24 January 2009

Kruger Nationale Park, Januarie 2009

Ek vee die laaste slaap uit my oë, terwyl hulle in die donker probeer fokus om die hek te sien. Dis nou 4:30am en dit lyk of daar reeds een of twee karre voor ons uit is. Dis ok, dit gaan nie oor wie eerste uit is nie, solank mens net redelik vroeg uit die kamp kom. Ons het gisteraand reeds ons oggendroete uitgewerk en dus draai ons regs om op die H1-4 te kom. Die son is nog nie uit nie, ek sit die ligte op dim. Skielik sien ons 'n donker silhoeët voor in die pad. Dis nog te donker om dadelik te sien wat dit is, maar dit kom reg op ons af.


Eers toe die skadubeeld in die pad naby genoeg was sodat die kar se ligte op hom skyn kon ons sien wat dit was. 'n Haeyna! Estelle gryp na die kamera maar die son het nog nie sy kop uitgesteek nie en met die min lig is dit nie maklik om 'n goeie foto te kry nie. Die auto-fokus sukkel om die regte verstelling te kry en die kamera druk die ISO oor 400. Sy gebruik die flash, maar ter vergeefs. Teleurgesteld oor ons nie 'n goeie foto kon kry nie en ons so graag 'n Haeyna wou sien, ry ons stadig verder. Ons het seker nie 5 km verder op die H6 gery, voor ons op 'n hele groep Haeynas afgekom het nie. Perfek! Die son het teen die tyd sy kop net-net begin uitsteek en die oggendlig het perfek op die Haeynas geval. Ons het gou agtergekom dat hulle 'n gat of 'n lêplek reg langs die pad gehad het. Daar was ook twee kleintjies wat lui-lekker in die son kom sit en bak het. Dit was net ons en nog 'n kar en ons kon rustig sit en kyk hoe die groep hulle oggend begin. Estelle het die koffie aangegee en ek het kans om ons nuwe kamera uit te toets vreeslik geniet. Elke keer waneer 'n Zebra 'n geluid naby gemaak het, het die groep op en wakker gestaan en in die lug geryk en hulle ore gespits om te sien waar dit vandaan kom. Ons het ook vir 'n lang ruk na die interaksie tussen die kleintjies en hulle ma sit en kyk.

In Junie laasjaar, het ons besluit om vir ons 'n ordentlike Digitale 'SLR' kamera te koop. Ons het na beide Nikon en Canon gekyk en baie raad gekry wat basies gewys het daarop dat 'n mens maar tussen die twee moet kies, as jy 'n kwaliteit kamera wil koop. Omdat ons voorheen met 'n Canon gewerk het en ons net goeie resultate gehad het, het ons besluit op die Canon EOS 450D. Ons het 'n standaard 18 - 55mm lens saam gekry, maar die plan was om te spaar tot Desember en dan vir ons 'n 70 - 300 mm IS USM lens te koop. Die wildtuin trippie was ons eerste geleentheid om ons nuwe speelding uit te toets. Ons is baie tevrede met die kamera en al wat nou kort is ondervinding, 'n bietjie fotografie kennis en die tyd om bos toe te kan gaan.

Ons was al voorheen in die wildtuin oor Januarie, maar die keer was besonder warm. Vroeg in die oggende het dit al begin warm word en teen 10:00am was die gemiddelde temperatuur 35 grade Celsuis. Die temperatuur hou dan aan styg tot ongeveer 41 grade en in die middae sak die kwik effens terug na 36 grade toe. Ons het een middag 18:17 'n foto geneem van die Corolla se "Outside Temperature" lesing en dit was toe nogsteeds 36 grade. In Satara het ons in 'n rondawel met lugversorging gebly en dit was baie lekker. As ons van ons oggend 'drive' af teruggekom het, het ons die deure en vensters toegemaak en die rondawel soos 'n yskas laat afkoel, terwyl ons ons middagslapie gevat het. 14:00 was ons dan weer in die pad. By Lower Sabie het ons egter in een van hulle opgeslaande, permanente tente gebly. Die het net 'n dakwaaier in gehad en omdat die tent heeloggend in die son bak, is dit teen 12:00 in die middag vrek warm binne. Die tente is baie goed toegrus, het 'n ongelooflike uitsig oor die Sabie Rivier en dis baie lekker om in die aande op die stoepie te sit en te braai, maar ek beveel dit nie aan vir die Somer nie. Dis net te warm en ek weet nie lekker hoe mens dit koeler kan maak nie.

Ons wens was om die keer, soos ons dit noem, "Die Ontwykende Drie", eerder as die "Groot Vyf", te sien. "Die Ontwykende Drie" in ons boekie is die Haeyna,  die Jagluiperd en die Wildehond. Ons was bevoorreg om 2 van die 3 te kan sien. Ons kon net nie die keer die Wildehonde kry nie.

Na ons vir ure een middag, in die hitte, op 'n stowwerige sinkplaatpad gery het, en niks gesien het nie, sien Estelle skielik iets en sê dat ek moet stop. Daar op die S39, nie ver van waar dit op die H7 uitloop nie, op 'n laag groeiende boomstam, spot sy 'n Jagluiperd. Weer was dit net ons.Die hare op my nek het behoorlik regop gestaan. Wat 'n voorreg om 'n paar wonderlike oomblikke in die wêreld van hierdie pragtige, grasieuse dier te kon deurbring. Net ek, Estelle en hierdie jong Jagluiperd wat bo-oor die langgras uitgekyk het, terwyl bobbejane benoud in die boomtoppe waarskuwings uitroep. Na 'n paar kosbare minute het sy in die langgras verdwyn. Dit was maar die tweede keer wat ons 'n Jagluiperd in die Kruger gesien het en was die hoogtepunt van ons vakansie. Na so 'n "sighting" maak die hitte nie meer saak nie.

Ons het darem ook van die ander diere gesien, die "Groot Vyf" en heelwat roofvoëls. Ons het onder andere ook op hierdie gewonde Luiperd afgekom. Ons vermoed sy bly in 'n stormwaterbrug wat onder deur die H1-4 pad, noord van Satara loop. Die ystervarkpen wat in die vel op haar voorkop gesteek het en daar agtergebly het, getuig sekerlik van 'n rowwe geveg tussen haar en haar vorige potensiele aandete. Sy was nie baie gelukkig nie en het baie aggresief rondgeloop. Terwyl ek agteruit gery het, met my venster oop om 'n foto te kry, het sy ewe skielik omgeswaai en beneuk na die kar toe gekap en gegrom. In my gespartel op die venster toe te maak het ek per ongeluk in plaas van die voordeur venster toe te maak, die agterste venster oopgemaak. As Luiperd nie vasgesteek het nie, was ek katkos! Ons hoop maar net dat sy teen die tyd van haar wond herstel het.


Ek het dit al voorheen gesê, maar laat my toe om dit weer te noem. Ons hier in Suid Afrika is in die uiters bevoorregte posisie om een van die wêreld se grootste wonders en toeruste aantreklikhede op ons agterstoep te kan hê. Ek het al met Duitsers gepraat wat maar net droom daarvan om 'n safari in die Kruger te kan doen. Ons besef nie aldag hoeveel dit hulle kos om die Kruger te kan besoek nie. Daarom maak dit my sommer gelukkig om oorsese toeruste te sien wat die wild so geniet. Die Kruger bied 'n mens volgens my, baie meer as wat baie Europese, Westerse of Amerikaanse lande kan. Dis 'n juweel wat oop is vir alle Suid Afrikaners wat 'n liefde vir die natuur en vir diere het, teen 'n baie bekostigbare prys. Ek raai dus almal aan wat hierdie blog lees om hulle volgende vakansie in die Kruger te gaan spandeer. Vergeet van oorsese reise, net om te kan sê jy was daar. Gaan bring eerder 'n week deur in die rustigheid van die bos.


Ons kan nie wag vir die volgende geleentheid om weg te kan breek na Oom Paul se plaas toe nie!

3 comments:

S.W. said...

Magtig, maar dit lyk darem maar lekker. So in die bos, luilekker rondry, die somer son en saffiere benut, male sonder tal.

Ek was nog net in die Kruger vir 'n "lyn patrollie" maar wat ek gesien het was ook indrukwekkend.

Kruger, jou lekker ding!

Mila said...

Stella, jy moet daai foto's inskryf vir kompitisies! Dit is ongelooflik mooi. Ek het verledemaand begin om die tydskrif
"Weg" te koop. Daar is 'n ou wat kritiek lewer op amateurs se foto's en raad gee. Ook is daar 'n pro wat van sy wild foto's wys en sê hoe hy dit geneem met. Ek is seker jy sal die res van die tydskrik ook geniet.

Anonymous said...

Your blog keeps getting better and better! Your older articles are not as good as newer ones you have a lot more creativity and originality now keep it up!