25 November 2008

Boedie in Duitsland: Die Swaan Koning.

As jy my vorige blog, [Kaprun], gelees het sal jy weet dat ek die naweek in Kaprun, Oostenryk was en dat ek die 2de deel van die naweek nog wou vertel.


Sondagoggend is ons weer vroeg uit die bed en na ontbyt het ons die pad gevat in die rigting van Innsbruk. Ons het op 'n pad gery wat ek reken Top Gear sou kon gebruik in een van hulle 'shows'. Die uitsig was weereens ongelooflik met sneeu bedekte berge en rye bome wat met sneeu bedek is en soos kersbome lyk.
Koning Ludwig II

Ek wil julle egter die hartseer verhaal vertel van die Swaan Koning. Lank, lank gelede...ok dalk nie heeltemal so lank gelede nie, in die vroëe oggendure van 25 Augustus 1845 is 'n prins gebore in Munich, Duitsland. Die prins is na sy oupa, Koning Ludwig I, vernoem en hy het bekend gestaan as Ludwig die 2de. Hy was die oudste seun van koning Maximillian II en koningin Marie. Van jongs af het prins Ludwig baie van somer vakansies gehou, wanneer hy en sy familie na die Hohenswangau kasteel gegaan het, wat sy pa, Koning Max II, laat restoreer het. Die kasteel is teen 'n berg geleë en lê langs die Alpsee meer.Koningin Marie het graag saam met haar seuns in die berge gaan stap en dis dan ook hier wat Ludwig sy liefde vir die berge en hulle ontvlugting ontwikkel het.

Toe Ludwig 13 was het hy gehoor van 'n opera wat deur Richard Wagner geskryf is en handel oor Lohengrin, 'n middeleeuse Swaan ridder en oor Hohenswangau 'n swaan tema gehad het, was hy baie opgewonde om die opera te lees. Koning Max is dood toe Ludwig 18 jaar oud was en hy het toe koning geword. Ludwig het dadelik vir Richard Wagner laat opspoor. Richard was besig om vir sy krediteure weg te kruip, maar Ludwig het al sy skuld afbetaal en vir hom 'n huis gebou.

Ludwig se kastele

Richard het vir Ludwig operas laat opvoer, maar later het die die mense van Bavaria vir Richard laat uit dryf oor hulle gereken het dat hy inmeng met hoe Ludwig regeer het. Ludwig was baie jonk en die druk van koningskap was net te veel. Op 'n stadium was hy ook verloof, maar dit het nie uitgewerk nie. Dis toe dat Ludwig begin droom het. Hy het kastele begin beplan en laat bou. Een van die kastele wat hylaat bou het was Linderhof, wat ons eerste besoek het. Toe hulle Linderhof gebou het, het Ludwig nog baie geld gehad en is daar baie duur materiale en goud oral gebruik.

Linderhof

Terwyl hy in Linderhof gebly het, het Ludwig aan Neuschwanstein begin werk. Ons is van Linderhof af langs plansee, nog 'n groot meer, verby na Neuschwanstein. Neuschwanstein kasteel, het Ludwig naby Hohenswangau kasteel laat bou. Dis 'n sprokies kasteel en is ook die kasteel waarop Walt Disney sy 'Magic Castle' baseer het.

Neuschwanstein

By Neuschwanstein is ons in die kasteel vir 'n toer en dit was baie interresant. Ek sou in so 'n kasteel kon leef. Al die kamers, met ongelooflike afwerkings en skilderye. Die troonkamer het vir my veral uitgestaan. Maar, die tragiese ding van Neuschwanstein is dat Ludwig nooit daar gebly het nie. Hy het onder baie verdagte omstandighede in 'n meer verdrink en al kan niemand verseker sê wat gebeur het nie, word daar vermoed dat hy deur lede van sy regering vermoor is.

Neuschwanstein

3D Neuschwanstein

Na sy dood het sy familie die bouery aan sy droom kasteel net so gelos en nie aangegaan daarmee nie. Die kasteel is kort daarna vir die publiek oopgestel en miljoene mense besoek steeds jaarliks die asemrowende gebou.

No comments: