17 May 2007

Die Groot vraag


Alles het baie goed verloop tot dusver. Die ouers is gevra, die kar is gepak en vol petrol, genoeg in elkgeval om in Betlehem te kom. Ek sal daar weer volmaak. Ek kan sien sy vermoed nog niks nie. Sy wonder of dit die naweek is wat ek haar gaan vra om te trou, maar ek het genoeg bohaai gemaak oor my finansies wat so vrot lyk en dat ek nog maande moet spaar om haar ring te kan bekostig. Dit gekla het darem die nodige uitwerking gehad om haar op 'n dwaalspoor te lei.

My opgewondenheid oor die trip na die Drakensberge toe word gedemp deur al gedagtes wat deur my kop flits van watter roetes ons gaan stap. Is die Gudu falls die regte plek om haar te vra. Sy is mal oor watervalle, dit hou vir haar een of ander bekoring in, maar is die valle so mooi soos wat ek dit onthou? Hoe stap 'n mens om daar te kom? Ek weet dis na die Crack se kant toe, maar laas toe ons saam met die Boedies daar was kan ek nie onthou dat ek 'n afdraaibodjie daar gesien het nie. Ek worry nou verniet daaroor. Ek sal 'n kaart by die kiosk daar koop. Ek onthou Stefan s'n het laaskeer al die roetes mooi daarop gehad.

Sê nou ons verkluim die naweek? Hoe moes ek nou weet die eerste groot kouefront van die winter gaan nou daardie naweek tref. Nou tref ons dit nog in die berge. Party mense praat van sneeu, maar ek weet darem nie.

Nou is mos die regte tyd om haar te vra. Ons is al lank saam. Ek het altyd gesê niks minder as 3 jaar nie. Ons is nou 'n paar maande al saam in Bloem, en dis presies soos ek gehoop het dit sou wees tussen ons. My Sunday night blues is stadig maar seker besig om weer te verdwyn. Ek het nou wel lank gewonder hoe ek en sy die ding nou moet laat werk vir dievolgende 50 jaar of wat. Ek weet nie hoekom ek solank gevat het om by die antwoord uit te kom nie. Maar dis ‘n vraag wat ek eers beantwoord wou hê voordat ek om die ja-woord vra. Ek het vriende en familie gevra en antwoorde by mense gesoek totdat ek eendag besef het dat ‘n lang gelukkige huwelik nie in die mag van die mens lê nie, maar dis net genade van God. Dit is met hierdie wete wat ek die berge ingevaar het om die meisie van my drome te om haar lewe met my te deel.
Ek kon nie glo toe ek die kaart buite die tent oopslaan en sien dat daar nie ‘n gemerkte pad is na die Gudu watervalle nie. Die eerste dag het ons verby die Tiger waterval gestap. Dié het amper opgedroog weens die droogte, maar steeds ‘n pragtige roete as jy so 3 en ‘n halfure het om te stap. Ek het die hele tyd gekyk of ek nie bordjies sien wat dalk ‘n verskuilde roete aanwys na die Gudu waterval nie. Ek was dan al daar, daar moet ‘n manier wees om daar te kom.

Terug by die kamp het ek die bure gevra of hulle nie weet van ‘n roete tot daar nie. Die oom vertel my toe dat ek reg is om Crack toe te stap. Daar sal wel bordjies wees wat ons moet volg. Ek maak maar kort-kort seker dat Suné nie rede het om in my sak te krap nie. Ek het ook al drie keer gekyk en seker gemaak dat die boksie nog daar onder in my sak lê.

Ek het die aand gaan slaap met weereens plan A, B en C vir ingeval iets gebeur en die waterval ons ontwyk. Ook dwaal my gedagtes na die bure sy gebuigde gazebo pype wat oorblyfsels is van die vorige nag se stormreen en wonder wat vir ons die nag lê en wag. Met die elektriese kombers op die matras was ons egter gou in droomland.



Een koppie koffie en ons was weg opsoek na die waterval. Nooit weer stap ek die paadjie op na Lookout Rock toe nie. Nooit weer nie!! As jy bo by daai klip kom is die wonderlike uitsig amper die moeite werd. Aan ons linkerkant ons oogmerk, wat tussen die Crack en Plowman’s kop in die Gudu bos in neerval. My hart het in my keel geklop toe ons deur die bos stap en steeds nie ‘n draai gemaak het op tussen die koppe in nie. Ons stap toe terug om te kyk of ons nie die afdraai gemis het nie. My blydskap was groot toe ons dié keer die bordjie sien wat ons op die regte paadjie geplaas het. Dit was ‘n stywe klim tot bo, maar defenitief die moeite werd. Die waterval was pragtig en neergestort in ‘n pragtige poel met yskoue en kristal helder bergwater.

Dit was ‘n wonderlike plek om Suné te vra om my vrou te word. Tussen deur al die planne het ek nie veel tyd gehad om aan my speech te werk nie. Al het ek een gehad sou ek dit alles vergeet het. Ek sal volgende keer wat ek haar hiernatoe bring een gereed hê. Dan sal ek weer vir haar vertel hoe lief ek vir haar is, en hoe baie sy vir my beteken en dat ek nie sonder haar kan lewe nie.

Dit was ‘n wonderlike paar dae in die berge. Wat ‘n wonderlike stukkie skepping. Defenitief een van my gunstelinge plekke in ons land, en ek is bly ek kon elke sekonde daarvan deel met die vrou van my drome!

No comments: