07 February 2009

Boedie in Brazil, Rio de Janeiro

Rio de Janeiro! As jy my 'n maand terug gevra het of ek dink ek sal ooit Rio of 'for that matter', Brazil toe gaan, sou ek met 'n definitiewe "ek glo nie so nie" geantwoord het. Wel, ek was skaars terug van Duitsland af toe my baas my vra of ek nie dink ek moet vir 'n week Rio de Janeiro toe gaan nie. Ek het dit nie regtig geglo nie, maar na ek vir my 'Yellow Fever' inspuiting is het dit begin insink.

Ek het begin uitvind oor Rio en was geskok om te sien dat Rio geklas word as een van die gevaarlikste stede in die wêreld. Die internet is vol van stories oor die 'favelas', Portugees vir wat ons 'n lokasie noem. Stories van gemiddeld 13 moorde 'n dag en van die 'drug gangs' wat teen die militia oorlog voer. Traveller's tips soos dat mens jou geld in jou onderbroek moet dra, glad nie 'n kamera moet vat nie en basies moet 'leopard crawl' as jy enige plek buite jou hotel gaan. Wat 'n klomp stront! Dis glad nie so erg nie, of laat ek eerder veilig wees en sê, dat dit vir my glad nie so erg was nie. Ek het eers gewonder of ek my kamera gaan saamvat, maar toe gereken dat dit dalk my enigste keer ooit in Rio is en dat ek nie die kans kan laat verby gaan nie. Ek moet erken ek was effens 'nervous' met my kamera by my, maar die 'great' fotos wat ek huis toe gebring het maak definitief op daarvoor. Rio, in my opinie is niks meer gevaarlik as Johannesburg of Kaapstad nie. Mens moet net nie 'stupid' wees nie, dan sal jy 'fine' wees.
Sao Paulo Lughawe

Ons, ek en my baas, is van O.R. Tambo af met SAA 222 na Sao Paulo. Uit die vliegtuig kon mens sien dat Sao Paulo 'n enorme stad is, 20 Miljoen mense bly daar. In Sao Paulo het 'n storm uitgebreek net toe ons in 'TAM airlines' se Airbus 320 klim, ook bekend as 'The magic red carpet'. Ek was flippen benoud! Ek haat vlieg en as die weer beneuk is laaik ek dit nog minder. Ek kon ook nie help om te dink aan die ongeluk in 2007 waarin 137 mense dood is toe 'n TAM vliegtuig op die einste Sao Paulo 'runway' nie kon stop nie en in 'n gebou in is nie. Toe ons in Rio land, vra my baas my of ek ook gehoor het hoe klink die vliegtuig se een engin toe ons opstuig. Ek dog eers dit was net ek, maar ons was veilig en ek was helse verlig om op vaste grond te kon staan. 
Middestad van Rio

Saterdagoggend het ek vroeg wakker geword. Die tyd verskil tussen Suid Afrika en Brazil is 4 ure, en my natuurlike klok het gedink dit moet al lig wees buite. Ek het na die 23ste vloer van die Everest Rio Hotel, waar ons gebly het gegaan en fotos van die sons opkoms geneem. Die 'view' van die boonste vloer is ongelooflik. Aan die een kant was Ipanema strand en aan die ander kon mens 'Christ the Redeemer' (of in Afrikaans, 'Christus die Verlosser' ) sien.

Vriende in Rio de Janeiro

Sugarloaf Mountain

Sugarloaf Mountain

Twee van my baas se vriende en hulle metgeselle het ons 10:00am kom oplaai en ons is deur die stad na die 'Sugarloaf' berg toe. Die gewilde landmerk in Rio word so genoem omdat dit die vorm van 'n gekonsentreerde suiker blaar aanneem. Ons is met die kabelkarretjie tot bo, van waar ons die stad en veral Ipanema en Copacabana se strande in al hulle glorie kon bewonder en afneem. Dis ook hier waar ek my eerste helikoper vlug ooit gehad het. Ons is met die helikopter van die 'Sugerloaf ' berg af oor die stad na 'Corcovado' berg waarop die Jesus beeld staan. Die helikopter het al om die beeld gevlieg sodat ons fotos uit 'n baie ongewone hoek van 'Christ the Redeemer' kon neem. Ek was weereens vrek benoud, maar het dit terselfde tyd vreeslik geniet. Dit was regtig 'n 'great' ervaring. Ons is al eers langs, Ipanema en toe Copacabana strand terug na die plek waar ons geland het.

Oppad om in die Heli te klim

"Christ the Redeemer"

In die helikopter

Van daar het ons toergidse ons teen Corcovado berg op geneem en is ons verder met 'n minibus vir R$13.00 na die Jesus beeld. Om daar aan die voet van die beeld te staan was vir my 'n baie spesiale geleentheid en dit het amper onwerklik gevoel. Ek kon nie glo dat ek regtig daar was nie. 'Christ the Redeemer' is op 07.07.07 amptelik aangekondig as een van die nuwe 7 wonders van die wêreld, so ek het regtig bevoorreg gevoel om daar te kon wees. Rio de Janeiro in die somer is net so vrek warm soos hier in ons geliefde Afrika. Die sweet het van my afgetap teen die tyd dat ons weer al langs die berg af is. Ons het die dag afgesluit met 'n ete in 'n Portugese restaurant. Baie lekker kos en wat opvallend was, was die geselskap en die atmosfeer. Die Portugese hou van gesels.
Die Jesus Beeld

Bewyse

Kan nie genoeg kry nie

Sondagoggend het ons langs die ongelooflike strande van Ipanema tot aan die einde van Copacabana gestap. Gelukkig het ons vroeg begin, want dit het gou baie warm geraak. Ipanema, die area waarin ons gebly het die week, is een van die ryker dele van Rio en Ipanema strand is deur die 'Travel Channel' gekies as die sexy'ste strand in die wêreld. Elke oggend en elke aand draf fikse lywe op en af langs die strand en op die sand speel honderde jong mense sokker en volleyball. (Attie jy sou dit ge'love' het!) Copacabana is 'n 4km strand met net soveel lywe en Brazilliaanse girls in hulle bekende skrapse bikinis is oral. Wat 'n fees vir die oog! :-) Ek het reeds vir Estelle gesê dis te gevaarlik om haar saam te vat Rio toe, nie omdat die misdaad so erg is nie, maar oor sy my dalk net sal vang loer na die girls op die strand.

Ipanema se Strand

Sondag namiddag is ons weer na Ipanema se strand en is ons beloon met 'n 'spectacular' sonsonder, wat alles letterlik in goud verander het. Almal het met verwondering in die rigting van "Dois Irmãos" (Die twee broers), 'n berg met twee pieke, gegluur. Uiteindelik het almal uit waardering willekeurig begin handeklap. Dit was regtig uitstekend. Op die strand het ons coconut melk gedrink wat ons by die verkoper in die strandkiosk gekoop het. Hy kap die coconut met 'n tipe van 'n panga, mens druk 'n strooitjie in en as dit lekker koud is, is daar niks lekkerder na 'n lang stap op die strand nie. Ons het ook "Caipirinha", Brazil se nationale drankie, gedrink. Dis 'n mengsel van vodka met lemmetjie (lime), suiker en ys. Glad nie sleg nie, maar 'potent'. Mens voel sommer hoe skop hy. Ek sal matigheid voor oë aanbeveel.


Sonsondergang by "Dois Irmãos"

Maandag, die 2de February 2009, laatmiddag het ons 'n ritueel aanskou waar mense blomme na die strand bring. Dit lyk of hulle 'n gebed opsê en dan gooi hulle die blomme in die see. Ek het later uitgevind dat dit 'n ritueel is om offers te bring vir Yemanjà, die godin van die see. Dit is glo 'n eeue oue tradisie en hulle vra vir beskerming vir vissermanne, maar ook vir swanger vrouens en vir kinders. Op sulke asemrowende strande en met so 'n uitsig oor die see sou ek maklik kon deelneem aan 'n ritueel wat hulde aan die see bring.

Goue strande


Die res van die week het ons 'n maatskappy in die middel van Rio se middestad besoek. Dit was netso interressant om die verskil in kultuur in die werkplek te beleef. Die maatskappy het beste plek om voor te werk in Brazil gewen, maar mense sit soos batteryhoenders met minimum persoonlike ruimte en is doodgelukkig om net te kan werk. Daar was egter ook hulle korporatiewe universiteit, waarmee hulle hul mense op die voorpunt van die nuutste tegnologie hou, die manier waarop hulle die beste studente in Brazil werf om vir hulle te kom werk en die algehele kultuur in die maatskappy, wat ons baie beïndruk het. Ons hoop om in die toekoms nouer met hulle te kan saamwerk.


Vissersbote


Ek is op die ou-ent gevra om 'n dag langer te bly, maar het nie omgegee nie, oor ek Rio so geniet het. Ek sien sommer nou die mense van Brazil in 'n ander lig en het vir my en Estelle elkeen 'n Brazil ondersteuners T-Shirt gekoop, want volgende jaar met die 'World Cup' skreeu ons vir Brazil!

No comments: