13 September 2008

Die gezoem van die Bye

Hou julle van heuning? Wel, ek en Estelle het vroeër die week, een middag na werk, uitgevind ons boer met bye. 'n Hele swerm het in die kas in ons tuin ingetrek en was al besig om op grootskaal heuning te produseer. Ons het eers gewik en weeg of ons nie dalk ons werke moet los en profesionele heuning boere moet word nie, maar toe maar besluit om van daai pesbeheer mense te kry om vir Maya en haar makkers te kom uit rook.






Nie lank nie of 'n ou in 'n ruimtepak klop aan die deur. "Ek dink jy is dalk opsoek na die planetarium? Dis daar naby WITS, maar ek kan nie nou praat nie, ek sit met 'n effense van 'n by probleem." Gou uitgevind die man het nie sy wentelbaan verloor nie, maar was eintlik hier om te help met die bye.

Hy het hulle eers met so daggapompie berook en kon hoor die bye was sommer vinnig almal baie hoog, veral toe een by my oor verby vlieg en sê: "Hoezzzzzit!" Daarna het die byman sy rubberhandskoene aangetrek en ek dog bymyself, "Boet, as jy van plan is om hierdie hele swerm bye te 'strip search', gaan ons blêrrie heel aand hier wees." Ek sien toe hy gebruik dit eintlik om die heuningkorwe mee af te haal en die hele kas skoon te maak. Met die handskoene het hy sommer so handvol bedwelmde bye op 'n slag in 'n sak gegooi.

Nou dat die kas weer na sy normale toestand teruggekeer het, is ons grootste bekommernis dat die bye gaan terug trek. Die byman sê dat hy tussen September en Oktober 'n groot klomp byneste in die stad moet verwyder en dat die bye lief is om na so week weer terug te trek. Ons hoop maar hulle bly nou weg.

1 comment:

Anonymous said...

I love HONEY!!!!