06 June 2008

Afrikaans@2038


Ek en Estelle het die week na die finominale Afrikaans@2038 in “The Performer Theatre” in Menlo Park gaan kyk. Dis regtig ‘n uitstekende vertoning en ek reken die vertoning word baie onderskat. Laat ek eers sê wat ek van “The Performer Theatre” dink. Dis ‘n redelike klein plekkie met ‘n verhoog en dan stoele en tafels wat baie formeel gedek is. Die idee is dat mens ‘n ete kry voor die vertoning en daarna die vertoning kyk. Die idee is nie sleg nie, maar ek is nie seker watse tipe atmosfeer hulle met hulle advertensie skerms probeer skep nie, maar dit nie werk nie. So ek reken “The Performer” is nie die beste plek om die Afrikaans@2038 te doen nie en ek wens hulle wou dit eerder in ‘n “Barnyard Theatre” hou. Die vertoning is lewendig en energiek en mens wil dit in ‘n meer ontspanne atmosfeer kyk.



Die toneel gaan oor Afrikaners by die eeufees viering van die Voortrekker Monument. Die gautrein, waarop die akteurs van die vertoning is, kry tegniese probleme en die personeel wat die vertoning gereël het besluit om sommer self die vertoning te lewer. Die akteurs in die vertoning is baie talentvol en die een ding wat in my opinie die vertoning laat uitstaan is die hoeveelheid energie wat hulle inspan. Dis soos ek gesê het, ‘n baie energieke vertoning en die passie waarmee dit uitgevoer word is aansteeklik. Dit sal onregverdig wees om iemand uit te sonder maar Braam en Antjie, wat soort van die hoofrolle speel, is briljant. Nog 'n bekende gesig is die van Izak Taljaard wat die moffie in Hester en Ester Bester speel.

Die perd op die foto is Regart de Bruin en manne, kan die man ‘n korsertina speel! Hy gooi mielies met daai ding en laat die hare op jou nek regop staan. Almal kan baie goed sing en daar is darem maar niks mooier as ‘n goed geskryfde Afrikaanse lied wat met soveel passie gesing word nie. Ek het ‘n paar keer hoendervleis gehad en nog nooit het “Al lê die berge nog so blou” so goed geklink nie. Die baie skerp manier waarop die liedjies gemeng en saam gesing word is regtig vrek goed gedoen en daarom sal ek graag die Afrikaans@2038 vertoning in “Barnyard Theatres” in Johannesburg wil sien. Baie van die 'songs' wat hulle gesing het is dieselfde as die wat ons altyd op die plaas om die vuur sing.

Die ouens gee Afrikaans ‘n goeie naam en daarom is dit ook met trots dat die Boedies hierdie blog in Afrikaans bring. Dis miskien nie altyd die tipe Afrikaans wat vir CJ Langenhoven sou trots maak nie, maar dis die Afrikaans waarin die Boedies kuier en dit is ons Afrikaans. Ek hou baie daarvan dat mense deesdae so trots is op die taal en dit is goed om te sien dat in Suid Afrika Afrikaners so trots is op die taal, meer as enige van die ander taalgroepe.

Nota aan die ander Boedies:Pappas die ‘girl’ wat Antjie speel is ongelooflik sexy! Ons dink haar naam is Alma Jacobs, ons is nie doodseker nie, maar een ding is seker, sy’s ‘n baie sexy boeremeisie!

No comments: