18 April 2008

Boedie in Duitsland: Jo'burg-Frankfurt-Karlsruhe

Ek blog die post hier uit Karlsruhe:
Dit het begin met inter-departementele politiek oor wie die stelsel gaan bou. Eers sou die Belge dit doen en toe ewe skierlike, laasweek, is besluit die Duitsers moet dit doen. Om ‘n lang storie kort te maak, daar’s besluit ek moet Karlsruhe toe om na die Duitse stelsel te gaan kyk. Ek is laas Vrydag na die Duitse Ambasade om aansoek te doen vir ‘n visum om vir 10 dae Duitsland toe te kan gaan. Die 'admin girl' by my werk het my ‘n adres in Pretoria gegee wat ek in my GPS gesit het en ek het probeer om vroeg daar te wees. Die verkeer was rof, so ek was eers na 8:00 daar, maar toe ek wil in ry verduidelik die vrou by die ambasada vir my om na die konsolaat kantore te gaan wat in Hatfield is, in Pretorius Straat nommer 1267. Daar aangekom moes ek eers nog gaan visum fotos neem, wat ek gelukkig sommer daar in Hatfield Plaza kon kry. Omdat ek genooi is deur my maatskappy in Duitsland en ook ‘n brief van my bestuurder in Suid Afrika gehad het en reeds al die vorms ingevul gehad het, was dinge heel maklik. Nog ‘n tip vir iemand wat wil gaan aansoek doen vir ‘n visum: Gaan vroeg! Daar’s elke dag ‘n lang ry en hulle maak 10:30 toe, al sê die bandopname 11:00 wanneer mens bel om uit te vind.

Ek moes Woensdagoggend nog gaan Euros kry by American Express en toe weer Hatfield toe om my visum te gaan kry. Ek was verlig toe hulle hom vir my gee, want ek het heeltyd gewonder of ek hom so vinnig sal kan kry. Ek is daarna huis toe om my klere te gaan kry. Ek het vir Estelle sommer by haar werk gaan groet, want ek wou nie hê sy moet alleen in die aand van die lughawe af terug ry nie. Oppad lughawe toe het ek amper begin stres toe ek na ‘n uur en ‘n kwart nog in die verkeer sit, maar ek was darem net na 17:00 by O.R. Tambo. In geboek, my ma-hulle gebel om baai te sê en teen 19:10 was ek in die lug oppad Duitsland toe. Dis my eerste trippie oorsee en dit het so uitgewerk dat ek dit stoksiel alleen moes aanpak. Die van julle wat gereeld ons blog lees sal weet dat ek nie vreeslik baie van vlieg hou nie, maar ek moet sê op die vlug na Frankfurt was ek nie so benoud nie en die groot 747 hanteer die turbulensie baie goed. Dis net so beknop en ongemaklik. Ek is 1,78 meter lank en om my bene in daai klein ruimtetjie in te druk en dan nog te probeer slaap is rof. Na so 9 ure op die vliegtuig het die Duitser langs my, wat seker oppad terug Duitsland toe was, maar nie meer so wel geruik nie en sy gesnork het ook nie my pogings om ‘n uiltjie te knip baie gehelp nie. Dis 11 ure se vlieg en mens slaap elke nou en dan. Dis nie lekker slaap nie en help nie vir die moegheid nie, maar as jy weer sien dan het jy so 20 minute geslaap.

Frankfurt Stasie


Ons was so 5:30am op Frankfurt lughawe. By paspoort beheer deur, my tas gekry en toe deur die lughawe na die treinstasie of eerder die “Bahnhof” wat Duits is vir die spoorweg. Daar moes ek ‘n kaartjie koop na Karlsruhe op die ICE (InterCity Express). Daar was ‘n vroeer trein waarmee ek op Mannheim kon oorklim na ‘n ander trein en dan Karlsruhe toe gaan van daar, maar ek was bereid om ‘n paar minute te wag vir ‘n direkte trein. Ek kon sommer met my kredietkaart betaal. Die kaartjie was vir “Gleis Fern 5”, wat soos 'platform 5' is. Ek het die “Gleis\Track 5” borde gevolg en op die 'platform' op ‘n bankie gaan sit. ‘n Rukkie voor die trein kom verander die bordjies om te wys wat die volgende trein is en hoelaat hy daar sal wees. Op daai tyd kom die trein in en dan moet mens kyk vir ‘n trok met ‘n 2 op, want 2 is die 2de klas of ekonomiese trokke. Daar is ‘n trok op die trein waar mens kan koffie koop en dan die 1ste klas trokke. Die ICE hardloop teen iets soos 300km\h. Dis vinnig en mens sien dit veral as hy by ‘n ander een verby gaan. Die trein stop by Mannheim stasie en vertrek dan na Karlsruhe. Dis vreemd om te sien hoe mense aanvaar jy kan Duits praat en dan vir jou goed sê. ‘n Ou oomie het iets gepraat van ‘n koffer en iets gesê wat geklink het soos sit. Ek kon nie verstaan wat hy sê nie, maar kon op ‘n manier aflei dat hy gesê het hy dog daar sit iemand op die stoel waar hy wou sit oor hy my “koffer” of tas daar sien staan het. Ek het vir hom beduie hy kan maar daar sit.

Frankfurt Platform 5

Op Karlsruhe het ek van die trein af geklim en met die trappe af geloop om by die Karlsruhe “Hauptbahnhof” (hulle trein stasie) uit te kom. Na ek eers die area daar rondom op voet verken het en ‘n paar fotos geneem het is ek na een van hulle Mercedes taxis toe. Die bestuurder kon nie ‘n word Engels praat nie, maar ek het vir hom die adres gegee van waar ek wou heen en hy het gelyk of hy weet waar dit is. Toe hy my aflaai het ek op die meter gesien dat ek hom 15 Euro en 10 sente skuld. Ek moes vra vir ‘n slippie en het vooraf uitgevind dat mens vra vir die “regning”. Hy het my ‘n strokie gegee en ek was reg. Ek het vir Erik, die Duitser vir wie ek kom sien het gevra en ons het die res van die werksdag in vergaderings deurgebring. Ek was egter baie moeg en het nie heeltyd lekker gefokus nie. Na werk is ek saam met my ander Suid Afrikaanse kollegas na Rastatter Straße (die snaakse ß simbool verteenwoordig ‘n dubbel s en dit is dus strasse) met die tram. Karlsruhe het ‘n ongelooflike tram stelsel of “Stadtbahnhof”. Wat soos ‘n stads spoorweg stelsel is. Daar word baie gepraat oor die Karlsruhe tram model en dat dit ‘n voorbeeld vir ander stede is van ‘n uitstekende publieke vervoerstelsel. As mens van Suid Afrika af kom, dan hang jou mond oop waneer jy dit sien en gebruik. Regtig ongelooflik. Mens kan deur die hele stad beweeg sonder enige probleme. Ek het besluit om sommer ‘n maand kaartjie te koop omdat dit die maklikste sou wees en ek kan dit in elk geval van my werk af terug eis. Dit het 43 euros gekos, wat baie is as ek dit self moes betaal.


Karlsruhe Hauptbahnhof

Die tram stelsel gee die stad ‘n tipe van ‘n sprokies wêreld gevoel. Dit voel of ek die hele tyd op die stel van Harry Potter is. Al die ou geboue, standbeelde, nou strate en mense op hulle fietse laat die stad onwerklik voel, asof dit nie ‘n regte stad is nie, maar een groot ‘Theme Park’. Gisteraand is ons saam met Erik na ‘n baie tradisionele “Badish” pub, waar ons duitse bier gedrink het en lekker geëet het. Ek is moeg saam met die ander 2 Suid Afrikaners na ons kamers toe en ek het ingestap en dadelik gaan slaap, want dit was die einde van wat soos ‘n 36 uur dag gevoel het.

No comments: