23 October 2007

Stywe Lyne

Daar is darem maar klomp mooi geluide in die wêreld. Een van hulle is as jou katrol so sszzzzzz skree soos wat die ou grote jou lyn aftrek en probeer wegkom. Hierdie is die somer wat ek myself belowe het, dat ek meer gereeld gaan visvang. So far, so good! Ek was darem al 4 keer by die waters gewees vandat die warmer weer sy opwagting gemaak het. 3 Daarvan was baie slegte dae, met die Augustus winde wat laat was en 'n dag by die dam baie onplesierig gemaak het. Hierdie laaste Saterdag was gelukkig 'n heel ander storie.


Ek het saam met my klein-neef, Radyn, en Paul wat ook hier by die varsity werk gaan vang. Paul se 2 dogtertjies het ons ook vergesel. Hierdie keer was dit die eerste keer dat ek Tierpoortdam se karpe sou aandurf. Met die stormsterkte winde van die vorige uitstappies het ek nog nie gesien waartoe my nuwe gerei instaat is nie. Ek en Radyn het die vorige dag eers gaan oefen om ons akkuraatheid met die gooiwerk te optimaliseer.



By die dam aagekom het die wind weer fris gewaai, en ek was bekommerd dat dit weer dieselfde tipe dag gaan wees. Die slyk het ook dik gelê die eerste 5m van die oewer af. Maar wie is bang. Ek het my 11ft Blue Marlins uitgehaal en my nuwe Okuma Interceptor Baitrunners opgemondeer en die lyne is in met 'n gly Rietvlei strop. Ek het soos oudergewoonte floaties en 'n degie op die hoeklyne gehad vir 'n begin. Die slik was 'n probleem deur aan die lyne te haak en die lyn dan skeef te trek. Oplossing, skuif die stokke in die water in.
Paul was eerste suksesvol met 2 mooi karpe. Die grootste een van 3.5kg. Ek het later 'n mooie van 3 kg gevang en Radyn se beste was 2.5kg op sy eerste hengel uitstappie. Die wind het darem vinnig gaan lê, en dit was 'n lieflike dag. Die klein karpe en babers het ook darem gepla om te sorg dat ons nie te rustig raak nie. Paul was die hengelaar van die dag, en het nog 2 mooies uitgetrek. Die aas van die dag was beslis Kariba erdwurms. Niks anders het op hierdie dag gewerk nie.

Daar was darem tyd om 'n vleisie op die kole te gooi en die rustigheid on die gazebo se skaduwee te geniet. Na middagete het die grotes verdwyn en het ons net nog 'n paar kleintjies gevang. Dit was intressant om te sien dat die grotes nie diep gele het nie, en ons het omtrent so op 60m gevang. Paul het verduidellik dat dit omtrent daar is waar die ou Kafferrivier se loop was.

Die einde van die dag het net te vinnig gekom.
Die stokke is vir oulaas ingegooi en die kar is solank begin pak. 'n Baie lekker dag by Tierpoort gewees. Die waters sal my beslis weer sien!
.

2 comments:

Anonymous said...

Geluk met die vangs Mila, dit lyk of julle 'n baie lekker tyd gehad het.

Anonymous said...

HI!i don't speak afrikaans, but only english...great blog! greetings!..if you wanna coem and see my one...http://gamberogonzo.blogspirit.com...it'a recipes' blog...interesting...and if you wanna write something please do it!!!