05 April 2008

Charles Tarpley & Fonnie Du Toit

[Kliek op fotos om te vergroot] [Die foto hierbo is die eiendom van Stefan le Roux en mag nie gebruik word sonder sy toestemming .]

Ek het onlangs begin om inligting te versamel oor my familie geskiedenis en my voorvaders. My ma het my gehelp met allerhande name, datums en familie verwantskappe. Sy het toe ook vir my ‘n paar fotos versamel en van die fotos was baie oud en dus ook baie interresant. Byvoorbeeld was daar ‘n foto wat in 1936 geneem is en agter op het iemand al die name van die mense op die foto geskryf en ook hoe oud hulle toe was. Een van die fotos wat sy my gegee het is een wat vir my en die Tarpley kant van my familie baie waardevol is. Dis ‘n foto van my Oupa Charles Tarpley in sy Griekwaland Wes rugbyklere en langs hom op die foto staan Fonnie Du Toit. Die foto is geneem in 1939 en onderaan die foto staan daar “Represented Griquas in Curry Cup League – 1939”.
[Fonnie Du Toit]
Links op die foto is Fonnie Du Toit en regs my Oupa Charles Tarpley wat in 1919 gebore is en dus in 1939, 20 jaar oud moes gewees het. Vir die van julle wat nie vir Pieter Alfonso (Fonnie) Du Toit ken nie; Fonnie is gebore op 13 Maart, 1920 op Vryburg en is oorlede op 21 Julie 2001. Hy het sy eerste toets vir die Springbokke gespeel op 13 Augustus 1949 teen die All Blacks en sy laaste teen die Franse op 16 Februarie 1952.



Gedurende die tydperk tussen 1930 to 1966 was ons rugby internasionaal baie hoog geag en die spel is ontwikkel en verbeter dwars oor ons land sodat ‘n hele paar nuwe unies ontstaan het. Die eerste toernooi van die dekade in 1939 het bestaan uit 8 spanne. Die Westelike Provinsie en Grens het die trofee gedeel daai jaar, maar daar was ook Transvaal, Oranje Vrystaat, Griekwaland Wes, Oostelike Provinsie, Natal en Suid Westelike Distrikte. Daai dae was daar nog nie ‘n Noord Transvaal, Boland of Oos Transvaal span nie. Daar is toe net elke 2de jaar vir die Curriebeker gespeel en as ‘n internationale toerspan die land besoek het is die toernooi nog ‘n jaar uitgestel, sodat daar soms tot ‘n 3 jaar gaping was tussen toernooie. Die legendariese Fonnie Du Toit, die Springbok skrumskakel, het van 1940 tot 1955 vir Noordelikes gespeel en in total ‘n 102 verskynings gemaak.

In die 1939 toernooi het Noord Transvaal en Boland vir die eerste keer aan die kompetisie deelgeneem. Die tweede wêreldoorlog het daartoe gelei dat provinsiale rugby gestaak is en eers weer in 1946, na die oorlog, het die kompetisie weer van die grond af gekom. Fonnie het later vir Noord Transvaal gespeel en in 1949 het hy vir die eerste keer vir die Springbokke uitgehardloop teen Nieu-seeland. 120 Spelers is na proewe uitgenooi en aan die einde van die week is 32 moontlike spelers aangekondig. Lees verder oor die 1949 wedstryd by http://www.webfactor.co.za/toets_03_1951.htm.
[My ooms Ouboet en Koekoe]

Die storie wat my oom Koekoe (Billy) en oom Ouboet (Willy) altyd vertel, is dat my oupa daai jare vir proewe in Johannesburg genooi is, dieselfde tyd wat Fonnie genooi was, maar dat my ouma op die tyd hoogs verwagtend was met hulle eerste kind, oom Ouboet, en my oupa toe besluit het om eerder by haar te bly. Hulle sit in die plaas in die Kalahari se sitkamer, elk met ‘n Castle in die hand en hul vra hulself af, wat sou gebeur het as my oupa Charles destyds wel besluit het om te gaan vir die proewe. Oom Ouboet dink vir ‘n rukkie stil en sê dan dat as my oupa gegaan het ons dalk nooit die plaas sou gehad het nie. Oom Koekoe vat ‘n sluk van sy bier en dit lyk asof hy sommer nou stukke beter voel. Almal sit terug en ek vermoed almal reken, dit sou uitstekend gewees het as my oupa kon gaan, maar dat ons almal baie bly is hy het nie en daarom die voorreg het om vandag hierdie lieflike plaas in die Kalahari te kan deel.

2 comments:

Attie said...

Befok Stella ek laaik dit. Baie interresant. Nou verstaan ek ook waarvandaan jou goeie rugby gene vandaan kom.

Nice.

Anonymous said...

Wat? Rugby Gene?? ;-)