Nou sien ek die trop mooi deur die teleskoop. Ek kyk vir 'n ram, maar sien niks. Daar is 'n mooi ooi. Sy staan met haar kop skuins weg van my af. Ek dink by myself: "Ek gaan op jou aanlê". Ek herhaal Stefan se raad van vroeër in die dag: "Wanneer jy 'n bok skiet wat nie mooi in visier is nie, mik dan bietjie meer vorentoe, maar hoofsaaklik steeds in die omgewing van die hart". "Jy kan nie mis nie, hierdie is maklik", motiveer ek myself. Ek bring die geweer stadig in posisie. Die bok is mooi in visier. Die volgende oomblik word ek tot my sinne geroep deur die oorverdowende geluid van die geweer, soos die skoot afgaan. "Is dit raak?", vra ek aan niemand in besonder nie. "Jong Adrian dit het vir my raak geklink", hoor ek Stefan se stem. Die gids is reeds op en begin hardloop in die rigting van die trop. Ek maak die geweer veilig en ons gaan kyk.
Na 'n tydjie se gesoek kry ons die Rooibok lê tussen die bosse. My eerste skoot op 'n rooibok was suksesvol. Die minder lekker deel was die eet van die bok se lewer.
Inleidende paragrawe is 'n uittreksel uit 'n lekker jagnaweek wat ek saam met ouens van die werk beleef het. Vir 'n week in Junie het ek, PJ Vlok, Stefan Swanepoel en Jacques Cornelius weggebreek en besluit om 'n paar bokke te gaan skiet. Een te word met die natuur en om 'n bier te drink om 'n braaivleisvuur onder 'n sterrehemel in die Laeveld. Stefan Badenhorst en Wilhelm Jonker het ons ook vir twee dae van die jag vergesel.
Ons het die Sondagoggend vertrek met PJse vliegtuig (PKW). Dit was maar 'n 6 seater Cessna, maar dit het die werk gedoen. Die vlug was omtrent 4 ure. Na 2 ure het ons pitstop gevat en 'n "koerantwors" (Wors wat jy in koerant braai) gebraai. Hierbo bekyk Stefan en PJ die word om te oordeel of dit gaar is of nie. Dit het die energie vlakke weer opgestoot en voordat die kos behoorlik gesak het was ons alweer in die lug oppad Thabazimbi toe.
Daar aangekom het die res van die week maar redelik dieselfde verloop. In die oggend sewe uur opgestaan, gewere gevat en gaan stap. Teen 11 uur die oggend was ons terug en dan het die manne wat op "kosdiens" was die middagete voorberei. Daarna 'n vinnige middagslapie en teen 3 uur was ons weer in die veld, te voet, om wild te soek. Teen 6 uur die aand was dit al donker en dan het ons maar weer so stuk stuk by die kamp aangekom.
Die aande word afgesluit deur 'n lekker aanddis en paar biere en strafdoppe vir enige misskote deur die dag. Die raakskoot stories word bietjie aangepas om beter te klink en almal gesels lekker. Soms is almal doodstil en dan gesels die vlamme in die agtergrond, die aandgeluide herinner jou heeltyd waar jy werklik is en jy waardeer die nostalgie om deel te wees van so 'n geleentheid. Op sommige aande het PJ en Stefan ons getrakteer met hulle kitaarspeel vernuf en sangtalent. Nie sleg nie. Ek het probeer bydra met my ondervinding wat ek opgetel het by "THE QUEST", maar nie so goed byklank gevind nie.