07 June 2008

Gholf Swing Analise

Die Boedies het elke jaar 'n groot saamtrek wat maande voor die tyd beplan en gereël word en geen verskonings word aanvaar nie, almal moet dit bywoon. Ek praat natuurlik van die jaarlikse Boedie Jag Trip na die Kalahari en die jaar is geen uitsondering nie. Schalk is besig om planne te maak om uit Britanje uit af te vlieg, Attie sal van die Kaap af op kom en Mila sal uit die Vrystaat uit ry. Die jaar is daar egter ook die groot Boedie Gholfdag en voorbereiding daarvoor is hard aan die gang.




Ek en Estelle het by 'n 'Driving Range' hier naby aangesluit en gaan nou al vir die afgelope 5 weke vir lesse. Die week wat verby is het ons 'n video analise sessie bygewoon waar die 'Pro' wat ons afrig na 'n video opname van ons swings gekyk het en ons foute uitgewys het, waaraan ons in die volgende paar weke moet werk.



Die video hierbo wys my huidige swing met 'n 7 yster. Daar is twee aspekte van my swing waarop ek veral moet konsentreer.




Eerstens, soos julle op die foto hier links kan sien, moet ek werk aan my regter been waneer ek terug swing. Hy moet gebuig bly soos wat hy is waneer ek die terug swing begin, eerder as wat ek hom reguit maak soos wat ek op die oomblik doen.





Die tweede en meer ernstige probleem waarop ek moet fokus is die feit dat ek my elmboog buig waneer ek deur swaai. Op die foto links onder sien mens eers my elmboog van agter af en dan die gholfstok. Regs kan mens sien dat ek 'n tipe sirkel met my arms vorm in plaas van om my linker arm reguit te hou deur die swing. Die gevolg is dat ek gereeld die bal links trek en nie baie konsistent is as dit by rigting kom nie.

Daar was darem ook 'n paar goed wat ek reg gedoen het. Die hoek wat my rug met my bobene maak was ongeveer 120 grade, ek hou my kop redelik stil deur die swaai, my voete is min of meer skouer breedte en my hande is ook op 'n gemaklike afstand van my lyf af.







Estelle se gholf het ook nou al baie verbeter en sy het baie goed geslaan tydens die video sessie, soos wat julle in die video hier onder sal sien.


Ons afrigter het basies net vir haar gesê om seker te maak dat haar voete skouer breedte is, want dan sal sy heelwat verder kan slaan. So miskien stuur ek haar nog op die veld teen die Boedies! Ons geniet die gholf baie en probeer om elke dag na werk mekaar by die 'driving range' te kry. Soos wat Schalk altyd sê, die gholfdag is aan soos "Donkey Kong"!

1 comment:

S.W. said...

Maar my magtig mense,

'This game just got serious'.

Goeie post Stella. Ek like dit kwaai. Is die een waar die twee swings langs mekaar is 'n voor en na video? Dit lyk so, want die een aan die regterkant lyk sommer stukke beter en lyk nogal indrukwekkend.

Ons het vandag 'n vinnige 9 gaatjies gaan speel. Dit het egter nie so goed gegaan soos met julle golf op die oomblik nie. Ek het 'n clip van my swing. Ek sal probeer om hom ook te gooi op die blog.

Heelwat werk wat nog moet ingesit word voor die Roeland-kamp gereed is vir die groot golfdag (Wie weet, miskien het ons hier nog 'n jaarlikse instelling op die Boedie kalender?)

Maar voorwaar, voorwaar ek weet gewis - Game on like Donkey Kong!!