29 May 2009

Dullstroom

Op party klein dorpies in Suid Afrika mag jy soms tot ‘n koei in die straat sien loop,  die beste plek om te besoek is die Wimpy en dan is dit asof die kos daar anders is as in die Wimpy’s waaraan jy gewoond is. Maar Dullstroom is ‘n klein dorpie met ‘n verskil. Dis amper asof almal wat Dullstroom besoek glo dat die plek ‘n geheim is en dat net die mense wat daarvan weet, hierheen kom en moet vir niemand vertel nie, want net-nou kom almal hierheen en verloor die plek sy rustigheid.

Rooibors Jakkals Voël

Saterdagoggend vat jy die N12 oos in die rigting van eMalahleni. Nee, nie ‘Emma wil nie lê nie’, eMalahleni, dis mos nou wat van Witbank geword het. Na Witbank sien jy wat lyk soos ‘n grys hoop sement en tussen dit alles steek ‘n vierkantige toring uit met ‘n witkol en ‘n blou skip daarop wat strek om bo die grys stof uit te kom. Jy is besig om by Middelburg verby te ry en die toring met die blou skip is Columbus Stainless, die lekkerste plek waar ek nog gewerk het. Ek verlang sommer terug na my UTCAS stelsel wat ek soos ‘n pasgebore baba opgepas het, na ons haar die eerste keer inwerking gestel het.
Forrel Dam by Ce La Vi
As jy die Belfast bord sien, draai jy af en gaan noord. Belfast is een van daai klein dorpies, so jy swaai maar oos en hou dan die Corolla se neus in die rigting waarin die meisie van die GPS jou wys. Net wanneer jy begin wonder of ons dan nooit weer gaan koffie drink nie en die gegrom van jou maag harder raak as die ‘songs’ uit Estelle se iPod, dan ry jy Dullstroom binne. Dit vat ‘n minuut of twee om aan te pas by die rustige tempo van die plek. Oral loop mense rond van een winkel na die ander, en moet mens selfs stadiger as die aanbevole 60km/h ry, anders ry dalk net iemand wat oopmond van verwondering die ‘curios’ loop en bewonder, onderste bo.
Kaapse Oor-Uil

Jy parkeer sommer enige plek en vra vir die wag, wat homself eers op die naam kom voorstel, om te kyk, want alles is binne loop afstand. ‘n Neute verkoper probeer hard om jou te oortuig dat syne die beste op die dorp is. Dan maak jy jou eerste stop by Harry’s Pancakes. Dis ook hoe die idée gekom het om weg te breek Dullstroom toe vir die naweek, want jare na jy hier was kry jy een aand ewe skielik weer ‘n helse lus vir Harry se gevulde pannekoeke. Hulle is almal goed, maak nie saak of jy die soutes of die soetes probeer nie. Nie dat dit my gewoonlik keer nie, seker maar oor dit meer aanvaarbaar is, kies ek ‘n soute, want dis darem nog baie vroeg. Mens se tone krul sommer van die lekker.

Na ek vir my ‘n polar fleece top by die Jeep winkeltjie gekoop het en Estelle ‘n oulike rugsak by Handy Bags gekry het is dit tyd om ons ander gunstelling plek in Dullstroom te besoek. In ‘n plek waar tyd nie saak maak nie is daar tog 2 baie belangrike tye om te onthou. 10:30 en 14:30, want dis wanneer die “Birds of Prey” hulle ‘Flying Displays’ het en dis iets wat mens net nie kan mis nie. Mense vertel my hulle was in Dullstroom en as ek hulle vra dan sê hulle, nee, hulle weet nie van die ‘Birds of Prey Centre’ nie. Wel, dan’s ek jammer, maar dan was jy nog nie regtig in Dullstroom nie. ‘Birds of Prey’ is omtrent ‘n kilometer buite Dullstroom, net voor jy Dullstroom binnekom van Belfast se kan af. Jy sal hulle borde sien en dan vat jy ‘n kort stukkie, seker 500m, grondpad en dan’s jy daar.




Maak seker dat jy so rukkie voor 10:30 of 14:30 daar is en gaan kies ‘n lekker plekkie om te sit. Die ‘Flying Display’ word deur Mark of Mark of soms albei Mark’s terselfde tyd gedoen en dis ongelooflik interessant. Glo my jou mond sal oophang, wat dalk nie so slim idée is met al die roofvoëls wat vlak bo-oor jou kop verby vlieg nie, maar jy kan nie anders nie. Mens stap terug na jou kar toe met ‘n nuwe waardering vir wat die voëls alles in die natuur doen, seer maagspiere van al die lag vir wat die twee Marks alles kwyt raak en jou kamera vol een-keer-in-‘n-leeftyd fotos van roofvoëls vat reg oor jou kop vlieg en vleis uit die lug uit vang. Ek en Estelle is mal oor die ervaring. Ons was jare terug daar toe hulle nog op ‘n ander plaas in die rigting van Lydenburg was en die keer het ons sommer beide die Saterdag 14:30 en die Sondag se 10:30 vertonings bygewoon.

Ce La Vi se lodge

Toe die heuwels lang skaduwees begin gooi en die droë gras die wêreld met goud bedek, is ons op ‘n grondpad en klou die Corolla aan die rowwe klippe terwyl ek haar uit die slote en weg van die skerper klippe probeer hou. Ons klim al hoër tot die uitsig onder ons uitgestrek lê met forrel damme van bo tot onder aan die voet van die berg. Ce La Vi is die lodge waar ons bespreek het. Die lodge het plek vir omtrent 10 mense, maar oor dit ‘n stil naweek was het hulle dit vir ons gegee teen die normale tarief, al was dit net die twee van ons. Daar is ook ander akkomodasie op die plaas, maar ek beveel die lodge aan.
Ce La Vi
Dis teenaan ‘n redelike groot forrel dam en die omgewing is vrek mooi. Dit was al laat skemer toe ons daar aankom en ons het net afgepak en toe dadelik die lieflike kaggel aangesteek met die hout wat deur die lodge voorsien is. Na ek ‘n vleisie gebraai het, het ons nog hout op die kaggel gesit, rooiwyn geskink en ‘n fliek opgesit. Lekkerder kan mens nie kry nie. Ons is vroeg Sondag uit die vere om fotos in die goue uur net na sonnop te neem van die weerkaatsing van die koppies in die dam en van die eende wat in die water speel.
Na koffie en beskuit is ons terug Dullstroom toe. Vir middagete het ek gereken as mens in Dullstroom is moet jy soos die Dullstroomiane maak en toe by die ‘Old Transvaal Inn’ hulle forrel ontbyt probeer terwyl Estelle dit veilig gespeel het en weggelê het aan ‘n tradisionele boere ontbyt. Vol geëet, uitgerus, met nuwe lus vir die lewe en herhinderinge van ‘n baie lekker naweek het ek die meisie van die GPS gevra vir die pad huis toe en terwyl die ‘Parletones’ ‘Baby Be Mine’ deur die iPod sing vat die Corolla die teerpad terug Johies toe.

No comments: