Die Boedies, of laat ek eerder sê, die wat hulle self nog in Afrika bevind, het besluit om paasnaweek in 'n Boedie kuier te omsit. Na 'n wilde geskarrel om op kort kennisgewing 'n plek te kry om te gaan kuier so kort voor paasnaweek het Mila op 'n kampplek in die vredefort koepel afgekom. Die Boedies het 'n paar jaar terug 'n baie lekker naweek in die omgewing gehad en siende dat plekke teen daaityd al skaars was, besluit ons om die plek te probeer.
Attie en Candice het hulle toer noord al Donderdag begin en halfpad oorgeslaap. Vroeg Vrydagoggend het 'n sms deurgekom om te laat weet dat hulle weer op die pad is. Na 'n besige week het ek en Estelle eers Donderdagaand al die kampgoed bymekaar gekry en Vrydag is ons so 10:00 uit Johannesburg. Die ergste stormloop uit Johannesburg was toe al verby en ons kon op ons tyd die N1 suid aanvat.
Mila was eerste daar en het solank die administrasie afgehandel. Ons was kort op hulle hakke en teen 12:00 het ons begin tente opslaan. Mila se nuwe tent is 'n 'beaut'! Hy en Sunè het nog nie voorheen alleen die tent opgeslaan nie en vir 'n eerste keer het hulle nie sleg gedoen nie. Attie-hulle het Vrydagmiddag so 15:00 se kant daar uitgeslaan.
Smilin'Thru is die kampplek waar ons gekuier het. Die plekkie is so 10 km noord van Parys, langs die vaalrivier. Ek moet sê ek was nie beïndruk met die plek nie. Ons het laat geboek en het nie hoë verwagtinge gehad nie, maar die webblad, www.smilinthru.co.za was bedrieglik. Die fotos wys die hotel en swembad area en dis omtrent al wat regtig aanvaarbaar was. Ek wil nie die plekkie heeltemal afkraak nie, want dit het potensiaal, maar alles is baie oud. Die ablusie blokke lyk of dit voorheen ou perde stalle was en dis een ding waaroor ek baie vol nonsens is as ek kamp. Die ablusie blok moet skoon wees en skoon vertoon. Al het die personeel die plek gedurig probeer skoon hou, het dit nooit skoon vertoon nie. Die storte is oud en dit lyk vuil. Ek het gesê ek sal gaan stort sodra ek vuiler is as die ablusie blok.
Daar was ook nie veel om te doen nie, net 'n baie ou mini-golfbaan, springmat en die swembad, maar ook meestal vir die kinders. Mila het sy stokke saamgebring en teen skemer het Attie 'n kleintjie ingetrek, maar die rivier is nie baie diep daar nie en dit was dus ook die laaste een vir die naweek.
Die plek het egter uit sy nate gebars en die elektrisiteit het kort-kort uitgeskop oor dit so oorlaai was. Honderde mense wat net kom om te kamp? Daar's nie veel anders om te doen nie en die aktiwiteite op die webblad verwys na aktiwiteite in die Parys omgewing, nie by die kampplek self nie. Daar is byvoorbeeld geen 'Hiking Trail' nie, jy kan glo jou eie maak as jy wil.
Ten spyte van die plek het ons 'n baie lekker naweek gehad. Ons kon elke aand tot laat kuier en dan laat slaap in die oggende. 'n Pluspunt vir die kampplek is die bediendes wat aanbied om mens se skottelgoed vir jou te was. Die vrouens het dit baie waardeer. 'n Boedie kuier word ook nie bepaal deur die plek nie, maar die lekker gesels en saam kuier. Ons het mekaar lanklaas gesien en dit was lekker om weer op te vang en te hoor hoe dit met almal gaan. Kan weer nie wag vir die volgende kuier nie.
19 April 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment