30 June 2008

SASRECON

Dit gebeur nie baie dat die varsity my sponsor om êrens heen te vlieg nie. Hierdie keer was dit die SASReCon (South African Sport and Recreation Conference) wat ons departement bygewoon het. Die gashere was NMMU (Nelson Mandela Metropole University) in Port Elizabeth. Ons het Dinsdag hier vertrek met 'n SAA Jetstream 41. Die kleinste wat ek nog mee gevlieg het. Nie dat ek al baie gevlieg het nie, maar die outjie het ons sonder enige probleme in PE afgelaai.

Dit was 'n lieflike dag en omdat ons vroeg by ons hotel was het ons maar gaan kyk wat alles op die strand aangaan. Ek het toe ook sommer gaan kyk hoe lyk die Boardwalk Casino wat langs ons hotel was.

Hierso sit Dr. Derik Coetzee, wat by die Bokke was, en Monique.

Die aand het ons saam met ons SANW (Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag) kollegas by hulle woonstel gaan kuier. Hulle het al die vorige Vrydag deurgery om sommer 'n vakansie van die geleentheid gemaak. Hulle was net laer af in ons straat en het 'n lieflike uitsig oor die see gehad. Lekker gekuier en gelag vir al die grappe wat daar uitgekom het.



Dievolgende oggend het die kongres afgeskop met die studenteforum. Ons studente het hulle goed van hulle taak gewyt en hulle het goue en silwer sertifikate verwerf vir hulle aanbiedinge.
Hier is Murray besig met sy aanbieding van abnormale skouer meganika.



Na die middagsessie het ons eers 'n drink by 'n pub op die strand gaan drink. Daar is genoeg tyd vir kuier by die kongres ding.




Na die drink het ons weer by die weermag kollegas gaan visbraai. 'n Baie lekker geelstert geëet. Die voggies het weer geloop. Ook 'n paar lekker drinking games gespeel, wat ek vir die Boedies sal leer as ons almal weer saam met die girls kuier.

Die Donderdagoggend was die amptelike opening. Dit is bygewoon deur verteenwoordigers van die plaaslike regering en die hoofspreker was die vise-minister van Sport en Rekreasie. Na 'n welkome koffiebreuk is die parrallelsessies begin. Dit is waar nuwe navorsing aangebied word en waar die gehoor dan kans kry om vrae te vra. Die sessies word opgedeel in Sportwetenskap, Biokinetika en Sportbestuur/Rekrasie. Ek was teleurgestel deur die onderwerpe wat voorgedrae is, asook die kwaliteit van aanbiedinge. Ek het gedink dat die sprekers baie beter voorbereid sou gewees het as wat hulle was. Daar was egter enkele aanbiedinge wat baie goed aangebied en intressant was. Ek is egter grootmond, maar sal as my loopbaan by die varsity langer aangaan self in die toekoms op soortgelyke kongresse voordragte moet lewer. Dan sal ek verseker 'n ander deuntjie sing.


Daar was ook 'n dinee gewees na die dag se verrigtinge, maar dit was maar flouerig.

Die Vrydag het ons net die belangrikste sessies bygewoon en na middagete moes ons weer lughawe toe. Dit was egter 'n goeie ondervinding gewees, en sien uit daarna om eendag self my navorsing voor al die slimmense voor te dra.

21 June 2008

Gaudeamus Igitur

Verlede week was 'n groot week in die le Roux kamp. Estelle het haar honneurs graad by Unisa gekry. Dit was nie altyd maklik om werk en swottings te balanseer en dissipliene te hou nie. Sy het veral haar laaste jaar baie hard gewerk en haar laaste eksamen was onder bitter moeilike omstandighede en daarom is ek baie trots op haar.

Sy was vasberade sy sal haar honneurs doen al moes dit na uurs gebeur en al het dit partykeer swoeg en sweet gekos het sy deurgedruk en 'n sukses daarvan gemaak.

07 June 2008

Gholf Swing Analise

Die Boedies het elke jaar 'n groot saamtrek wat maande voor die tyd beplan en gereël word en geen verskonings word aanvaar nie, almal moet dit bywoon. Ek praat natuurlik van die jaarlikse Boedie Jag Trip na die Kalahari en die jaar is geen uitsondering nie. Schalk is besig om planne te maak om uit Britanje uit af te vlieg, Attie sal van die Kaap af op kom en Mila sal uit die Vrystaat uit ry. Die jaar is daar egter ook die groot Boedie Gholfdag en voorbereiding daarvoor is hard aan die gang.




Ek en Estelle het by 'n 'Driving Range' hier naby aangesluit en gaan nou al vir die afgelope 5 weke vir lesse. Die week wat verby is het ons 'n video analise sessie bygewoon waar die 'Pro' wat ons afrig na 'n video opname van ons swings gekyk het en ons foute uitgewys het, waaraan ons in die volgende paar weke moet werk.



Die video hierbo wys my huidige swing met 'n 7 yster. Daar is twee aspekte van my swing waarop ek veral moet konsentreer.




Eerstens, soos julle op die foto hier links kan sien, moet ek werk aan my regter been waneer ek terug swing. Hy moet gebuig bly soos wat hy is waneer ek die terug swing begin, eerder as wat ek hom reguit maak soos wat ek op die oomblik doen.





Die tweede en meer ernstige probleem waarop ek moet fokus is die feit dat ek my elmboog buig waneer ek deur swaai. Op die foto links onder sien mens eers my elmboog van agter af en dan die gholfstok. Regs kan mens sien dat ek 'n tipe sirkel met my arms vorm in plaas van om my linker arm reguit te hou deur die swing. Die gevolg is dat ek gereeld die bal links trek en nie baie konsistent is as dit by rigting kom nie.

Daar was darem ook 'n paar goed wat ek reg gedoen het. Die hoek wat my rug met my bobene maak was ongeveer 120 grade, ek hou my kop redelik stil deur die swaai, my voete is min of meer skouer breedte en my hande is ook op 'n gemaklike afstand van my lyf af.







Estelle se gholf het ook nou al baie verbeter en sy het baie goed geslaan tydens die video sessie, soos wat julle in die video hier onder sal sien.


Ons afrigter het basies net vir haar gesê om seker te maak dat haar voete skouer breedte is, want dan sal sy heelwat verder kan slaan. So miskien stuur ek haar nog op die veld teen die Boedies! Ons geniet die gholf baie en probeer om elke dag na werk mekaar by die 'driving range' te kry. Soos wat Schalk altyd sê, die gholfdag is aan soos "Donkey Kong"!

06 June 2008

Afrikaans@2038


Ek en Estelle het die week na die finominale Afrikaans@2038 in “The Performer Theatre” in Menlo Park gaan kyk. Dis regtig ‘n uitstekende vertoning en ek reken die vertoning word baie onderskat. Laat ek eers sê wat ek van “The Performer Theatre” dink. Dis ‘n redelike klein plekkie met ‘n verhoog en dan stoele en tafels wat baie formeel gedek is. Die idee is dat mens ‘n ete kry voor die vertoning en daarna die vertoning kyk. Die idee is nie sleg nie, maar ek is nie seker watse tipe atmosfeer hulle met hulle advertensie skerms probeer skep nie, maar dit nie werk nie. So ek reken “The Performer” is nie die beste plek om die Afrikaans@2038 te doen nie en ek wens hulle wou dit eerder in ‘n “Barnyard Theatre” hou. Die vertoning is lewendig en energiek en mens wil dit in ‘n meer ontspanne atmosfeer kyk.



Die toneel gaan oor Afrikaners by die eeufees viering van die Voortrekker Monument. Die gautrein, waarop die akteurs van die vertoning is, kry tegniese probleme en die personeel wat die vertoning gereël het besluit om sommer self die vertoning te lewer. Die akteurs in die vertoning is baie talentvol en die een ding wat in my opinie die vertoning laat uitstaan is die hoeveelheid energie wat hulle inspan. Dis soos ek gesê het, ‘n baie energieke vertoning en die passie waarmee dit uitgevoer word is aansteeklik. Dit sal onregverdig wees om iemand uit te sonder maar Braam en Antjie, wat soort van die hoofrolle speel, is briljant. Nog 'n bekende gesig is die van Izak Taljaard wat die moffie in Hester en Ester Bester speel.

Die perd op die foto is Regart de Bruin en manne, kan die man ‘n korsertina speel! Hy gooi mielies met daai ding en laat die hare op jou nek regop staan. Almal kan baie goed sing en daar is darem maar niks mooier as ‘n goed geskryfde Afrikaanse lied wat met soveel passie gesing word nie. Ek het ‘n paar keer hoendervleis gehad en nog nooit het “Al lê die berge nog so blou” so goed geklink nie. Die baie skerp manier waarop die liedjies gemeng en saam gesing word is regtig vrek goed gedoen en daarom sal ek graag die Afrikaans@2038 vertoning in “Barnyard Theatres” in Johannesburg wil sien. Baie van die 'songs' wat hulle gesing het is dieselfde as die wat ons altyd op die plaas om die vuur sing.

Die ouens gee Afrikaans ‘n goeie naam en daarom is dit ook met trots dat die Boedies hierdie blog in Afrikaans bring. Dis miskien nie altyd die tipe Afrikaans wat vir CJ Langenhoven sou trots maak nie, maar dis die Afrikaans waarin die Boedies kuier en dit is ons Afrikaans. Ek hou baie daarvan dat mense deesdae so trots is op die taal en dit is goed om te sien dat in Suid Afrika Afrikaners so trots is op die taal, meer as enige van die ander taalgroepe.

Nota aan die ander Boedies:Pappas die ‘girl’ wat Antjie speel is ongelooflik sexy! Ons dink haar naam is Alma Jacobs, ons is nie doodseker nie, maar een ding is seker, sy’s ‘n baie sexy boeremeisie!

04 June 2008

Brighton

Ons was so rukkie terug Brighton toe gewees nadat ons by die kerk was een Sondag. Die kerk is in Guildford en oppad terug, net so by die Gatwick afdraai, toe het ons besluit om Brighton toe te gaan om te gaan kyk wat alles daar aangaan.


Een ding van Engeland is dat plekke nie baie ver uitmekaar is nie. London is na twee kante toe omtrent 'n uur en 'n half of minder van die see af.


Hier is so paar fotos van ons uitstappie. Die weer was sonnig gewees, maar die wind het nogal gestoot. Die strand is nie sand nie, maar klippe. Dit was nogal aardig want ons Suid Afrikaners is mos nie gewoond aan 'n klip-strand nie! Anyway, niemand het geswem nie en omtrent niemand het op die strand gesit nie. Jy het of 'n matras of 'n lilo nodig as jy op die strand wil sit, anders gaan jou backside dit berou op die klippe.

Ons moes nogal ver stop van die strand af as gevolg van die baie mense. Ons het toe seker so 10 minute se stap van die strand af 'n parkeerplek gekry.

Die vibe is nogal lewendig en ek dink omdat dit die eerste sonskyn dag vir 'n paar maande was het almal uitgekom om die hitte te geniet. Die strate was besig en veral die promenade by die strand was gepak. Hier is die wereldbekende Brighton Pier was nogal huge is. Daar is restaurante, take away plekkies en 'n theme park op die pier.


Daar is baie 'rides' en amusements op die pier. Will was gaande oor die karretjies wat so heen en weer gaan. Ons moet drie keer weer geld ingooi voor hy genoeg gery het.

Hier is ons buite een van die baie 'chippie shops' langs die strand. Die chips was baie lekker maar die vis was maar flouerig gewees.
Hier is 'n shot van die pier af van die geboue en so. Dit het my so bietjie van Durban laat dink.

Kan mens op die foto sien dat die manne genoeg gehad het? Ons was almal maar flou gewees na 'n lang dag van op en langs die strand wees (in ons kerkklere)