Maar nie te min. Ons is toe hier uit Bloem uit weg nog voor die son behoorlik sy kop uitgesteek het. My ma-hulle is nogal mense wat daarvan hou om langs die pad te stop om na besienswaardighede te gaan kyk. Nie iets wat ek ge-erf het nie. Ek staan vroeg op om so gou as moontlik by die see te kom. Suné was nog nie by die Gariep Dam gewees nie, so dit was ons eerste besienswaardigheid vir die vakansie. Dit is ‘n groot spil water daar bymekaar. Dit lyk of daar ook lekker kampplek is, en ek sal graag een of ander tyd daar ‘n tent wil gaan opslaan. Dit is net voor Colesberg, so ook toe sommer die regte plek om ‘n vinnige koffie te maak en bestuurders te wissel.
Net anderkant de Rust tref jy die Swartberge (dink ek) en Meiringspoort. Daar weer gestop en die kronkelpaadjie opgestap tot by die yskoue waterpoele met die waterval wat hulle van helder bergstroom water voorsien. Steeds was dit nie ons laaste stop nie. Die aantrekkingskrag van die padstalle met al sy konfyte en vrugte uit die Klein-Karoo is veral vir my ma, net ‘n te groot versoeking om verby te ry. Die klomp vinknesse in die boom langs die padstal het my meer geïntriseer. Toe hou ek maar my lyf fotograaf.
Uiteindellik was al die padstalle agter die rug en was dit nog net die Outeniqua pas wat voor ons gelê het. Ons het sonder veel moeite by ons bestemming in Klein Brak uitgekom. Ons sou die volgende 2 weke in die in die onderte helfte van die huis bly van my ma se ou skoolvriendin. Klein Brak is ongeveer 10 km uit Hartenbos. Die familie het ook net buite Klein Brak gekamp oppad na Hartenbos. Dit het dit baie gerieflik gemaak om in die oggende gou daar by hulle te stop voor ons see toe gaan, of vir die aand se braai.
Ons het sommer al die eerste middag koers gekies see toe. Tot ons teleurstelling was die strand op Klein Brak gesluit weens Bloublasies. Ons het maar daar op die strand gelê en vir die branders gekyk. Maar dit was nie lank nie of die een Vrystater of Transvaler na die ander durf die branders aan. Na ‘n paar minute was almal maar aan die swem, Bloublasies of te not. Ons was geseën met heerlike weer. Ons het nie die sonskyn gemors nie en was elke dag tot na middagete op die strand.
Heel lekker!! Almal was vasberade om sou gou as moontlik kleurtjie aan die lyf te kry.
Kersdag was ons vroeg op om die eerste oggenddiens by te woon. Middagete het ons by die familie gaan braai, en rustig verkeer vir die res van die dag. Nuwejaar was egter ‘n ander storie. My niggie het ons saamgesleep Diaz strand toe op Mosselbaai. Daar was duisende mense wat die nuwejaar ingewag het op die strand. Daar was honderde gate gewees waar die mense in vuur gemaak en gesit en gekuier het. Daar was ‘n hele klomp wat nie die middernag uur gesien het nie. Dit was heerlik om Suné ‘n soen te gee terwyl ons kyk hoe vuurwerke die see en branders verlig.
Die laaste paar dae het heeltemal te vinnig verby gegaan. Ons het elke oomblik wat ons kon op die strand deurgebring net om seker te maak die tên lyk so goed as moontlik en soveel foto’s te neem as moontlik. Sommer ‘n paar tips vir ander amateur fotograwe.
Ek soek nog na venote om ‘n stukkie grond tussen Klein Brak en Hartenbos te koop. Hartenbos Landgoed. Gaan kyk by http://www.hartenboslandgoed.co.za/. Laat my weet as julle belangstel. Dan besit ons ons eie stukkie paradys waar ons nog hope herhinneringe kan bou.
Mag almal ‘n geseënde 2007 beleef waarin al julle drome sal waar word. En wie weet, DV, kuier ons die einde van die jaar saam op Hartenbos!
2 comments:
Hi julle this looks like great fun but it's too much Afrikaans so just looked at the pictures sorry. You can translate it when you come end April!
Mila Kind, As jy 'n grondjie kry vir jou tent, kom ek saam met jou kamp!
Probeer 'n karavaanhuis kry - dit sal nommerpas wees. (Die wyn van die padstalle is lekker, né!!!)
Post a Comment