16 May 2007

SA Rugby maak droog

Ek luister gister en vandag die nuus so. Oor die stories rondom Luke Watson se last-minute insluiting in die Bok-groep. Toe dink ek by myself: Hoe kry SA Rugby dit reg om sooo droog te maak in 'n week wat veronderstel was om een van die grootste in die rugbygeskiedenis van Suid Afrika te wees?

Die week wat die Super 14 finaal voorafgaan, 'n finaal wat vir die eerste keer in Suid Afrika gespeel word, tussen twee Suid Afrikaanse spanne, nadat hulle onderskeidelik eerste en tweede op die log was na die ligawedstryde.

Soos voorheen, het politiek sy lelike kop in die skrum ingedruk om ook sy pond vleis by te dra. Kom ons kyk weer na die ontknoping van die storie. Dis omtrent soos Le Bold Le Beautiful.

Hoskins dwing Luke Watson in die oefengroep in nadat die 45 name reeds bekend was aan hom en sy trawante. Jake en sy bende is woedend oor daar oor hulle koppe gegaan is. Ek sou ook wees. Skielik spring almal op die wa en almal maak 'n bydrae tot die hele debat. Toe John Robbie Maandag oggend met Hoskins op 702 'n onderhoud voer, toe val Hoskins hom aan en vertel vir hom hy dink hy is die enigste een wat iets weet van rugby af in Suid Afrika. Klink vir my soos iemand wat terugbaklei nadat hy homself in die hoek vasgeverf het.

Toe kom Stofile ook in die debat in met die stelling dat Jake White 'n rassis is want Luke Watson se pa het destyds sy rug op SA Rugby gekeer en in die townships gaan ruggas jol. Nou word Luke teruggekry. Dis seker van die grootste bol poe wat ek lanklaas gehoor het. Dis so goed om te se Jake kies nie vir Hougaard nie want hy het saam met kleurlinge na skool en in pouse gespeel toe hy klein was in die Boland. Jake kies nie vir Hougaard nie want hy dink nie Die Houg pas in by die tipe rugby wat hy wil vir die Bokke soek nie. Mense, word wakker en hou op om alles terug te trek na Suid Afrika se apartheid verlede. Asseblief. Daai tyd is verby en die meeste mense begin al so bietjie daarvan vergeet, tot iemand dit weer opbring met sulke snert.

Ek kry vir Luke die jammerste in die hele storie. Hy is in die middel en ek dink nie hy verdien dit nie. Wat hy verdien, is om betrek te word by die Springbokke. Ek is miskien nie sy grootste fan nie, maar die ou is goed. Blerrie goed. Hy het iets om te gee vir die Bokke, veral in die Wereldbeker jaar wat vol is en waar beserings hulle tol kan eis op ons topspelers.

Ongetwyfeld dra die media ook hulle deel by om die hele ding sensasioneel te maak en om kyker- en lesergetalle op te stoot. Ek sien een van die koerantvoorblaaie vangoggend toe ek werk toe ry: "Luke and Jake face to face today". Eish, dramaties...

My wens is dat sport en politiek glad nie met mekaar moet inmeng nie. Die twee behoort nie langs dieselfde vuur nie. Dis soos as jy nie na 'n braai toe gaan nie, want die ou wat jou girl voorheen gevry het, is ook daar. Dit gaan net nie werk nie.

Kom ons hoop Saterdag is 'n briljante eindstryd om die Super 14. Dat ons voorwaar Super rugby gaan sien.


No comments: