22 July 2008

Water, jou lekker ding!

Biep Biep, Biep Biep. Vrydag oggend, 5:45. Snooze knoppie. Biep Biep, Biep Biep. Suné staan op om te gaan stort. Sy stap badkamer toe, kom terug en klim weer in die bed. Sy sê daar is nie water nie. Is die pype dan gevries? Dit was nie so koud deur die nag nie. Nie eers onder vriespunt as ek reg onthou nie. Sy stel maar weer die wekker om die storttyd te omskep in nog 'n paar minute van slaap.

Later moet ons maar opstaan. Ek het ook nie gisteraand gestort nie. Die bed het te lekker gelyk. Sou voor werk stort. Gaan kry maar water in die yskas en gooi dit in die ketel om daarmee gesig te was. O hel, die toilet kan ook nie spoel nie. Gisteraand se skottelgoed moet ook nog gewas word. My ma-hulle kom kuier die naweek. Hopelik is alles darem al reg voor hulle vanmiddag arriveer.

Ek het weer deur die loop van die oggend 'n draai by die huis gemaak net om seker te maak dat daar nie 'n pyp geys en toe gebars het nie. Dit het met 2 mense wat ek ken die winter al gebeur en hulle het baie skade gehad. By die huis aangekom loop ek in een van die bouers raak. Hy se dat die hele kompleks nie water het nie. So erens het iets gebars of gebreek wat ons van water voorsien. Dit behoort darem nie te lank te vat om te herstel nie. Ek stuur toe maar vir my ma-hulle 'n sms dat hulle maar moet stort voor hulle ry. 'n Mens weet nooit.

Kom 2uur by die huis, vol hoop. Niks water nie. Ek is toe saam met Suné landloop toe. Kom terug by die huis, vol hoop. Niks water nie. Ek ry toe en gaan koop 'n paar 5l bottels water. 'n Mens kan nou nie eers tee en koffie maak nie. My ma-hulle het toe ook sommer vir ons 'n paar 5l bottels gebring. Gooi al die drinkwater oor in bekers en houers wat ons het en ry om weer die bottels maar by die naaste motorhawe te gaan volmaak. Ek wil nou nie van die duur drink water in die toilet afgooi nie. Wie het geweet dat 'n toiletbak vat 9-10l water om te spoel. Dit is bleddie baie. Moes maar weer ry om te gaan volmaak vir die opstaan dievolgende oggend.

So staan ons op, vol hoop. Niks water nie. Gelukkig het ons darem genoeg om almal aan die gang te kry. My ma en Suné is dorp toe om onder andere eetgoed te kry vir die rugby, en met die bottels om hulle te gaan volmaak. Praat later met my neef wat in Pellisier bly. Dit is die woonbuurt net bo ons wat ook nie water het nie. Hulle water het darem aangekom. Great, nou kan dit nie meer te lank wees nie. Maak elke halfuur die kraan oop, en luister angstig na die toiletbakke om vol te loop, vol hoop. Niks water nie.

Saterdagaand maar by familie gaan stort en die bottels daar gaan volmaak. Sondagoggend was ons by 'n ander neef se dogterjie se doop. Na die tyd eers by 'n vulstasie gestop om die bottels vol te maak. Kom terug by die huis, vol hoop. Niks water nie. My ma-hulle is terug huis toe en Suné bel 'n vriendin dat sy daar gaan stort. En om die bottels vol te maak. Kom terug by die huis, vol hoop. Niks water nie. Maandagoggend maar weer water in die ketel kook om gesig te was. Ek het toe sommer by die werk gestort voor my dag begin het. Intussen het ons op OFM se nuus gehoor wat die probleem is. Bloemwater of die munisipaliteit, wie ookal verantwoordellik is, het 'n klep of 'n valve of 'n ding reggemaak wat foutief is op die pyp wat vanaf die opgaardam loop wat ons water voorsien. Dit is opsigself nie 'n probleem nie, want daar is resouvoirs wat in sulke gevalle water aan die woonbuurte voorsien. Hulle het toe nooit gekyk of dat die resouvoirs genoeg water het nie. Terwyl hulle toe aan die pyp werk, gebruik die mense in die suidelikke woonbuurte van die stad toe die resouvoir leeg. Nou is die pyp herstel, maar die resouvoir moet nog vol loop sodat die waterdruk genoeg is om die buurte te voorsien. Hulle se toe ook op die nuus dat alles 6uur die aand herstel sal wees. Great!


6 Uur bel ek vir Suné om te hoor of daar water by die huis is, vol hoop. Niks water nie. Toe kom sy maar hier na my werk toe dat ons maar hier kan stort. So gaan slaap ons. Suné staan toe middernag op en daar hoor ek 'n wonderlike geluid. 'n Toilet wat spoel en weer vol loop. Vanself.

As ek ooit moet kies om sonder water of elektrisiteit te wees kies ek elektrisisteit. Sonder om 2 keer te dink. Daar is alternatiewe vir krag, nie vir water nie. Ek weet nou nie of julle die gaan lees nie, Pres. Mbeki en Mnr. Zuma, maar maak 'n plan om mense wat nie hierdie basiese geriewe het nie te help. So paar minder partytjies, minder onnodige vlugtige oorsee, minder onnodige luukshede en spandeer dit aan die mense van die land wat dit nodig het. Ek het baie empatie met hulle situasie. Wees dankbaar as jy 'n kraan oopdraai en daar is water!

1 comment:

Stefan said...

Hel, Mila, klink my julle het omtrent 'n rowwe naweek gehad. Ek waardeer sommer nou die water meer, maar wag jou storie het my 'n droë keel gegee, ek moet nou eers 'n glas water gaan drink.