20 April 2008

Boedie in Duitsland: Heidelberg

Heidelberg Schloss
[Kliek om te vergroot]
Wat ‘n dag?! Ons het besluit om met die trein Heidelberg toe te gaan. Heidelberg is seker so 50 kilometer van Karlsruhe af en ons hoof missie was om die na die Heidelberg kasteel of ‘Heidelberg Schloss’ te gaan kyk. (‘n Kasteel in duits is ‘n ‘Schloss’). Ons is vroeg uit die vere en toe ons buite kom was die weer nie van die beste nie. Dit was toegetrek en het liggies gerëen. Met die tram is ons na die Karlsruhe se

Huaptbanhof (hoof treinstasie). Daar moes ons kaartjies kry om by Heidelberg uit te kom en daar’s verskillende opsies. Dit hang af hoe vinnig wil jy beweeg. Met ‘n gewone trein kan jy teen 120km/h Heidelberg toe ry of jy kan die ICE kies en teen 300km/h ry. Die ICE is natuurlik die duurder opsie en ons was nie haastig nie, so ons het die gewone trein gekies. ‘n Goeie ‘tip’ is om sommer waneer mens jou treinkaartjie koop ‘n bus/tram kaartjie te koop om in Heidelberg mee rond te rits. Die trein kaartjie kos omtrent €27 en die bus kaartjie vir Heidelberg was €5. Die kaartjie is vir 24 uur geldig, so mens kan enige trein Heidelberg toe vat en enige trein terug Karlsruhe toe, wat dit baie gerieflik maak. Ons het sommer by die stasie koffie en ‘n broodjie gekoop vir ontbyt. Ek het my koffie op ‘n tafeltjie by 2 duitse oomies neergesit en effe gesukkel om die ‘stupid’ melkgoed oop te kry om in my koffie te gooi. Die baie vriendelike duitse oomie het vir my verduidelik hoe ek dit moet doen. Ek was sommer op my senuwees, want al kon ek sien hy is vriendelik en wil net help, het hy vinnig gepraat en ek kon niks verstaan nie. Ek kom toe agter hy bedoel ek moet die ding so aan die een kant vat en

die plastiek dingetjie breek. Ek probeer dit toe, maar breek hom die keer na die verkeerde kant toe en toe is daar geen ander opsie as om my duim deur die foelie prop te druk en so die melk uit te kry nie. Die oomies moes seker gedink het ek is blêrrie onnosel. Ek het toe maar vir hom probeer verduidelik ek kan nie duits praat nie, maar hoe sê mens dit nou? Ek het sommer gesê “Ich nie spreken de duits!”. Hy het dit gevang en vra toe iets, wat ek af kon lei is waar is ek vandaan. Ek het vir hom gesê ek is van Sud Afrika en ek was ‘impressed’ om te hoor hy sê ‘English und Afrikaans’ . Die man moet al iewers iets van Suid Afrika gehoor het. Wel, ek reken ons is nou sommer groot tjommies en as ek hom weer sien sal ons sommer weer dik stukke met mekaar gesels!

Heidelberg Schloss

Om met die trein te ry is natuurlik vir my reeds ‘n ‘treat’ op sy eie en dis baie lekker om deur die landskap te ry en al die huise en plase en fabrieke te sien. Die wêreld hier is baie groen. Op Heidelberg aangekom het ons ‘n kaart by die toerisme sentrum gaan kry, want al het ons nou die tram ryery onder die knie gekry, moes ons nog uitvind hoe die busse werk. By Heidelberg Hauptbanhof staan daar maklik ‘n duisend indien nie meer fietse nie, soos wat mens van hulle huise af tot daar ry vir die dag en dan met die trein verder gaan. Dis meestal sommer sulke ou geskroefde fietse en nie die netjiese tipe fietse wat mens nou en dan is Suid Afrika sien nie. Die idee is nie om die mooiste en beste fiets op die dorp te hê nie, maar eerder net om vervoer te hê om maklik by die stasie te kom.

Fietse by Heidelberg Hauptbanhof

Ons het eers nie die busse mooi verstaan nie en is met die verkeerde bus, met die verkeerde nommer in die verkeerde rigting en het iewers by Heidelberg universiteit uitgekom. Dit was vroeg op ‘n ‘Samstag’ (Saterdag) en die studente moes seker nog geslaap het, want die kampus was maar leeg. Ek het my Nokia se GPS hier en kon sien ons is in die verkeerde rigting en aan die verkeerde kant van die Neckar rivier. Ons het afgeklim en ‘n tram gevat terug na die stasie toe. Die voodeel van die €5 kaartjie wat ons vroeër gekoop het, is dat mens heeldag op enige tram of bus daarmee kan ry. Ons het uiteindelik die busroetes uitgefigure en bus 33 gevat na die kasteel toe. Heidelberg is ook baie mooi. Ek sal nie probeer om te verduidelik hoe mooi dit is nie, want mens moet dit self ervaar, maar glo my dis ‘n baie mooi dorpie. Ons is teen die bult op in die kasteel se rigting.



Die bergbahn treintjie

Naby die kasteel is daar die bergbanh waar ons vir €8 ‘n kaartjie gekry het om met ‘n tipe van ‘n kabeltreintjie teen die berg op te gaan. Die treintjie is meer as ‘n honderd jaar oud en werk op ‘n baie interresante konsep. Daar is twee waens waarin mens kan sit. Die een is aan die bokant van die berg en die ander aan die onderkant en die twee is met ‘n kabel aan mekaar vas. Daar is dan net een spoor waarop altwee loop

en in die middel tussen die bokant en die onderkant van die spoor is daar ‘n seksie waar die spoor in twee split sodat die twee bymekaar kan verby gaan. Die gravitasie krag en gewig van die boonste wa trek basies die onderste wa teen die berg op, terwyl die onderste wa help om die boonste wa te rem, sodat dit nie totaal weghol nie. Die waens is van hout en kreun en steun maar om teen die steilte uit te klim. Dit was mistig en het weereens die hele toneel ‘n Harry Potter gevoel gegee. Dit was baie leker, maar dit was jammer dat daar soveel mis was, want ek glo mens so op ‘n mooi sonskyn dag baie meer van Heidelberg self van daar bo kon sien.
Waar die spoor in 2 split

Toe ons weer onder kom was ons by die kasteel. Die Heidelberg kasteel is baie oud en hulle reken hy is gebou voor 1214. Dit het ook al baie ‘shots’ gevat, van veral oorloë en brande. Die kasteel is 3 keer al in die geskiedenis deur weerlig geslaan en elke keer

het groot dele afgebrand. Mens kan sien watter dele gebrand het en daar is ook ‘n deel van die een toring wat heel afgebreek het. In die binnehof is al die konings en leiers wat sedert die twaalfhonderds in die kasteel regeer het uit sandsteen gekap en teen die een muur opgesit. Dis baie goed gedoen en ek wil nie eens weet hoe lank dit hulle moes gevat het nie. Binne in die kasteel is daar die ‘Großes Fass’, ‘n uitermatig groot wynvaatjie, binne in die kelder van die kasteel. Dit het ‘n kapasiteit van ongeveer 220 000 liters en is in 1715 gebou uit ‘n honderd en dertig eikehoutbome.




Die Großes Fass


Die tuine buite die kasteel is baie mooi en dis vreeslik moeranties. My verbeelding het die heeltyd met my weggehol en my ingedink hoe dit moes gewees het om in en rondom die kasteel te moes geleef het. Ek het my verbeel hoe ruiters met hulle perde daar sou ry en hoe die perde se hoewe op die klippaadjies sou klink

en die reuk van die sale sou ruik. Ek het ook gesien hoe die prinsesse en die koning in die oggende in die tuine sou kon rondloop en naby die perde stalle was ‘n gebou waarop daar beelde van takbokke en wilde varke uitgekap is en ek reken dis waar die koning en die prinse die wild wat hulle gejag het gebring het om geslag te word. Soos ek gesê het, dis ‘n baie romantiese plek en soos wat mens voorheen op stel van Harry Potter was, was ek nou skierlik in die wêreld van ‘The Lord of the Rings”. Ons het in ‘n plek net buite die kasteel geëet, wat dieselfde betowerende atmosfeer gehad het. Daar het ek my eerste “Hefe Weisse”, ‘n gewilde duitse bier gedrink. Was glad nie sleg nie, veral na al die stappery.


Heidelberg


Na ons ‘n hele klomp fotos geneem het is ons met die bus terug na die stasie en toe terug Karlsruhe toe. Ons is so 19:00 se kant weer met die Tram in die rigting van Durlach in Karlsruhe waar ons gaan kyk het na die wêreld bekende Flic Flac Circus. Dis ‘n groep wat allerhande akrobatiese toertjies en goed doen, ‘n baie lewendige en energieke vertoning. Ons het dit ook baie geniet. Net voor middernag het ons MacDonalds gekoop, want daar was nie veel anders oop nie. Ons is terug huis toe en voor ek my kop op die kussing neergesit het en vas gaan slaap het, het ek bymyself gedink dat ons die dag regtig ten volle benut het en dit was vrek lekker!

No comments: