24 November 2008

Boedie in Oostenryk: Kaprun

[Nota: Kliek op die fotos om hulle duideliker te sien.]

Ek en 2 van my kollegas het die afgelope naweek 'n Audi A4 gehuur en is deur die suid-ooste deel van Duitsland , Oostenryk toe. Dit sou my eerste keer in Oostenryk wees. Ons is omtrent so 13:00 Vrydagmiddag uit Karlsruhe weg en het met die A8 hoofweg in die rigting van Stuttgart gery. Die weervoorspelling vir die naweek het 'n sneeustorm voorspel en ons wou kyk of ons voor die ergste sneeu begin val het, by ons destinasie kon uitkom. Van Stuttgart af is ons Munich toe en daarna is ons Oostenryk binne. Ons het ons bestemming eers teen 20:00 bereik en ons was gedaan. Teen die tyd dat ons in Kaprun aangekom het was dit al donker en dit het erg gesneeu en die pad was baie glad. Gelukkig het ons vir winterbande gevra toe ons die Audi gehuur het en dit het gehelp om ons op die pad te hou. By die hotel aangekom het ons net vinnig 'n paar fotos geneem en toe dadelik gaan slaap.

Die kaart hieronder wys ons toer van die naweek, wat in totaal 1051 Km was. 
View Larger Map


Saterdagoggend is ons vroeg uit die vere en ek het my sneeubroek wat ek in Karlsruhe gekoop het, my beanie en Estelle se handskoene wat ek geleen het aangetrek. Die Audi was toe onder die sneeu en ons moes eers die vensters skoon skraap met 'n skrapertjie voor ons kon ry. Ons is dadelik na Kitzsteinhorn toe. Kitzsteinhorn is a'n berg in die hoof bergreeks van die Alpe in die omgewing van Kaprun, Salzburg, Oostenryk en het 'n hoogte van 3203 meter bo seevlak Ons is met die Ski-kabelkarretjie teen die berg op. Die wind het sterk gewaai en dit het heeltyd gesneeu, so dit was nogal 'n ervaring om met die vrek lang kabel teen die berg op te gaan. 


'n Goolge Earth foto van waar ons gebly het
Wanneer mens bo kom, eindig mens by 'n Ski-oord waar honderde skiërs teen die berg af ski. Hier het ons eers 'n ent in die dik sneeu gaan stap en daarna mekaar met sneeuballe gegooi en baie lekker in die sneeu gespeel. Dit was vrek koud en wange wou afvries. Die sneeu was dik en mens kan nie glo hoe sag dit eintlik is nie. Ek het op 'n stadium op my rug in die sneeu geval en sag te lande gekom. Dit was die keer regtig die eerste keer wat ek werklik in sneeu was en mens voel soos 'n kind, wat net die heeltyd daarmee wil speel. Ons het dan ook ons eie sneeuman probeer en vir 'n eerste keer dink ek, het ons heel goed gedoen. Hulle wys altyd hoe mens vir hom stokke vir arms gee, maar alles was onder die sneeu en daar was nie 'n stok in sig nie.






























Na ons vir 'n paar ure in die sneeu gespeel het was ons moeg en koud en wat beter as om 'n glassie rum en coke te vat om die koue te probeer onderdruk? Ski en drank het 'n sterk konotasie, want na mens so ruk in die sneeu was is die idee dat mens iets sterks afsluk om die koue uit die sisteem te kry. Ons wou nie die tradisie breek nie en het in die Ski-bar gan sit en kuier. Die atmosfeer was beneuk! Hulle het lekker musiek gespeel en almal was in 'n ontspanne luim. Op die grootskerm het hulle flieks gewys van Red Bull Skiërs wat allerhande "moves" gooi.
Die Ski-Bar
Ski-Bar binne
Kyk hoe het my handskoene gelyk na 'n ruk in die sneeu. Dit was hel koud.
Stukke ys sit aan my handskoen vas
Na middagete is ons teen die berg af en het ons nog fotos in die omgewing van Kiztsteinhorn geneem, voor ons Zell am See toe is. Zell am See sal voortaan im my gedagtes as die geboortedorp van Kersvader bekend staan. As mens na die sprokiesdorp toe kom in die winter en daarna nie aan Kersvader glo nie, weet ek darem nie. Dis 'n betowerende klein dorpie wat in 'n vallei tussen die berge lê, met 'n groot meer aan die eenkant. Oral in die strate was alles spierwit en die bome was oortrek van die sneeu. Dit was regtig iets besonders en ons wou sommer die heeldag net rond ry en fotos neem. Hier is 'n paar, maar ek glo nie dit doen die plek 'justice' nie.

[Kliek op foto vir groter weergawe]
[Kliek op foto vir groter weergawe]
Sondag is ons van Kaprun af terug met 'n ander pad Karlsruhe toe, maar ek moet nou eers gaan slaap, so ek sal die 2de deel van die naweek bietjie later blog.

No comments: