26 November 2008

Twickenham

Die wat ek nou hier skryf is al geskiedenis, maar vandat ek weer fasiliteite by die huis het, kan ek hom klaarmaak. Ons was so rukkie terug Twickenham toe gewees vir die SA - Engeland game. Pieter het my so ruk terug gevra of ek wil saamgaan en ek het dadelik JA geantwoord. Pieter, Matt en Matt se Pa het tot by my gekom en toe vat ons die trein Waterloo stasie toe. Daar het ons vir Madeleen gekry wat saam ons gegaan het.

Dit was ongelooflik om so baie Saffas in een plek te sien! Oral waar jy loop was dit net Bok truie en omies wat al rooi gedrink is wat Afrikaans praat. Ons het die trein van daar af gevat, was omtrent stampvol gewees. Dit was so paar minute se stap van die stasie af tot by die grounds en die eerste sneeuvlokkies het begin val terwyl ons nog oppad was, dis sommer so koud teen jou ou gesiggie.

Manne, ek het darem maar SA gemis Saterdag by die ruggas. Dit was LEEUKOUD gewees. Mens kan die leeus daar in die agtergrond sien, so koud was dit. Matt het die kaartjies gaan kry en ons het gestaan en koud gekry. Toe begin die groot soektog na iets om die keel mee nat te maak. Ons het ons gatte af gesukkel om 'n bier in die hande te kry. Mense sit mos nie hier op stoele en braai 'n stuk wors op die gasbraaier en suip brannas soos ons varke in SA daar in en om Loftus nie.

Nee, jy staan rond, kry moer koud en vat maar 'n pint bier, as jy een in die hande kan kry. Ek sou my linker kuitspier gegee het vir 'n lekker Rikkie Louw met ys en Coke, maar nee. Die mense vat mos net bier vir sap. Ons het naderhand deur die hekke gegaan op soek na 'n bier, want die toue was so rof jy sou selfs die highlights gemis het as jy vir een moes wag. So paar daar gevat, sommer by 'n ou wat so balie op sy rug dra en die sap so daaruit tap. Bril-flippen-jante idee as jy my vra. Ons moet so ding kry vir as ons weer bos toe gaan. Jy sal mos nooit dors ly nie. Ure se pret, jy kan sommer die tuitjie so fix dat hy net so in jou mond inspuit. Met Amarula in of 'n koue lemoensap sal dit altyd 'n wenner wees.

Nou ja, 'n sap agter die blad sterk toe vat ons maar die pad na ons sitplekke toe. Ons moes toe eers stop by 'n stalletjie wat boerewors verkoop, of nee, Traditional Farmers Sausage. Mens kan mos nie boerewors vertaal nie, dit klink sommer simpel en volksvreemd as jy dit in 'n ander taal probeer verwoord. Anyway, toe klim ons in die tou vir die Farmers Sausage. Die sausage met 'n broodjie kos toe iets soos £5. Toe dink ek mos nou aan Tolla wat die grap vertel het van die R20 se komkommer. Ek wou die tante voor vra of sy weet hierdie boereworsrol kos R75 en of sy vir Tolla geken het, maar ek dink sy was Brits, sy sou dit nie gevang het nie.

Ons kom toe by ons stoele en mense, Twickenham is 'n smart plek. Daar is 'n nuwe stand wat bitter netjies is, met selfs 'n hotel in. Nou ek het al gehoor van lekker, maar as jy nie eers hoef op te staan uit die bed uit nie om op Twickenham ruggas te kyk nie, dan is dit mos nou lekker. Die Engelse sing hulle volkslied uit volle bors uit en dit was nogal 'n belewenis om te hoor hoe hulle God Save the Queen so lekker sing. Ons Nkosi was nie so groot sukses nie, maar die mense het darem die woorde probeer reg te kry.

Om by die ruggas te kom, ons almal weet nou ons het hulle behoorlik in die grond in gespeel. Dit was busonder lekker om daar te sit en om te sien hoe 'n Suid Afrikaanse span wat voorheen daar gesukkel het, hulle behoorlik opdons. Halftyd was daar 'n malle geskarrel vir die toilette en ek het amper een Engelsman uit die aarde geskouer toe hulle stamperig begin raak het. Ek het hom gevra of hy vir Generaal de la Rey ken, maar hy het ook nie verstaan nie.

Die lap of honour na die tyd deur die span was baie cool. Baie van die aksie het voor ons gebeur wat dit nogal 'n onvergeetlike ervaring gemaak het. Ek sal beslis weer 'n game daar gaan kyk, die atmosfeer wat elektries.

Ons het na die tyd 'n draai gemaak in die Twickenham shop om te sien watter voorraad van truie, hemde en hoede hulle het. Toe was dit weer die trein terug, London Bridge toe, weer 'n paar sappe daar gevat en toe die aand afgesluit met 'n Burger King op die trein terug.

Voorwaar 'n suksesvolle uitstappie.

No comments: