bietjie atletiek, rugby en krieket gedoen maar nooit provinsiale klere in een van die sportsoorte verwerf nie. Hy was een van twee leerlinge wat vrygestel was aan die einde van matriek en besluit toe om regte te bestudeer aan die Potchefstoomse Universiteit net omdat hy nie regtig wiskunde kon doen nie. Hy het sy graad voltooi in die maksimum tydperk aan die universiteit en gedurende hierdie tydperk homself bewys as ‘n persoon met leierseienskappe deur op verskeie leierskap strukture te dien. Hy is die eerste gegradueerde in die familie. Hy het die liefde van sy lewe ontmoet gedurende universiteit nadat hulle in Zimbabwe mekaar die eerste keer gesien het. Hulle is nogsteeds saam en behoort die trouklokke ook binnekort geluide te maak. Hy is toegelaat as prokureur gedurende 2005 en praktiseer tans in die pragtige wynland streek in ‘n dorpie met die naam Paarl. Attie se toetrede tot die Boedies het ook 'n onmisbare rol gespeel in die verkryging van die Boedies se BEE status.