26 October 2008

Cheltenham

Ons was twee naweke terug Cheltenham toe gewees vir 'n tipe van 'n kerk kamp. Dit was die eerste keer wat ons in die geweste van Engeland gekom het en die natuurskoon en ongerepte valleie en heuwels het ons harte gesteel. Hier is 'n kort fotoverhaal van die plek waar ons oornag het naby Cheltenham. Dit is baie oud en pragtig. Dit word besonder goed bewaar en instand gehou en daarom kan ons dit vandag nog geniet.











Die Boedie Logo

x
x
x
x
In voorbereiding vir die 10 jaar viering van die jaarlikse samekoms van die Boedies op die plaas in die Kalahari het die manne besluit dat ons ons eie kenteken kry. Iets wat as simbool vir die hegte vriendskap van die Boedies kan staan en wat daarmee geassosieer kan word. 'n Wapen, wat wanneer mense dit sien, hulle sal weet dit verteenwoordig die Boedies en waarvoor die Boedies staan.

Omdat die Boedies ook erkenning wil gee aan die belangrike rol wat die "Boedie Wives", oftewel die vrouens van die Boedie manne, speel in die welstand en algehele gemoedstoestand van die groep, is 'n ope stemming gehou waarin van die vrouens (die met gereelde toegang tot epos) ook deelgeneem het. Na baie "positiewe" kritiek, beraadslagging, afpersing en omkopery is daar demokraties besluit op 'n wapen.

Dis dus met groot trots dat die Boedies hulle kenteken aan u bekendstel:
Die volgende is 'n kort opsomming van die simboliek van die teken:
  • Die Acacia (doringboom): Sedert antieke tye, simboliseer die Acacia ongereptheid, uithouvermoë en herlewing. Die Acacia is 'n simboliese en heilige boom in baie kulture. Die boom is ook ons definisie van krag en die Boedies is gegrond in hierdie fundamentele begunsels: die ongereptheid van 'n opregte begeerte om mens se persoonlike doelwitte te verbeter, die belangrikheid van harde werk en uithouvermoë of vasbytvermoë in die uitvoer van alles wat mens aanpak. Die Boedies glo in die krag van die vrienskap om nuwe lewe in te blaas en mekaar aan te moedig om persoonlik, akademies en filantropies te groei.
  •    Die Koedoe: Die Koedoe is 'n magiese en waarksynlik een van die mooiste diere in die natuur. Daar is twee Koedoe spesies, die Groter Koedoe (Tragelaphus strepsiceros) en die Kleiner Koedoe (Tragelaphus imberbis). Die Koedoe op die Boedie wapen is die Groter Koedoe wat volop voorkom in die deel van die Kalahari waarin die Boedies jaarliks saamkom. Vinnige Koedoe feite: 
    1. Skouer hoogte - Bul 1.2 - 1.5 m Koei 1.0 - 1.4 m 
    2. Volwasse gewig - Bul 190 - 300 kg Koei 120 - 215 kg 
    3. Leeftyd - 7 - 8 years
    4. Diëet - Herbivoor
    Die Boedies het die Koedoebul as simbool gekies omdat ons so enorme groot respek vir hulle ontwikkel het tydens ons kuiers op die plaas. 'n Tipe respek wat mens net kry wanneer mens in die nabye teenwoordigheid van hierdie koninglike diere verkeer. Die Koedoe simboliseer vir ons uithouvermoë en aanpasbaarheid in enige omstandigheid.



  • Die Kampvuur: Tradisioneel het die kampvuur in verskillende kulture, soos die van die Boesmans en voortrekkers, 'n baie belangrike plek in hulle sosiale interaksie met mekaar gehad. Waar ons in ons hedendaagse roetines in die aande voor die televisie neerval, is daar in vroëer dae in die aande en soms ook in die oggende voor die dag begin is, om die kampvuur bymekaar gekom. Dit was 'n era waarin die kampvuur mense die tyd gegee het om nog werklik met mekaar te kan gesels. Ons sien dit as die tyd toe die Boesmans mekaar raad gegee het oor die jag, die plek waar die dag se gebeure gedeel is en waar daar vir mekaar stories en legendes vertel is. Die kampvuur is ook 'n simbool van met wie jy jou assosieer, in die sin van wie jy om jou kampvuur toelaat of saam met wie jy om die kampvuur sit en wie nie. In die vriendskap van die Boedies is daar altyd 'n "kampvuur". Wanneer ons in die Kalahari is, is dit 'n rooi ysterhout vuur in 'n holte in die sand, wanneer ons in die berge gaan stap is dit 'n sagtehout vuur op 'n skottel, as die Boedies by mekaar kuier is dit 'n braaivleis vuur. In die tye waarin ons lewe en vanwee ons geografiese verspreiding is 'n tradisionele kampvuur nie altyd moontlik nie en dan word "Outlook" of "Email" die kampvuur van die dag. Die ding waar rondom almal gaan sit om te gesels, stories uit te ruil en raad te vra. Dis dan ook waarom die kampvuur in die middel van ons wapen sy plek gekry het.

    Namens myself en die ander Boedies sê ons dankie aan almal wat kon deelneem en gehelp het met die ontwerp en verkiesing van die wapen. Vir die wat nie die fasiliteite gehad het nie, en van die huis af ondersteun het, ons nooi julle om deel te raak van die bond en die wapen te gebruik om julle ondersteuning vir die Boedies mee te wys. Die plan is om met verloop van tyd verskillende artikels te ontwerp wat die Boedies se teken sal dra, so hou die blog dop en bestel jou "Boedie Beanie", "Boedie Cap" of "Boedie koffiebeker" en ondersteun die Boedies sodat hulle die nodige vlugkaartjies, vervoer en verversings kostes kan dek vir volgende jaar se 10 jaar Boedie Jagtrip vieringe! 

        09 October 2008

        SA Celebrities

        Mense,

        Dis mos min deesdae dat jy sommer 'n Suid Afrikaanse celeb raakloop en so paar woordjies kan verwissel. Die uwe, Schalk W Roeland het nou onlangs sommer twee raakgeloop en ek moet dit met julle deel.
        Die eerste SA celeb is 'n jong man wat gebore en opgebring is in die Potchefstroom omgewing en distrik. Ons het ontmoet in ons eerstejaar aan die PUK (oftewel Noordwes Universiteit, Potchefstroom Kampus). Die besondere man is ook besig om vir homself 'n loopbaan in SA televisie oop te werk met al die rolle wat na sy kant toe kom.
        Hy was al in bekende en beminde sepies soos 7de Laan, Egoli, Binnelanders en nog ander ook. Watch mooi, een van die dae is hy so bekend jy gaan dit naby hom kan waag nie met al die papparazi wat hom gaan agtervolg om daai perfekte steelfoto te neem. Ek praat natuurlik van Drikus Volschenk.
        Hy was toevallig op dieselfde vlug van London Gatwick af na Joburg toe via Dubai. Ons het alte lekker gekuier op Dubai terwyl ons gewag het vir ons connecting vlug Johies toe. Hier sit hy en Elzna in Dubai se duty free area, voor een van die hekke en wag.
        Dit was sommer lekker om weer vir Drikus te sien en te kuier. Die man gaan nog groot gaan.
        Die ander celeb wat 'n vermelding verdien, is Johan Stemmet. Die immergoen Noot vir Noot aanbieder steel nou al vir jare lank ons Vrydae of Saterdae aande met die gewildste speletjiesprogram ooit op Suid Afrikaanse televisie. Of hy nou Noot vir Noot like of nie, jou paadjie het al iewers met dit gekruis. Al is dit net om die deelnemers so bietjie gas te gee uit die gemak van jou sitkamerbank.
        Johan het onlangs by die SA Gemeente in Engeland se basaar opgetree en hy was ook seremoniemeester tydens die dag. 'n Dag wat die Britse weer nie lekker wou saamspeel nie, maar almal het dit baie geniet. Hy het ook later in die aand 'n Noot vir Noot spel aangebied wat baie pret en plesier verskaf het vir almal teenwoordig. Dit het ons sommer huis toe laat verlang.
        Hier is ek en Johan, lekker warm aangetrek vir die snerpend kou wat sy kop uitgesteek het die dag.