19 October 2009

Clarens toe

Die Vrystaat is bekend vir sy vlaktes. Dit is veral sigbaar as jy vanaf Bloem na die noordelike dele van die provinsie beweeg. Maar draai nou net jou motor se neus in ‘n oostelike rigting, en die Vrystaat verruil sy uitgestrekte grasvelde vir koppies wat sommer vinnig al hoe hoër duin hoe verder jy ry. Net sowat ‘n halfuur buite Bloem het die landskap al klaar vir Suné aan die Kaapse wynlande laat dink. Ons het verby Ladybrand, Clocolaan, Ficksburg en Fouriesburg gery met die majestieuse Maluti’s wat in die agtergrond in die Bergkoningkryk van Lesotho vir ons wink.

Die pragtige omgewing het die pad sommer baie korter gemaak en toe ons ons oë uitvee lê die juweel van die Oos-Vrystaat, Clarens, voor ons. Die dorpie was al klaar ‘n miernes van bedrywigheid, want Mini (die karretjie) het ook die naweek gekies om hulle 50ste verjaarsdag partytjie hier te hou.

Ons het die naweek by Cottage Pie gastehuis gebly. Oulike plekke teen die berg in Clarens. Dit was lekker om na die lang sit ‘n lekker koffie te maak en dit op die swaaibank te geniet en te wonder of hier nie tog ‘n paar kabouters in die bos wegkruip nie. Dit was wonderlik stil gewees. Al wat jy hoor in die duiwe wat koer, mossies was kwetter en ‘n Piet-my-vrou wat roep terwwyl almal nesskrop vir die aand.

Ek en Sune is toe dorp toe om ietsie te gaan eet. Ons het toe besluit op ‘n pizza by die Pizzeria. ‘n Oulike restaurant wat spesialiseer in pizza. Jy kies ‘n standaard basis en jou eie toppings. Die regte pizza oond doen ook maar net ietsie spesiaals, want ek het lanklaas so lekker pizza geëet.

Die volgende oggend nadat ons lekker laat geslaap het, is ons weer die dorp in, en toe het die res van die Mini eienaars gearriveer. Mini’s oud en nuut net waar jy kyk. Ons stap toe maar rustig deur al die snuisterywinkels en beloer wat al die mense verkoop. Ons gunsteling plekke in Clarens is die gallerye. Een van ons gunstelinge is Johan Smit se gallery. Eendag as ek nie weet wat om als met my geld te doen nie, gaan ek nog hier ‘n pragtige skildery kom koop van die Populierbome en bale wat so op die lande lê. Die Blou donki (dit is reg gespel) Gallery het ook ‘n paar pragtige werke gehad, maar dit was ‘n skildery van Ben van Wyk wat ons laat staar het hierdie naweek. Ook ‘n plaastoneel met ‘n windpomp en stukkende plaasdraad in wonderlike helder rooi en geel en oranje wat ons droom het van waar die regte plek is om die een te hang. Eendag ……..







Die eintlike rede hoekom ons Clarens toe gekom het was omdat Wouter en Nanette trou. Na ‘n lekker sny koek by La Moelin koffiewinkel is ons huis toe om te gaan titivate.

Die bruid en bruidegom lyk pragtig, die dominee preek, maar al wat ek wonder is wat met my span gebeur in die Curriebeker semi-finaal. Ek voel in my sak hoe die foon vibreer soos die een na die ander smsse deurkom. Is dit gelukwense, is dit boodskappe om te sê, so naby maar tog so ver. Nog ‘n keer vibreer die foon en ek is seker dis Boedies se gelukwense met my span wat die Bok belaaide Haaie op hulle tuisveld pakgegee het. My vermoedens word bevestig toe ek omdraai en sien hoe die ouens oorkant die gangetjie die telling vir mekaar fluister. VRYSTAAAAAAT!!!!

Die onthaal was in ‘n plaasskuur net buite Clarens en ons het heerlik gekuier en geëet.

Die tyd in die pragtige Oos-Vrystaat was heeltemal te vinnig verby, en dit was heerlik om saam met Suné bietjie weg te breuk en ook sommer ons twee jaar huweliksherdenking te vier, al was dit so maand te vroeg. Ek hoop ons kan gou weer kom kuier!!

02 September 2009

MONTZINGERS X 3

Die Montzingers het besluit dat 2009 die jaar is wanneer ons nog 'n byvoeging tot ons huishouding gaan maak. 2 honde en 2 katte is nou genoeg, dit is tyd vir mense. Na vele nabetraging en oorweging van die voordele en nadele het ons Maart 2009 as die vetrekpunt geteiken. Dit was 'n besluit waaroor ons baie opgewonde was en steeds is. Ons het heeltyd gepraat oor: Hoe gaan hy/sy lyk? Gaan dit 'n seuntjie of dogtertjie wees? Wat gaan sy/haar naam wees? En so meer.........

Gedurende die einde van Mei, begin Junie het Candice begin kla dat iets nie lekker is met haar nie. Sy kon dit nie verduidelik nie en het sy snaakse gevoelens oral deur haar lyf begin ervaar. Sy was toe oortuig dat sy swanger is. Ek het gedog dat dit sin maak: dat sodra jy swanger is jou liggaam onmiddelik begin reageer. Ons was toe reeds opgewonde. Gedurende die eerste week van Junie toe koop Candice twee tuis swangerskap toetse. Die opgewondenheid was egter bietjie geblus toe die eerste toets onduidelik was. Daar was veronderstel om twee vertikale lyntjies te wees, maar daar was slegs een lyn en nog 'n baie onduidelike tweede lyntjie. Ons het toe besluit om die tweede toets die volgende oggend te doen, aangesien die toetse meer effektief in die oggend is.

Ons was steeds opgewonde maar nie meer so entoesiasties nie. Die volgende oggend is ons opgewondenheid verder gedemper toe ons die tweede toets doen. Dit resultaat was maar baie dieselfde soos die vorige toets. Die tweede vertikale lyntjie was verskriklik vaag. Die dowwe lyntjie het my egter oortuig dat ons wel swanger is. Jy kan tog nie net 'n bietjie swanger wees nie. Of jy is swanger of jy is nie. As sy nie swanger was nie dan moes daar niks gewees het nie, nie eers 'n dowwe lyntjie nie.

Candice was nog nie oortuig nie. Gedurende Junie het ek vir 'n week lank gaan jag en Candice my per foon meegedeel dat sy nou wel oortuig is sy is swanger. Sy het weer 'n toets gekoop en het ons onderneem om dit saam te doen wanneer ek terug van my eskursie is. Die Saterdagoggend het ons toe ons derde toets gedoen. Altwee lyne was so rooi soos 'n student se oë na 'n goeie kuier sessie die vorige aand.

Dit was die beste gevoel ooit. Hierna het ons 'n afspraak gaan maak by die dokter en soveel moontlik inligting probeer bekom oor wat ons moet doen, wat ons moet eet, watter pille Candice mag drink, of daar enige toetse gedoen moet word en so meer...... Lekker ondervinding maar ook scary terselfde tyd, want jy leer hoe baie wel verkeerd kan gaan.

Ons eerste sonar was begin Julie. Ek het 'n hol kol op my maag van opgewondenheid gehad. Ek het nie geweet hoe ek sou reageer nie. Candice was so gelukkig sy kon nie ophou smile nie. Die dokter het begin soek en ons het die skerm stip dopgehou, maar ons kon niks sien vir die eerste paar sekondes nie. En toe skielik sien ons iets wat flikker: 'n Hartklop en toe die babatjie. Hy was nog baie klein, maar hy was daar en as jy mooi kyk kon jy hom/haar sien. Die besef dat ons instaat was om 'n lewe te verwek was oorweldigend en kon ons beide nie ophou glimlag nie.

Die eerste twee sonars hierbo is op ses weke en die ander op 101/2 weke.

Ons kan nie meer wag nie. Ons tweede scan was in begin Augustus en het die babatjie toe al wesenlik gegroei. Hy het sommer sy armtjies geswaai en sy beentjie geskop en in die rondte gedraai terwyl ons hom op die sonar gesien het. Dit het gelyk of hy oefen. Hy gaan 'n baie aktiewe babatjie wees.

Intussen voel dit soms asof die werklikheid nog nie ingesink het nie. Dit voel nie asof daar 'n baba oppad is nie. Ons het nog geen klere, doeke, bed of allerande baba goedjies gekoop nie. Die naweek het 'n vriendin van Candice vir ons ons eerste babakleertjies gegee. Die werklikheid het toe begin inskop. Die tyd stap aand en die groot dag kom vinnig nader.

Candice se liggaam verander intussen baie en is ons volgende "detail" sonar die 10de September. Ek sal mal daaroor wees as dit 'n seuntjie is en Candice soek graag 'n dogtertjie. Ons besef egter dat soos die verantwoordelikheid van ouerskap insink dat ons baie gelukkiger gaan wees dat hy/sy slegs gesond moet wees.

Elke pa soek egter 'n seun waarmee hy 'n bal kan skop en die ma 'n meisie wat haar kan help om die skottelgoed te was :)

Word vervolg....................


 


 


 


 

 

20 July 2009

“WAT ‘N MAN NODIG HET”

"Daar's hulle", hoor ek die gids fluister, opgewonde dog beheersd. Ek kyk vinnig rond om te sien waar "hulle" is en sien niks. Ek soek bevestiging by Stefan wat saam met my loop, want ons loop nou al vir 'n paar uur en elke nou en dan verwar ons 'n bossie, 'n geluid of geritsel met 'n rooibok. "Ja wragtig daar staan hulle", breek Stefan se stem die oomblik se stilte terwyl hy op een knie gaan sit. Skielik sien ek hulle. Ek voel hoe my asemhaling onmiddelik begin toeneem. Met een beweging haal ek die geweer oor terwyl ek ook op my knie gaan sit. Ek gewaar 'n ordentlike troppie rooibokke seker so ongeveer 100 meter vanaf ons tussen die bosse staan. Hulle het ons definitief nog nie gewaar of geruik nie. Ek lê aan en gebruik die boom se tak as stut. "Nou moet jy konsentreer Montzinger", praat ek met myself. "Hou die geweer stil, wag tot die teiken mooi in visier is, beheer jou asemhaling en trek die sneller. Hoe moeilik kan dit nou wees." Praat ek myself moed in.


Nou sien ek die trop mooi deur die teleskoop. Ek kyk vir 'n ram, maar sien niks. Daar is 'n mooi ooi. Sy staan met haar kop skuins weg van my af. Ek dink by myself: "Ek gaan op jou aanlê". Ek herhaal Stefan se raad van vroeër in die dag: "Wanneer jy 'n bok skiet wat nie mooi in visier is nie, mik dan bietjie meer vorentoe, maar hoofsaaklik steeds in die omgewing van die hart". "Jy kan nie mis nie, hierdie is maklik", motiveer ek myself. Ek bring die geweer stadig in posisie. Die bok is mooi in visier. Die volgende oomblik word ek tot my sinne geroep deur die oorverdowende geluid van die geweer, soos die skoot afgaan. "Is dit raak?", vra ek aan niemand in besonder nie. "Jong Adrian dit het vir my raak geklink", hoor ek Stefan se stem. Die gids is reeds op en begin hardloop in die rigting van die trop. Ek maak die geweer veilig en ons gaan kyk.


Na 'n tydjie se gesoek kry ons die Rooibok lê tussen die bosse. My eerste skoot op 'n rooibok was suksesvol. Die minder lekker deel was die eet van die bok se lewer.


Inleidende paragrawe is 'n uittreksel uit 'n lekker jagnaweek wat ek saam met ouens van die werk beleef het. Vir 'n week in Junie het ek, PJ Vlok, Stefan Swanepoel en Jacques Cornelius weggebreek en besluit om 'n paar bokke te gaan skiet. Een te word met die natuur en om 'n bier te drink om 'n braaivleisvuur onder 'n sterrehemel in die Laeveld. Stefan Badenhorst en Wilhelm Jonker het ons ook vir twee dae van die jag vergesel.









Ons het die Sondagoggend vertrek met PJse vliegtuig (PKW). Dit was maar 'n 6 seater Cessna, maar dit het die werk gedoen. Die vlug was omtrent 4 ure. Na 2 ure het ons pitstop gevat en 'n "koerantwors" (Wors wat jy in koerant braai) gebraai. Hierbo bekyk Stefan en PJ die word om te oordeel of dit gaar is of nie. Dit het die energie vlakke weer opgestoot en voordat die kos behoorlik gesak het was ons alweer in die lug oppad Thabazimbi toe.




Daar aangekom het die res van die week maar redelik dieselfde verloop. In die oggend sewe uur opgestaan, gewere gevat en gaan stap. Teen 11 uur die oggend was ons terug en dan het die manne wat op "kosdiens" was die middagete voorberei. Daarna 'n vinnige middagslapie en teen 3 uur was ons weer in die veld, te voet, om wild te soek. Teen 6 uur die aand was dit al donker en dan het ons maar weer so stuk stuk by die kamp aangekom.



Die aande word afgesluit deur 'n lekker aanddis en paar biere en strafdoppe vir enige misskote deur die dag. Die raakskoot stories word bietjie aangepas om beter te klink en almal gesels lekker. Soms is almal doodstil en dan gesels die vlamme in die agtergrond, die aandgeluide herinner jou heeltyd waar jy werklik is en jy waardeer die nostalgie om deel te wees van so 'n geleentheid. Op sommige aande het PJ en Stefan ons getrakteer met hulle kitaarspeel vernuf en sangtalent. Nie sleg nie. Ek het probeer bydra met my ondervinding wat ek opgetel het by "THE QUEST", maar nie so goed byklank gevind nie.


Ek het self vir die eerste keer in my lewe 'n trekker bestuur en amper die ding afgeskryf. Die lewe op 'n plaas en in die natuur. Lekker! Om deel te wees van die veld vir so 'n kort tydjie is goed vir jou siel. Jy oortuig jouself maklik dat dit is waaroor die lewe gaan. Goeie herinniringe en goeie tye saam met goeie mense. Jy belowe jouself om meer sulke goed te doen. Die duur Mercedes, groot huis, skip met baie geld is vir oomblik in die agtergrond. Wanneer is die volgende trip?, hoor jy jouself maklik vra. Tye soos hierdie is wat 'n man nodig het.

26 June 2009

Boedies in die Weg

Die Boedies verskyn die week op die Weg tydskrif se webblad. Die Weg is loshande die beste afrikaanse tydskrif en hulle vertoon die week die  Boedies se "Jagvakansie in die Molopo" onder hulle 'Bestemmings' afdeling.

Besoek gerus hulle webwerf en lees die storie oor die Boedies by:  http://www.wegtydskrif.co.za/bestemmings/storie/36/

08 June 2009

My Troeteldiere

Siamese fighter
Dit is nou ongeveer 6 weke dat ons ons troeteldiere het. Aangesien al 6 van hulle nog lewe na die tyd (I had my doubts), sal ek julle meer van hulle vertel.

Dit was toe Izak vir 3 weke hier by ons gebly het dat hy die vistenk teen ‘n baie goeie prys by die plaaslike Supermark te koop gesien het. Hy kyk al egter baie lank rond vir ‘n goeie tenk, en hy het my verseker dat dit ‘n baie goeie prys was vir die 32l tenk. Soos die boks se: “All you need to do is add fish!” Die res was als in die boks. Pomp, lugpypies, gravel, ‘n plastic plant, filter, al die goeters vir in die filter, anti-chlorinator, medisyne, kos en nog ander goed.

My gat jeuk toe sommer dadelik! Ek het so paar dae se navrae gedoen oor die onderhoud en werk wat die besigheid verlang. Boedie navrae is gehou, die oom by die petshop en navrae by die werk. So twee dae later toe koop ek ook maar ‘n boks met al die goed in. Al wat ek ekstra moes bykoop is die verwarmer, want as mens ‘n koue water tenk het, is die verskeidenheid van visse wat ‘n mens kan aanhou maar beperk. Jy kan dan basies kies tussen ‘n klomp visse wat almal maar soos goudvisse lyk.
Platy
Die verskeidenheid wat tropiese visse jou bied is baie beter. Die probleem wat jy dan het, is dat jy nie weet wat om te koop en wat om te los nie. Ek het maar gewerk op die beginsel van koop die goedkoopste visse en as hulle vrek is Suné minder kwaad vir my vir die goed waarop ek my geld mors.

My eerste aankope was ‘n Siamese Fighter (mannetjie) en 5 Rooi oog Tetra’s. Toe besluit ek om meer van die visse op die internet te gaan leer. Ek kom toe af op ‘n baie oulike website, wat nogal lyk of mens die inligting daarop kan vertrou. (Dankie Google). Ek sal nogal die site aanbeveel. www.Fishlore.com
Daar kan jy al die inligting kry van seker die meeste visse wat te koop aangebied word. Daar is volledige profiele van elke spesie. Van hulle oorspronklike herkoms, hoe moeilik dit is om hulle aan die lewe te hou, pH vlakke waarvan die vis hou, watertemprature, broeigewoontes en nog meer.

Neon Tetra's
Dis toe ook dat ek die eerste keer hoor van dat jy moet kyk na die water se pH vlakke en waterhardheid. Wie het geweet water kan hard wees?? Ek was toe darem gelukkig met my eerste aankope. Die Siamese Fighter of soos hy eerder genoem word, Betta fish, asook die Rooi Oog Tetra’s word daar aanbeveel vir beginners aangesien die visse meer gehard is as ander spesies. Ek lees toe ook dat ‘n mens nie meer as een Siamese Fighter mannetjie in ‘n tenk kan hê nie, aangesien die mannetjies baie terrotoriaal is, sal hulle baklei totdat een dood is. Dit het ek darem geweet. Ek was ook bly dat ek 5 Tetra’s gekoop het, aangesien dit ‘n “schooling fish” is, en nie daarvan hou om in skole van minder as 5 of 6 aangehou te word nie.
Danio
Ander visse wat hulle aanbeveel vir beginners is Platy’s en Danios. Ek wou baie graag Neon Tetra’s op ‘n stadium gekoop het, maar volgens Fishlore is hulle baie trietserig en is dit ‘n gesukkel om hulle aan die lewe te hou. Blykbaar is die aanvraag na hulle baie groot, en as gevolg van “in breeding” om aan die vraag te voorsien ly die gesondheid van die visse daaronder.
Coulored Glass fish
Nog ‘n intressante vis wat ek graag wou koop is Coulored Glass fish. Mense word afgeraai om hulle te koop aangesien hulle neon helder strepe onder hulle dorsale vinne nie natuurlik is nie, en op een of ander manier getatoeër word of ingespuit word met ‘n kleurstof. Dit is dan eintlik diere mishandeling.
Mila se Tenk
Nog ‘n intressante ding wat ek nie ‘n clue van gehad het nie, wat die Stikstof-siklus. Blykbaar is ‘n mens nie eers veronderstel om visse in die tenk te sit voor die siklus gestabiliseer het nie. Dis ‘n ingewikkelde besigheid. Die visse se poe en kos wat nie geëet word nie, word afgebreek na Ammoniak. Dit word dan omgeskakel na netriete. Dan vorm goeie bakterië wat die netriete weer omskakel na netrate. As die balans tussen die goeie bakterië en ammoniak gestabiliseer het, is dit eintlik eers veilig om die visse in te sit. Hoë vlakke van ammoniak en nitrate vergiftig die visse. Ek het nog nooit my vlakke getoets nie, en die visse lewe nog.
Rooi Oog Tetra’s
Ek sal binnekort graag nog ‘n paar visse wil aanskaf. Daar bestaan ook baie teorië oor hoeveel visse kan in hoeveel liter tenks saamlewe. Ek sal dit nog uitwerk. My grootste les wat ek tot dusver geleer het, is dat die oom by die petshop nie veel weet nie. ‘n Mens kry goeie raad op Fishlore se forum. Daar is baie mense wat tropiese tenks vir jare het. Die oom by die petshop sê in baie gevalle die teenoorgestelde as die mense op die website. Maar hoe meer visse vrek, hoe meer moet ek seker by hom gaan koop.
Siamese fighter
Maar uiteindelik het die Langeveld-huis ook nou troeteldiere.

29 May 2009

Dullstroom

Op party klein dorpies in Suid Afrika mag jy soms tot ‘n koei in die straat sien loop,  die beste plek om te besoek is die Wimpy en dan is dit asof die kos daar anders is as in die Wimpy’s waaraan jy gewoond is. Maar Dullstroom is ‘n klein dorpie met ‘n verskil. Dis amper asof almal wat Dullstroom besoek glo dat die plek ‘n geheim is en dat net die mense wat daarvan weet, hierheen kom en moet vir niemand vertel nie, want net-nou kom almal hierheen en verloor die plek sy rustigheid.

Rooibors Jakkals Voël

Saterdagoggend vat jy die N12 oos in die rigting van eMalahleni. Nee, nie ‘Emma wil nie lê nie’, eMalahleni, dis mos nou wat van Witbank geword het. Na Witbank sien jy wat lyk soos ‘n grys hoop sement en tussen dit alles steek ‘n vierkantige toring uit met ‘n witkol en ‘n blou skip daarop wat strek om bo die grys stof uit te kom. Jy is besig om by Middelburg verby te ry en die toring met die blou skip is Columbus Stainless, die lekkerste plek waar ek nog gewerk het. Ek verlang sommer terug na my UTCAS stelsel wat ek soos ‘n pasgebore baba opgepas het, na ons haar die eerste keer inwerking gestel het.
Forrel Dam by Ce La Vi
As jy die Belfast bord sien, draai jy af en gaan noord. Belfast is een van daai klein dorpies, so jy swaai maar oos en hou dan die Corolla se neus in die rigting waarin die meisie van die GPS jou wys. Net wanneer jy begin wonder of ons dan nooit weer gaan koffie drink nie en die gegrom van jou maag harder raak as die ‘songs’ uit Estelle se iPod, dan ry jy Dullstroom binne. Dit vat ‘n minuut of twee om aan te pas by die rustige tempo van die plek. Oral loop mense rond van een winkel na die ander, en moet mens selfs stadiger as die aanbevole 60km/h ry, anders ry dalk net iemand wat oopmond van verwondering die ‘curios’ loop en bewonder, onderste bo.
Kaapse Oor-Uil

Jy parkeer sommer enige plek en vra vir die wag, wat homself eers op die naam kom voorstel, om te kyk, want alles is binne loop afstand. ‘n Neute verkoper probeer hard om jou te oortuig dat syne die beste op die dorp is. Dan maak jy jou eerste stop by Harry’s Pancakes. Dis ook hoe die idée gekom het om weg te breek Dullstroom toe vir die naweek, want jare na jy hier was kry jy een aand ewe skielik weer ‘n helse lus vir Harry se gevulde pannekoeke. Hulle is almal goed, maak nie saak of jy die soutes of die soetes probeer nie. Nie dat dit my gewoonlik keer nie, seker maar oor dit meer aanvaarbaar is, kies ek ‘n soute, want dis darem nog baie vroeg. Mens se tone krul sommer van die lekker.

Na ek vir my ‘n polar fleece top by die Jeep winkeltjie gekoop het en Estelle ‘n oulike rugsak by Handy Bags gekry het is dit tyd om ons ander gunstelling plek in Dullstroom te besoek. In ‘n plek waar tyd nie saak maak nie is daar tog 2 baie belangrike tye om te onthou. 10:30 en 14:30, want dis wanneer die “Birds of Prey” hulle ‘Flying Displays’ het en dis iets wat mens net nie kan mis nie. Mense vertel my hulle was in Dullstroom en as ek hulle vra dan sê hulle, nee, hulle weet nie van die ‘Birds of Prey Centre’ nie. Wel, dan’s ek jammer, maar dan was jy nog nie regtig in Dullstroom nie. ‘Birds of Prey’ is omtrent ‘n kilometer buite Dullstroom, net voor jy Dullstroom binnekom van Belfast se kan af. Jy sal hulle borde sien en dan vat jy ‘n kort stukkie, seker 500m, grondpad en dan’s jy daar.




Maak seker dat jy so rukkie voor 10:30 of 14:30 daar is en gaan kies ‘n lekker plekkie om te sit. Die ‘Flying Display’ word deur Mark of Mark of soms albei Mark’s terselfde tyd gedoen en dis ongelooflik interessant. Glo my jou mond sal oophang, wat dalk nie so slim idée is met al die roofvoëls wat vlak bo-oor jou kop verby vlieg nie, maar jy kan nie anders nie. Mens stap terug na jou kar toe met ‘n nuwe waardering vir wat die voëls alles in die natuur doen, seer maagspiere van al die lag vir wat die twee Marks alles kwyt raak en jou kamera vol een-keer-in-‘n-leeftyd fotos van roofvoëls vat reg oor jou kop vlieg en vleis uit die lug uit vang. Ek en Estelle is mal oor die ervaring. Ons was jare terug daar toe hulle nog op ‘n ander plaas in die rigting van Lydenburg was en die keer het ons sommer beide die Saterdag 14:30 en die Sondag se 10:30 vertonings bygewoon.

Ce La Vi se lodge

Toe die heuwels lang skaduwees begin gooi en die droë gras die wêreld met goud bedek, is ons op ‘n grondpad en klou die Corolla aan die rowwe klippe terwyl ek haar uit die slote en weg van die skerper klippe probeer hou. Ons klim al hoër tot die uitsig onder ons uitgestrek lê met forrel damme van bo tot onder aan die voet van die berg. Ce La Vi is die lodge waar ons bespreek het. Die lodge het plek vir omtrent 10 mense, maar oor dit ‘n stil naweek was het hulle dit vir ons gegee teen die normale tarief, al was dit net die twee van ons. Daar is ook ander akkomodasie op die plaas, maar ek beveel die lodge aan.
Ce La Vi
Dis teenaan ‘n redelike groot forrel dam en die omgewing is vrek mooi. Dit was al laat skemer toe ons daar aankom en ons het net afgepak en toe dadelik die lieflike kaggel aangesteek met die hout wat deur die lodge voorsien is. Na ek ‘n vleisie gebraai het, het ons nog hout op die kaggel gesit, rooiwyn geskink en ‘n fliek opgesit. Lekkerder kan mens nie kry nie. Ons is vroeg Sondag uit die vere om fotos in die goue uur net na sonnop te neem van die weerkaatsing van die koppies in die dam en van die eende wat in die water speel.
Na koffie en beskuit is ons terug Dullstroom toe. Vir middagete het ek gereken as mens in Dullstroom is moet jy soos die Dullstroomiane maak en toe by die ‘Old Transvaal Inn’ hulle forrel ontbyt probeer terwyl Estelle dit veilig gespeel het en weggelê het aan ‘n tradisionele boere ontbyt. Vol geëet, uitgerus, met nuwe lus vir die lewe en herhinderinge van ‘n baie lekker naweek het ek die meisie van die GPS gevra vir die pad huis toe en terwyl die ‘Parletones’ ‘Baby Be Mine’ deur die iPod sing vat die Corolla die teerpad terug Johies toe.