21 April 2008

Boedie in Duitsland: Swart Woud, Baden-Baden

Swart Woud in die wolke


Erik, ons duitse kollega, was vroeg by die plek waar ons bly om ns te kom oplaai. Ons het 'n vinnige stop by die vulstasie gemaak om koffie en ontbyt te kry en sommer gebottelde water ook te koop. Daarna is ons met die hoofweg suid in die rigting van die Swart Woud.Oppad soontoe ry mens deur allerhande klein dorpies en in die dorpies sien mens orals huisies wat in die tradisionele swart woud boustyl gebou is. Die huisies is meestal 'n reghoekige boksie met 'n dak op, maar dis baie anders as waaraan ons gewoond is en dit lyk baie oulik.

Tipiese huisie in die Swart Woud

Ons is na die Wildsee area van die Swart Woud. Die Swart Woud is 'n dennehout woud wat op 'n bergreeks in die Baden-Württemberg provinsie van suidwes Duitsland groei. Dit is regtig 'n asemrowende plek en is oneindig groot. Dis lente hier in Duitsland, so meeste van die sneeu op die berg het reeds gesmelt, maar oral lê daar nog 'n klomp sneeu rond. Ons het 'n staproete in die berg gaan doen en moes met tye deur die sneeu stap. Dit was vir my 'n baie lekker ervaring om sneeu te sien en daar deur te loop en als. Ons het 'n paar 'ski-slopes' gesien en die masjiene waarmee hulle gewoonlik mense teen die hellings op trek.

Boedie knie diep in die sneeu

Aan die onderkant van die Swart Woud is die Rhine vallei en van waar ons gestap het kon mens vir kilometers ver allerhande klein huisies in die vallei sien. Dis asof die berge net ewe skielik ophou en dan lê daar hierdie groot plat vallei teen die berg. Die lug op die berg is vars en omdat dit nog koelerig is, is dit baie vars.Die Wildsee is 'n klein dammetjie wat tydens die ys tydperk gevorm is en sedertdien water hou. Die Swart Woud self is ook baie bekend vir sy koekoekhorlosies wat hier met die hand gemaak word. Verder kry mens ook die wilde bessies oral waarvan die bekende Swart Woud koek gemaak word.



Swart Woud

Van hier is ons na Baden-Baden.Die woord Baden, beteken bad en die dorp is so vernoem na die baddens wat die Romeine rondom 'n warm water bron in die dorp gebou het. Die baddens is steeds te siene waar dit vandag onder een van die geboue in die dorp bewaar word. Baden-Baden het dan ook vandag 'n groot klomp gesondheids komplekse, waarvan sommige steeds van die warm water bronne geruik maak.

Die Rhine vallei uit die Swart Woud

Die dorp se mense het bogemiddelde banksaldos en ook bogemiddelde ouderdomme. Dis basies die uithang plek van die rykmense in Duitsland en daar is dan ook allerhande duur winkels oral in die nou straatjies. Naweke stroom mense na die plek toe en heers daar 'n tipe van 'n vakansie atmosfeer, met musiek in die strate en mense wat oral by straat restuarante sit en eet en gesels. 'n Baie lekker plek om 'n Sondag in deur te bring.


Baden-Baden


Na ons 'n draai by die Casino gemaak het, net om rond te kyk, want mens moet gedas wees om in te kan gaan, is ons met een van die kleiner paaie terug Karlsruhe toe. Onslangse storms het baie van die bome in die Swart Woud verniel met die gevolg dat daar 'n groot klomp hout beskikbaar was vir brandhout en oral langs die pad sien mens honderde stappels gekapte brandhout wat reglê om gebrand te word.

Strate van Baden-Baden


Nog Baden-Baden strate

Ons het weereens moeg by ons blyplek aangekom en na al die gestap het ons sommer dadelik gaan slaap.

No comments: