10 September 2008

Boedies in die Kalahari '08

Uiteindellik was dit weer daardie tyd van die jaar. Kalahari toe. Plaas toe. Tyd om te vergeet van alles in die wêreld wat jou pla. Daar vind jy die tyd om dit uit te praat, raad te kry, perpektief en antwoorde te kry. Maar dit is nie die hoofrede hoekom ons plaas toe gaan nie. Dit is tyd saam met die Boedies. Darem niks so lekker soos om ‘n groot vuur te sit en nonsens te praat saam met jou pelle nie. Vir my is die enigste kere wat nonsens praat sin maak. Saam met ander mense voel die altyd so aangeplak en ongemaklik. Nie saam met die Boedies nie.

Maar die kersie op die koek bly mos maar ook daardie Kudu-bul. Verlede jaar het ons ‘n mooie gekry, gaan dit hierdie jaar weer die geval wees. Gaan ons nuut gekroonde golfkampioen net so suksesvol wees met kudu skiet soos met “voëltjies” skiet.

Na die golf in die kar gespring en in die pad geval. Dit was al amper donker toe ons met die bakkie uit Stella uitry met al die proviant agterop gelaai. Ons het soos tradisie bepaal so halfpad plaas toe eers gestop om van die versnapperings te geniet, want toe word ons dors.
Eers naby 8 uur op die plaas aangekom. Sommer met die intrapslag in die kombuis is ons al gegroet deur die somerbewoners. Dit is nou daai spinnekoppe wat veronderstel is om vlieë en goggatjies te vang. Blykbaar nie gevaarlik vir mense nie, maar ek weet darem nie. Die Kalahari-modelle was ook aansienlik groter as waaraan ek gewoond is. Dan vertel Stefan nog stories van Romanne.

Ons was redellik uitgeput na die dag in die son, en het gou uitgepak en iets geëet voordat ons bed toe is. Ons het maar eers laat opgestaan dievolgende oggend, maar toe almal op en aan die gang is, is ons die veld in. Kain het ook reggestaan by die bakkie om die hekke vir ons oop te maak in ruil vir ‘n soetdingetjie. Dadellik het ons sommer baie bokke gesien. Ook sommer in een van die eerste lande het Kain ‘n “Tholo” (Kudu) gewaar. Een met horings wys hy. Toe hy eers vir ons in die regte rigting wys sien ons hoe die bul oor die draad spring en in die bosse verdwyn. Kain het toe vir Stefan baie vreemd aangekyk. So asof hy wou sê: “Hoekom jaag julle dan nie die bok nie, het julle net kom foto’s neem die jaar?”

Stefan het toe vir hom verduidellik dat ons eers dievolgende dag kon skiet. Omdat dit so warm was sou die vleis sleg word as ons dit te lank laat hang.

Adrian was oorgehaal om ‘n tarentaal plat te trek die jaar. Aangesien die .22 opgradeer is met ‘n jagteleskoop, hoe sou ons nou kon mis. Na ons eerste paar draaie het ons eers weer ‘n paar skote gaan skiet op ‘n plastiekbottel om seker te maak daar is nie stof in die loop nie.

Ons het toe ook gesien dat die tarentale redellik veilig kan voel aangesien ons maar gesukkel het om die plastiekbottel, wat nie juis beweeg het nie, raak te skiet. Na die sessie is ons weer huis toe, want toe word ons dors.

Na aandete is ons weer die veld in. Opsoek na springhase.
In die verlede het ons staat gemaak om rou spoed om hulle te vang, maar daardie kite vlieg nie meer nie. Hierdie jaar het ons meer “omsingel en verwar” taktiek gevolg. Maar dit was nie suksesvol nie. Daardie hase raak elke jaar net vinniger.

Vrydag en Saterdag weer ons rondtes gedoen vroeg in die oggend en laat in die middag. Weer het ons baie bokke gesien, maar nie ‘n bul om te skiet nie. Aangesien ons die kans gehad het, het ons nadergestap aan ‘n aasvoëlnes. Soos tipiese toeriste het ons gekyk hoe die ma ‘n draai vlieg en die kleintjie sy kop by die nes uitsteek om ook te sien wat onder op die grond aangaan.

Na Vrydagmiddag se ekspidisie het ons ook die pragtige sonsondergange van die Kalahari probeer vasvang. Dit maak ‘n mens sommer poëties.

Saterdag was nog ‘n fotosessie gewees. Dit was spesiaal vir SW se Britse kollegas. Die vra mos hoeka vir SW: “These Kudu’s, do they live in the woods? Do you breed them and then shoot them?” Pommies! Hy het toe ‘n paar foto’s van die personeel daar op die plaas geneem en waar hulle bly om die Ingelse te wys hoe dit lyk hier in Afrika.


Saterdagmiddag, nou is dit ons laaste kans. Daar was nie veel hoop dat ons die keer iets gaan kry nie, en die 243 het maar eenkant gelê. Eweskielik roep Kain weer “Tholo” en wys weer horings met sy vingers langs sy kop. Voor in die pad staan die 2 bulle. Groot genoeg om te skiet, defenitief. SW, het die geweer uit, maar hulle het ons nie genoeg kans gegee nie en verdwyn agter die bosse in. Ons het lank gesoek maar kon hulle nie weer opspoor nie. Later het ons ‘n trop Springbokke gesien. SW het aangelê. Hy kon egter nie ‘n goeie skoot inkry nie en het besluit om nie te skiet nie aangesien hulle nie stil genoeg gestaan het in daai 2 minute wat ons vir hulle gekyk het nie. So is ons weer terug huis toe. Die res van ons het ‘n paar skote op die tarentale gehad, maar ook die was onsuksesvol. Selfs al het hulle doodstil en half aan die slaap in die boom gesit.

Terug by die huis het ons weer vuur gemaak en elke oomblik daar op die plaas probeer vasvang in ons geheue. Ten spyte van die Kudu’s en die Springbokke wat nie wou stilstaan nie, was die plaas weer ongelooflik. Heeltemal te gou na my sin is ons weer terug in Potch en het ons almal weer vinnig gegroet terwyl ons weer begin droom van die volgende keer op die plaas!

1 comment:

S.W. said...

Mila, maar dis darem maar lekker leesstof wat jy daar neergepen het!!

Ek kry sommer al klaar weer heimwee van die lekker tye daar, al was dit net nou die dag gewees. Wel, nou is dit weer begin beplan aan volgende jaar se groot ekspedisie. Dit was hierdie jaar my 10 jaar anniversary van plaas toe gaan. Volgende jaar is dit Mila en Attie se 10de jare. So volgende jaar beloof al klaar om nog groter en beter te wees.

Die kombinasie van die golf en die plaas was koning die jaar. Dit was ook ons rekord van nie bad nie. Van Woensdag tot Sondag. Vir die wat wil weet, ons het behoorlik bos geruik. (Of ek dink so, na so ruk ruik jy nie meer regtig jouself nie). Jy ruik net die reuke van die bos soos 'n monsterkoedoe wat om die draai staan en wei of tarentale wat enetjie afknyp as Attie hulle mis skiet.