10 January 2010

Boedie in Switzerland, Duitsland en Frankryk

As deel van my werk moet ek gereeld Duitsland toe om te gaan kyk na die vordering van die sagteware pakket wat deelmaak van ons pyplyn projek Siende dat ons halfpad om die wêreld moet vlieg om in Europa te kom, beplan ons altyd om naweke darem iets te sien en die keer was dit ook nie anders nie.



Jungfraujoch


Soos baie van julle seker reeds weet, het Switserland onlangs eers deel geraak van die Schengen Ooreenkoms, waaraan baie ander lande soos Duitsland, Frankryk, Begie, Oostenryk en nog 'n hele klomp ander in Europa behoort. Dit beteken dat hulle hulle grense oop gemaak het vir ander lede wat aan die ooreenkoms behoort en hulle het weggedoen met die paspoort beheer op hulle grense met die lande. Wat dit vir ons beteken is dat ons nou vir die eerste keer met ons Schengen Visums van Duitsland af Switserland kon binne gaan.

[Kleine Scheidegg Stasie]

Ons het ook nie op ons laat wag nie en die eerste geleentheid wat ons gehad het om te gaan het ons ons planne opgelyn. Ons het ons huiswerk op die internet gedoen, want om van die Switsers se snelweg gebruik te kon maak moes ons 'n plakker teen ons voorruit hê wat bewys dat ons die nodige tolgeld betaal het. Die plakker is geldig vir 'n jaar en al sou ons net vir 'n dag in en uit Switserland wees, moes ons die volle bedrag betaal. Dit was so €24 wat rofweg omtrent R264 was en mens kan dit of op die grens koop of by enige petrolstasie in Switserland.


View Larger Map


Ons het die huurkar se GPS gevolg deur Basel en toe Oos na Grindelwald. Grindelwald is 'n klein dorpie in die Alpe vanwaar mens 'n trein kan vat wat mens deur Kleine Scheidegg tot by Jungfraujoch teen die berg op neem. By die Kleine Scheidegg stasie klim mens oor na 'n ander trein wat deur tonnels al langs die berg uit klim om mens tot by die Jungfraujoch, die hoogste treinstasie in Europa, te bring. Mens kan ook stap, maar dis nie die tipe van stap soos die wat mens in die Drakensbege doen nie, hier moet jy jou storie ken. In die winter is die sneeu dik van Grindelwald boontoe.


Die Alpe is ongelooflik, selfs meer so vir ons Suid Afrikaners wat nie sneeu ken nie. Regtig 'n winter sprokies wêreld en elke foto is 'n poskaart.Bo op die berg kan mens vir kilometers vêr sien en kan mens kyk hoe die gletsers teen die berg afloop. Die vars koue lig is verfrissend, maar omdat mens so vinnig tot by 3471 meter bo seevlak styg kan mens moontlik "altitude sickness" kry, maar siende dat ons nie vir langer as ses ure daar bo sou wees nie was ons redelik veilig.



Die stelsel werk op die oomblik bietjie vreemd, siende dat hulle onlangs eers oorgeskakel het van Switserse Frank na Euros. Mens kan met Euro note betaal, maar hulle vat nie graag munte nie. Die pryse is meestal nog in Switserse Frank gemerk en al betaal jy met Euros kry jy jou kleingeld in Switserse Frank, wat help as jy munte nodig het vir die parkeermeters wat nog net Switserse Frank vat. Wat ookal jy vat, maak seker jy het genoeg vir 'n lekker beker warm sjokolade, want na die koue op die berg sal jy jou eersgeboore reg daarvoor gee, maar ook vir die romerige wortelsop wat hulle in die vrek duur restaurant verkoop. Die lekkerste wortelsop wat ek nog geëet het.

Freiburgh

Die tweede naweek in Duitsland het ek saam met 'n kollega en sy meisie 'n trein gevang na Freiburg. Daar was 'n sokkerwedstryd aan die Saterdag en die RE of "Regional Express" was oorvol. Mense het in die gange en teen die trappe in die trein gestaan en dit was moeilik om sitplek te kry. As die ICE (InterCity Express) verby jaag skrik ek elke keer my as af want dis ongelooflik hoe vinnig hy verby kom.

[Freiburg Münster]

In Frieburg het ons na die Freiburg Münster gaan kyk. Dis 'n baie ou katedraal wat in 1120 begin is en in 1827 'n  katedraal geword het. Die ou kerke het 'n baie interessante geskiedenis, soos byvoorbeeld dat 'n katedraal of eerder 'n katedraalkerk verwys na 'n biskopskerk waarin die stoel van die biskop 'n prominente plek inneem.



Na nog 'n lekker warm sjokolade het ons deur die dorpie se kersmark geloop voor ons teen die Schlossberg uit is. Dis 'n stewige stap teen 'n heuwel uit en daarna nog 'n moordende stel trappe op teen 'n toring van waar mens oor die hele dorpie kan uitkyk. Op die hoogte is dit baie koud en op die boonste trappe van die toring het daar oral sneeu saamgepak. Freiburg is veral bekend vir sy omgewingsvriendelike praktyke en die inwoners is veral trots hierop. Oral deur die dorp is daar water voortjies wat Bächle genoem word en in vroëer jare gebruik is om water te voorsien vir brandbestryding en vir die diere. In die Somer maak die water die lug koel en is daar altyd die kalmerende geluid van lopende water. Daar word ook gesê dat as jy per ongeluk in een van die watervoortjies trap jy met 'n Freiburger sal trou.

[Kersmark]


Strasbourg


Sondagoggend het Aidee, 'n meisie wat vir die Duitse deel van ons maatskappy werk en haar man ons genooi om saam met hulle Strasbourg toe te gaan vir die dag. Dit was 'n baie lekker oggend en vir 'n verandering het die son geskyn. In Strasboug was ek baie opgewonde om die katedraal van ons geliefde dame (Engels: Cathedral of Our Lady Frans: Cathédrale Notre-Dame-de-Strasbourg) te besoek. (Dame verwys hier na die Maagd Maria). Al is groot dele van die Roomskatolieke kerk in die romaanse boustyl gebou word dit beskou as een van die beste voorbeelde van die laat gotiese (Gothic) boustyl. Van 1647 tot 1874 was dit die hoogste gebou in die wêreld en vandag is dit die 6de hoogste kerk in die wêreld. Sy is 'n betowerende gebou. Binne in is sy unorm en mens raak sommer dadelik stil en kry daai gevoel van respek wat mens kry as jy in 'n kerk ingaan. Dis regtig die mooiste kerk waarin ek nog was en ek het gewens ek kon 'n dien in so 'n kerk bywoon. Die glaswerk is ook iets besonders en ek kan nie die atmosfeer beskryf nie, maar dis definitief iets Heiligs. 

[Strasboug Katedraal]


Die res van die dag het ons deur Strasboug gestap, die kersmark besoek en toe by 'n klein Franse koffie winkel gaan sit vir koffie en Flammkuchen (Frans: tarte flambèe), 'n tipe pizza waarvan die deeg amper gebrand het in die houtvuur oond. Anders, maar lekker. Hier het ek en Aidee se man, ook Stefan, en 'n duitser, baie lekker gesels oor alles van die ekonomie, die ressesie, globale verwarming, omgewingsvriendelike energie tot die wêreld se waterbronne en die uitvoer van voedsel uit Afrika na Europa. Seker oor ons dieselfde naam het dat ons so goed oor die weg gekom het, siende dat ek hom net die oggend ontmoet het.



[Katedraal van binne]


Vrydagaand na werk is ek op die tram terug na die Hotel in Karlsruhe en dit het saggies begin sneeu. Later die aand het ek 'n laaste draai by die kersmark gemaak en kon voel dat dit heelwat kouer geraak het. Dievolgende oggend was Karlsruhe wit van die sneeu. Oppad lughawe toe het ons in Heidelberg gestop en daar rondgeloop, maar dit was -15 grade Celcuis en ons kon nie lank buite rondloop nie. Ons is ook net betyds uit Europa uit, want op die volgende week was die nuus vol van stories oor mense wat op lughawens en trainstasies gestrand is deur een van Europa se koudste winters in die afgelope paar jaar.

06 January 2010

Vakansie!!!

Dit was 'n dol jaar gewees en die Desembervakansie kon nie vinnig genoeg kom nie!

Eerste aan die beurt was om te kamp by Orania en die Oranjerivier. Ek en Suné het ons tent hier maak staan om 5 nagte hier op die oewer by Aan-die-Oewer te kamp. Dit is die eerste keer dat ons so lank sou kamp, dat ons kan sien wat ons moet aanpas as ons eendag 'n oordentlike kamp by die see wil doen. Die grootste prioriteit was hier om te rus en nuwe krag na die jaar wat verby is. Visvang werk altyd vir my. Die Geelvisse het aanhoudend gebyt en alhoewel hulle maar klein was het ek darem so paar uitgetrek wat darem al begin kleur kry het. Dit was die eerste keer dat ek die grootte van die spesie kon vang.

Die res van die tyd was in beslag geneem deur boeklees en middagslapies onder die gazebo. Jy durf nie in die son gevang word nie, want dit is vrek warm. Al klagte wat ek het teen die oord is dat daar nog nie 'n swembad is nie. As die hitte te erg geword het, het ek sommer in die rivier gespring om vinnig af te koel. Ek het nie te lank gedraai in die water nie, want ek het 'n paar groot likkewane al daar gewaar. Gelukkig lyk hulle net so bang vir my soos ek vir hulle.

Aan-die-Oewer is 'n klein oord, seker net 8 - 10 staanplekke, met lieflike gras en skoon ablusie. Die restaurant en kroeg wat 'n pragtige uitsig het oor die rivier is ook geopen terwyl ons daar was. Suné het haar self gaan bederf by die baie mooi spa wat geensins hoef terug te staan vir enige mededinger in die stad nie. Die beste van die oord was die groot ou yskas/vrieskas wat vir kampeerders beskikbaar is. Dit het ons bas gered. Coleman kan nou maar sê wat hulle wil, maar in die Karoo bly die ys nie geys in hulle Extreme Coolbox nie.
Ons het ook 'n kayak gehuur om die Oranje te gaan verken. Daar is ook toere van die dorp aangebied, maar ons het te warm gekry om die skadu van ons gazebo te verlaat. Die geskiedenis van die dorp is baie intressant, maar sy voorkoms kort dringend aandag. Dit lyk maar armoedig en alles lyk verouderd en bouvallig. Die vakansieoord is die dorp se grootste trekpleiter. Die dorp se bestuur het ook 'n groot Pekaneutplantasie begin, wat 'n inkomste vir die gemeenskap kan genereer, maar ek is nie seker of produksie al moontlik is nie.
Lekker gekamp met lekker weer is ons so met 'n gepakte Mampoer (my wit Corolla) Hennenman toe vir Krismis. 'n Paar dae voor die 25ste daar aangekom is dit sommer dadelik aan die werk om skoon te maak, koekies te bak, tuisgemaakte klappers en tafelversierings, alles gemaak te kry. Daar was klomp familie. Suné se ouma en oupa en tannies van oor die land, my ma en pa en my aanstaande swaer. Dit was sommer 'n bring en braai by mooi gedekte tafels. Lekker gekuier en te veel geëet. Inderdaad 'n Geseënde Kersfees.

Twee dae later pak ons weer vir Mampoer. Volgende bestemming, Allemanskraaldam (of beter bekend sommer as Aldam). Die tent het ons maak staan in rekord tyd. Eers gou gaan afkoel by die swembad voor die hengel weer begin. Izak het vir hom 'n paddle ski gekoop waarmee ons die lyne lekker diep kan inroei tot daar waar die groottes bly. Die dag verloop sonder 'n byt, en dit is net voor ons oppak om tent toe te gaan toe Izak 'n lekker vet karp uittrek. Ek was toe vasbeslote om dievolgende dag sy voorbeeld te volg. Ek en die paddle ski het nie lekker saamgewerk nie. In 'n sterk wind het ek in die middel van die dam afgeval en gespook om die ding weer op sy regte kant te kry en te keer dat die spaan nie sink nie. Na wat gevoel het soos 'n ewigheid het ek weer my voete aan wal gesit. Ek het die roeiery maar vir Izak gelos. Hy het weer
'n lekker groot karp uitgetrek, maar ek het maar beluit om te hou by die gooi manier.

Ek het darem weer 'n nuwe rekord gekry deur my grootste Onderbek te vang. So ver my kennis strek word die visse nie baie groot nie, en moes die ene baie naby aan uitgegroei gewees het. Ons het nie baie byte gekry nie, maar as iets gebyt het, was dit nogal groot. Ek het nog sukses gehad. Ek het 'n baber gevang wat aan tuinslakke gebyt het. My eerste een in jare en weereens my grootste. Om te dink die ou kan nog tot drie keer groter word! Die meneer het 'n lekker geveg opgesit en ek het 10 - 15 minute gevat voordat ons hom in die skepnet gehad het.
As die viswater te warm begin word het, het ons eers gaan swem en supertube gery totdat die ergste hitte van die dag verby is. Suné se ma en pa is huistoe, maar die kinders kon nog 'n aand oorslaap. Ons het lekker gebraai en gekuier daai aand, terwyl ons droom oor ons 4x4's en Conqueror sleepwaens wat ons gaan koop. Die kampatmosfeer was hier baie anders. Hier was seker 'n 100 staanplekke, met kinders wat in die strate op en af jaag met hulle nuwe kersgeskenke wat fietse, elktriese karretjies met liggies in die wiele en Snake boards (tipe van skate boards) insluit. Dit was besig maar 'n ander lekker.
Ons laaste dag het ek weer 'n lekker groot vis gevang. Ek is nie seker van die spesie nie en sal hulp om die knewel te identifiseer baie waardeer.
Wat baie intressant was, was dat die een gebyt en op 2 slakke en 2 stukke gebraaide skaaptjop wat ek gebruik het om die hoek toe te maak, aangesien ons nie nog slakke gehad het nie. Nie gedink daar sal iets van kom nie, maar dit was toe meer effektief as wat ek gedink het.
Hierna was ons Kroonstad toe om oor nuwejaar by my ma-hulle te kuier. Hier was ons weer rustig en het te veel geëet. Nuwejaar het die mense my met hulle klappers wakker geskiet. Dit sal nie weer hierdie jaar gebeur nie. Ons het lekker gekuier maar dit was ook lekker dat ek en Suné die laaste week van die vakansie net by ons huis kan wees.

Ek het al mense hoor se dat hulle moeg is vir vakansie en nie kan wag om weer by die werk te kom nie. Ek het nog nooit so gevoel nie!