26 November 2008

Twickenham

Die wat ek nou hier skryf is al geskiedenis, maar vandat ek weer fasiliteite by die huis het, kan ek hom klaarmaak. Ons was so rukkie terug Twickenham toe gewees vir die SA - Engeland game. Pieter het my so ruk terug gevra of ek wil saamgaan en ek het dadelik JA geantwoord. Pieter, Matt en Matt se Pa het tot by my gekom en toe vat ons die trein Waterloo stasie toe. Daar het ons vir Madeleen gekry wat saam ons gegaan het.

Dit was ongelooflik om so baie Saffas in een plek te sien! Oral waar jy loop was dit net Bok truie en omies wat al rooi gedrink is wat Afrikaans praat. Ons het die trein van daar af gevat, was omtrent stampvol gewees. Dit was so paar minute se stap van die stasie af tot by die grounds en die eerste sneeuvlokkies het begin val terwyl ons nog oppad was, dis sommer so koud teen jou ou gesiggie.

Manne, ek het darem maar SA gemis Saterdag by die ruggas. Dit was LEEUKOUD gewees. Mens kan die leeus daar in die agtergrond sien, so koud was dit. Matt het die kaartjies gaan kry en ons het gestaan en koud gekry. Toe begin die groot soektog na iets om die keel mee nat te maak. Ons het ons gatte af gesukkel om 'n bier in die hande te kry. Mense sit mos nie hier op stoele en braai 'n stuk wors op die gasbraaier en suip brannas soos ons varke in SA daar in en om Loftus nie.

Nee, jy staan rond, kry moer koud en vat maar 'n pint bier, as jy een in die hande kan kry. Ek sou my linker kuitspier gegee het vir 'n lekker Rikkie Louw met ys en Coke, maar nee. Die mense vat mos net bier vir sap. Ons het naderhand deur die hekke gegaan op soek na 'n bier, want die toue was so rof jy sou selfs die highlights gemis het as jy vir een moes wag. So paar daar gevat, sommer by 'n ou wat so balie op sy rug dra en die sap so daaruit tap. Bril-flippen-jante idee as jy my vra. Ons moet so ding kry vir as ons weer bos toe gaan. Jy sal mos nooit dors ly nie. Ure se pret, jy kan sommer die tuitjie so fix dat hy net so in jou mond inspuit. Met Amarula in of 'n koue lemoensap sal dit altyd 'n wenner wees.

Nou ja, 'n sap agter die blad sterk toe vat ons maar die pad na ons sitplekke toe. Ons moes toe eers stop by 'n stalletjie wat boerewors verkoop, of nee, Traditional Farmers Sausage. Mens kan mos nie boerewors vertaal nie, dit klink sommer simpel en volksvreemd as jy dit in 'n ander taal probeer verwoord. Anyway, toe klim ons in die tou vir die Farmers Sausage. Die sausage met 'n broodjie kos toe iets soos £5. Toe dink ek mos nou aan Tolla wat die grap vertel het van die R20 se komkommer. Ek wou die tante voor vra of sy weet hierdie boereworsrol kos R75 en of sy vir Tolla geken het, maar ek dink sy was Brits, sy sou dit nie gevang het nie.

Ons kom toe by ons stoele en mense, Twickenham is 'n smart plek. Daar is 'n nuwe stand wat bitter netjies is, met selfs 'n hotel in. Nou ek het al gehoor van lekker, maar as jy nie eers hoef op te staan uit die bed uit nie om op Twickenham ruggas te kyk nie, dan is dit mos nou lekker. Die Engelse sing hulle volkslied uit volle bors uit en dit was nogal 'n belewenis om te hoor hoe hulle God Save the Queen so lekker sing. Ons Nkosi was nie so groot sukses nie, maar die mense het darem die woorde probeer reg te kry.

Om by die ruggas te kom, ons almal weet nou ons het hulle behoorlik in die grond in gespeel. Dit was busonder lekker om daar te sit en om te sien hoe 'n Suid Afrikaanse span wat voorheen daar gesukkel het, hulle behoorlik opdons. Halftyd was daar 'n malle geskarrel vir die toilette en ek het amper een Engelsman uit die aarde geskouer toe hulle stamperig begin raak het. Ek het hom gevra of hy vir Generaal de la Rey ken, maar hy het ook nie verstaan nie.

Die lap of honour na die tyd deur die span was baie cool. Baie van die aksie het voor ons gebeur wat dit nogal 'n onvergeetlike ervaring gemaak het. Ek sal beslis weer 'n game daar gaan kyk, die atmosfeer wat elektries.

Ons het na die tyd 'n draai gemaak in die Twickenham shop om te sien watter voorraad van truie, hemde en hoede hulle het. Toe was dit weer die trein terug, London Bridge toe, weer 'n paar sappe daar gevat en toe die aand afgesluit met 'n Burger King op die trein terug.

Voorwaar 'n suksesvolle uitstappie.

25 November 2008

Boedie in Duitsland: Die Swaan Koning.

As jy my vorige blog, [Kaprun], gelees het sal jy weet dat ek die naweek in Kaprun, Oostenryk was en dat ek die 2de deel van die naweek nog wou vertel.


Sondagoggend is ons weer vroeg uit die bed en na ontbyt het ons die pad gevat in die rigting van Innsbruk. Ons het op 'n pad gery wat ek reken Top Gear sou kon gebruik in een van hulle 'shows'. Die uitsig was weereens ongelooflik met sneeu bedekte berge en rye bome wat met sneeu bedek is en soos kersbome lyk.
Koning Ludwig II

Ek wil julle egter die hartseer verhaal vertel van die Swaan Koning. Lank, lank gelede...ok dalk nie heeltemal so lank gelede nie, in die vroëe oggendure van 25 Augustus 1845 is 'n prins gebore in Munich, Duitsland. Die prins is na sy oupa, Koning Ludwig I, vernoem en hy het bekend gestaan as Ludwig die 2de. Hy was die oudste seun van koning Maximillian II en koningin Marie. Van jongs af het prins Ludwig baie van somer vakansies gehou, wanneer hy en sy familie na die Hohenswangau kasteel gegaan het, wat sy pa, Koning Max II, laat restoreer het. Die kasteel is teen 'n berg geleë en lê langs die Alpsee meer.Koningin Marie het graag saam met haar seuns in die berge gaan stap en dis dan ook hier wat Ludwig sy liefde vir die berge en hulle ontvlugting ontwikkel het.

Toe Ludwig 13 was het hy gehoor van 'n opera wat deur Richard Wagner geskryf is en handel oor Lohengrin, 'n middeleeuse Swaan ridder en oor Hohenswangau 'n swaan tema gehad het, was hy baie opgewonde om die opera te lees. Koning Max is dood toe Ludwig 18 jaar oud was en hy het toe koning geword. Ludwig het dadelik vir Richard Wagner laat opspoor. Richard was besig om vir sy krediteure weg te kruip, maar Ludwig het al sy skuld afbetaal en vir hom 'n huis gebou.

Ludwig se kastele

Richard het vir Ludwig operas laat opvoer, maar later het die die mense van Bavaria vir Richard laat uit dryf oor hulle gereken het dat hy inmeng met hoe Ludwig regeer het. Ludwig was baie jonk en die druk van koningskap was net te veel. Op 'n stadium was hy ook verloof, maar dit het nie uitgewerk nie. Dis toe dat Ludwig begin droom het. Hy het kastele begin beplan en laat bou. Een van die kastele wat hylaat bou het was Linderhof, wat ons eerste besoek het. Toe hulle Linderhof gebou het, het Ludwig nog baie geld gehad en is daar baie duur materiale en goud oral gebruik.

Linderhof

Terwyl hy in Linderhof gebly het, het Ludwig aan Neuschwanstein begin werk. Ons is van Linderhof af langs plansee, nog 'n groot meer, verby na Neuschwanstein. Neuschwanstein kasteel, het Ludwig naby Hohenswangau kasteel laat bou. Dis 'n sprokies kasteel en is ook die kasteel waarop Walt Disney sy 'Magic Castle' baseer het.

Neuschwanstein

By Neuschwanstein is ons in die kasteel vir 'n toer en dit was baie interresant. Ek sou in so 'n kasteel kon leef. Al die kamers, met ongelooflike afwerkings en skilderye. Die troonkamer het vir my veral uitgestaan. Maar, die tragiese ding van Neuschwanstein is dat Ludwig nooit daar gebly het nie. Hy het onder baie verdagte omstandighede in 'n meer verdrink en al kan niemand verseker sê wat gebeur het nie, word daar vermoed dat hy deur lede van sy regering vermoor is.

Neuschwanstein

3D Neuschwanstein

Na sy dood het sy familie die bouery aan sy droom kasteel net so gelos en nie aangegaan daarmee nie. Die kasteel is kort daarna vir die publiek oopgestel en miljoene mense besoek steeds jaarliks die asemrowende gebou.

24 November 2008

Boedie in Oostenryk: Kaprun

[Nota: Kliek op die fotos om hulle duideliker te sien.]

Ek en 2 van my kollegas het die afgelope naweek 'n Audi A4 gehuur en is deur die suid-ooste deel van Duitsland , Oostenryk toe. Dit sou my eerste keer in Oostenryk wees. Ons is omtrent so 13:00 Vrydagmiddag uit Karlsruhe weg en het met die A8 hoofweg in die rigting van Stuttgart gery. Die weervoorspelling vir die naweek het 'n sneeustorm voorspel en ons wou kyk of ons voor die ergste sneeu begin val het, by ons destinasie kon uitkom. Van Stuttgart af is ons Munich toe en daarna is ons Oostenryk binne. Ons het ons bestemming eers teen 20:00 bereik en ons was gedaan. Teen die tyd dat ons in Kaprun aangekom het was dit al donker en dit het erg gesneeu en die pad was baie glad. Gelukkig het ons vir winterbande gevra toe ons die Audi gehuur het en dit het gehelp om ons op die pad te hou. By die hotel aangekom het ons net vinnig 'n paar fotos geneem en toe dadelik gaan slaap.

Die kaart hieronder wys ons toer van die naweek, wat in totaal 1051 Km was. 
View Larger Map


Saterdagoggend is ons vroeg uit die vere en ek het my sneeubroek wat ek in Karlsruhe gekoop het, my beanie en Estelle se handskoene wat ek geleen het aangetrek. Die Audi was toe onder die sneeu en ons moes eers die vensters skoon skraap met 'n skrapertjie voor ons kon ry. Ons is dadelik na Kitzsteinhorn toe. Kitzsteinhorn is a'n berg in die hoof bergreeks van die Alpe in die omgewing van Kaprun, Salzburg, Oostenryk en het 'n hoogte van 3203 meter bo seevlak Ons is met die Ski-kabelkarretjie teen die berg op. Die wind het sterk gewaai en dit het heeltyd gesneeu, so dit was nogal 'n ervaring om met die vrek lang kabel teen die berg op te gaan. 


'n Goolge Earth foto van waar ons gebly het
Wanneer mens bo kom, eindig mens by 'n Ski-oord waar honderde skiërs teen die berg af ski. Hier het ons eers 'n ent in die dik sneeu gaan stap en daarna mekaar met sneeuballe gegooi en baie lekker in die sneeu gespeel. Dit was vrek koud en wange wou afvries. Die sneeu was dik en mens kan nie glo hoe sag dit eintlik is nie. Ek het op 'n stadium op my rug in die sneeu geval en sag te lande gekom. Dit was die keer regtig die eerste keer wat ek werklik in sneeu was en mens voel soos 'n kind, wat net die heeltyd daarmee wil speel. Ons het dan ook ons eie sneeuman probeer en vir 'n eerste keer dink ek, het ons heel goed gedoen. Hulle wys altyd hoe mens vir hom stokke vir arms gee, maar alles was onder die sneeu en daar was nie 'n stok in sig nie.






























Na ons vir 'n paar ure in die sneeu gespeel het was ons moeg en koud en wat beter as om 'n glassie rum en coke te vat om die koue te probeer onderdruk? Ski en drank het 'n sterk konotasie, want na mens so ruk in die sneeu was is die idee dat mens iets sterks afsluk om die koue uit die sisteem te kry. Ons wou nie die tradisie breek nie en het in die Ski-bar gan sit en kuier. Die atmosfeer was beneuk! Hulle het lekker musiek gespeel en almal was in 'n ontspanne luim. Op die grootskerm het hulle flieks gewys van Red Bull Skiërs wat allerhande "moves" gooi.
Die Ski-Bar
Ski-Bar binne
Kyk hoe het my handskoene gelyk na 'n ruk in die sneeu. Dit was hel koud.
Stukke ys sit aan my handskoen vas
Na middagete is ons teen die berg af en het ons nog fotos in die omgewing van Kiztsteinhorn geneem, voor ons Zell am See toe is. Zell am See sal voortaan im my gedagtes as die geboortedorp van Kersvader bekend staan. As mens na die sprokiesdorp toe kom in die winter en daarna nie aan Kersvader glo nie, weet ek darem nie. Dis 'n betowerende klein dorpie wat in 'n vallei tussen die berge lê, met 'n groot meer aan die eenkant. Oral in die strate was alles spierwit en die bome was oortrek van die sneeu. Dit was regtig iets besonders en ons wou sommer die heeldag net rond ry en fotos neem. Hier is 'n paar, maar ek glo nie dit doen die plek 'justice' nie.

[Kliek op foto vir groter weergawe]
[Kliek op foto vir groter weergawe]
Sondag is ons van Kaprun af terug met 'n ander pad Karlsruhe toe, maar ek moet nou eers gaan slaap, so ek sal die 2de deel van die naweek bietjie later blog.

17 November 2008

16 November 2008

Boedie in Duitsland: Mijn Koffer Leben

Gereelde lesers weet seker teen die tyd dat ek al die blogs wat ek uit Duitsland uit 'post' onder die titel "Boedie in Duitsland" plaas. Dit beteken dus dat ek alweer in Duitsland is, die derde keer die jaar. Ek sit en tik hierdie post hier uit my kamer waarin ek bly terwyl ek in Karlsruhe werk.

Die week het ek omtrent die heel week uit my tas gelewe en het gedink ek sal julle bietjie wys waar ek oral gebly en geslaap het die afgelope week.
Elangeni: Sitkamer
Die week het begin in Durban waar ons 'n vergadering met die klient gehad het om 'n dokument te laat afteken en ons konsep vir die nuwe stelsel goedgekeer te kry. Die eerste aand wat ons in Durban was het ons by die casino geëet en eers 10:30 by ons hotel aangekom. Die reisagent het nie ons bespreking bevestig met die hotel nie en toe het hulle ons kamers vir iemand anders gegee, want die hotel was daai aan baie vol. Die ou wat ons gehelp het was egter baie vriendelik en het vinnig met sy bestuurder gaan praat en kort voor lank was hy terug met goeie nuus. Die hotel was vol bespreek, so ons kon nie die kamers kry wat ons bespreek het nie, maar as ons nie omgee nie kan ons elkeen in 'n 'presidential suite' bly vir die aand. Ons het nie omgegee nie! Die 'presidential suites' van die Elangeni hotel op Durban se noordstrand is definitief nie iets waarvoor ons sou nee sê nie. Die Elangeni is deel van die Sun International groep, vir wie een van die Boedies se groot 'fans', Nicolene, werk. Die hotel self is al redelik oud, maar aan die binnekant is daar niks
mee fout nie.

Elangeni : Op die kaart
Elangeni flatscreen in Kamer
Elangeni : Die Bed
Ek het die ligte afgesit en die gordyne gaan toe trek, maar toe is dit so donker dat ek nie weet waar die bed is nie. Die bed was egter so groot dat ek net so uitgestrekte sprong in die rigting van die bed gegee het, want ek het gereken ek kon hom nie mis nie.
    Elangeni : Die Badkamer
Lord Le Roux in sy hotel kamerjas
Elangeni : Die Koffie (en komplementere eetgoed)
En laastens, die uitsig. Regtig nogal 'n baie mooi uitsig om te hê, om in die oggend mens se koffie te maak en op die balkon te sit en kyk hoe vroeg die Durbaniete al in die branders is om 'n golf of twee te vang voor die dag begin.
Elangeni: Die view
Vrydag het ek net halfdag gewerk en daarna is ek en Estelle na Alet se troue naby Hartbeespoortdam. Hartbeespoortdam is seker amper iets soos die Clifton van Gauteng. Dis 'n ongelooflik mooi area. Die heel week was dit maar nat en Vrydag was nie 'n uitsondering nie.
Leopard Lodge: Op die kaart
Die troue was by Green Leaves, aan die voet van die Magalies en naby die dam. 'n Natuurskoon gebied met groen doringbome oral om jou en regtig mooi uitsigte oor die dam en die koppies in die omgewing. Estelle het vir ons verblyf gereel in 'n hout hut by Leopard Lodge wat regoor Green Leaves geleë is. 
Leopard Lodge: Die Bed
Leopard Lodge:  Die Badkamer
Leopard Lodge: Die Koffie
'n Groot pluspunt vir die Leopard Lodge is sekerlik sy uitsigte. Mens ry met jou kar so teen die bult uit om by die ontvangs uit te kom en waneer mens bo kom kyk jy uit op die hele Hartbeespoortdam en die omliggende omgewing. As mens om kyk is die berg hier agter 'n mens en dit lyk of hy 'n mantel van groen doringbome om hom gedraai het. Ons het wakker geword met die reuk van reën in die lug en die geluid van 'n 'Piet-my-Vrou' wat iewers tussen die bome rond gevlieg het.
Leopard Lodge: Die uitsigte
Leopard Lodge:Parkering
Leopard Lodge: Kamer uitsig
En Saterdagaand is ek Duitsland toe. Hier bly ek in Karlsruhe in 'n woonstel aan die suide kant van die stad. Dis nie presies 5 ster nie, maar ek kla nie. Dis baie gerieflik en ons kan kom en gaan soos ons wil, so dit pas ons. Die kamers is lekker groot en ons het verniet toegang tot vinnige draadlose internet, waarmee ek kan blog en met Skype en 'n webcam met Estelle in Suid Afrika kan gesels.
Karlsruhe: Op die kaart
Karlsruhe: Die Bed
Karlsruhe: Die Badkamer                                                            Karlsruhe: Die Koffie
Die uitsig is nou nie wat wonders nie. As ek by my venster uitkyk, kyk ek basies op 'n straat en dan die Tulpenstrasse tram stop uit. Soos julle ook op die foto kan sien is Karlsruhe die tyd van die jaar maar 'n treurige, bewolkte en koue plek.
Karlsruhe: Die Uitsig