20 January 2009

Desember Vakansie - Deel 1

Soos julle kan onthou uit een van my vorige posts, is daar 2 redes hoekom ek opstaan voor die son uit is. Een, om te gaan visvang en twee, wat in hierdie geval die rede is, om see toe te gaan. Dit was 'n lang jaar en ek het lank hierna uitgesien en kon nie glo dat die tyd uiteindellik aangebreek het nie. Ek en Sune, saam met my ma-hulle is 5:15 op die N1 Suid. Kaapstad toe. Daar gaan ons vir so paar dae by my ouma en die res van die familie kuier. Ons het sommer regdeur gery aangesien ons nie kon slaapplek kry in die Karoo erens nie. Alles is vol of peperduur.
Ons het goed gery en die plekkie waar ons in die Kaap gebly het was ook baie oulik. Ons was lekker moeg na die dag in die kar en het sommer vroeg gaan slaap, want more is die lekkerste deel van die Kaap vakansie. Ek en Sune gaan saam met Adrian wyndrink, .......... ek bedoel proe!

Ons het eers 'n lekker koffie gedrink by Attie en Candice se huis, (Ons is nou nog jammer Candice moes werk, en dat sy nie saam met ons kon kuier nie) en toe begin Attie met die toer. Eers het ons 'n draai by Nederberg gaan maak. Ons wou graag die Here-huis wat altyd op die TV is met ons eie oë sien. Die wynlandgoed was net so indrukwekkend soos wat ek gedink het dit sou wees, met hoë bome en lieflike tuine en natuurlik die groot uitgestrekte wingerde wat wag om gepluk te word om dievolgende bottel Shiraz te maak. Ons het nie hier geproe nie, Attie het ons na een van guntelinge plekke toe te neem.
Terwyl ons so ry deur die pragtige deel van ons land, kan ons drie nie help om te droom van 'n huisie op 'n wynplaas nie. Attie het die kar gestop by nog 'n pragtige plek. Seidelberg wynlandgoed.. Hier het 'n Fransman ons bedien met heerlike wyn en 'n bak cream crackers om die palet te neutraliseer. Ons het hier heerlik gekuier terwyl ons van Seidelberg se bestes geproe het. Met 'n vrugtekelkie neus en ondertone van piesang en haselneute, was die Chenin Blanc beslis die lekkerste wyn wat ons geproe het. Ons het hom 'n 18/20 gegee. Die Fransman het aanhou aandrae en vertel van die persentasies Pinotage en Cabernet Souvignon in hulle rooiwyne. Al wat ek weet, hulle was ook lekker!
Na die heerlike wyn het ons gids ons na Fairview geneem waar ons gaan kaas proe het. Daar het ons die lekkerste kase geniet saam met 'n heerlike soetwyn. Kyk bietjie uit vir die logo van die bokke wat by die toring uitloer as julle weer gaan kaas koop.
Heeltemal te gou is die dag verby, en dit was heerlik om weer saam met my Boedie te kon kuier. Adrian, ons gaan beslis weer kom kuier, maar nie weer so kort nie.

1 comment:

Stefan said...

Dit maak my sommer jaloers om Boedies so saam te sien kuier. Ons kry nie meer so gereeld kans om te kuier nie, so as mens 'n kans kry moet mens groot gaan.