01 April 2008

"DIT BRAND"

Sondag 30 Maart 2008:

Terwyl ek aantree om af te slaan op die 18de putjie van St. Andrews, is dit so stil dat jy 'n spons op 'n mat oppervlak kan hoor val. Die skare hou hul asem op. Nog nooit van te vore was Tiger Woods aangevat soos vandag nie. Aan die begin van die finale rondte in die Britse Ope het Tiger 'n voorsprong van 10 houe gehad met sy naaste teenstander, ek, Adrian Montzinger. Oor die laaste 17 putjies het ek hom ingehaal en word daar nou afgeslaan met die Britse Ope as beloning.

Tiger Woods se dryf was 'n monster van 300 meter in die middel van die perfekte skoonveld. Ek tree aan. Die adrenalien pomp. Die golfbaan is 'n asemrowend en luuks. Oral langs die skoonvelde is luukse huise, waar die ryk klas hulself trakteer. Ek weet dat my dryf absoluut belangrik en perfek moet wees. Dit is belangrik dat ek Tiger bly "challenge". Ek moet hom domineer. Hy moet weet ek is sy baas.
Die determinasie is in my oe te sien, jy kan dit meet met 'n klankmeter. Ek tree aan. Trek die drywer terug. Hou my linkerarm reguit, onthou om nie my regter elmboog te laat vlieg nie. Hou my rug reguit. Ek trek los en verloor egter my balans in my soeke na meer krag. Die bal trek heeltemal links en is oppad na een van die luukse huise toe. Ek hoor net glasstukke breek..............

Adrian! Adrian! Hoor jy dit? Dring die stem van Candice tot my droomwereld deur. Ek vra, "hoor ek wat". "Die breek van die glas". Ek hoor dit toe en besef dit was nie my golfspelery nie, maar dit is regte glas wat breek. "Dit is mense wat bottels weggooi", is my ekspert opinie oor die klank vlakke waar glasstukke breek.

Candice is nie gelukkig nie. Sy gaan uit en kyk deur die venster. Die volgende oomblik, terwyl ek oppad was om weer my bal te stel vir 'n strafhou, word ek weer tot die realiteit terug geruk deur gille: "Dit brand" "Dit brand." "Die bure se huis reg langs ons is besig om te brand"

Skielik is ek wakker en word die superhero in my ook wakker. Ek neem beheer van die situasie en kom met 'n briljante plan vorendag. "Candice kry ons rekenaars, ek gaan die karre skuif". Ek hardloop uit word getref deur die hitte. Dit voel soos hel. Ek sien, hoor mense skree en gil. Hoor sirenes en voel water. My helderheid van gedagte skop egter in en skuif ek die karre vinnig weg. Candice is kort op my hakke met die rekenaars. Sjoe, dit was baie naby, maar vir eers is ons veilig. Alles het egter mooi vir ons afgeloop, maar nie vir ons buurvrou nie. Sy het erg brandwonde opgedoen.


Hierbo is die beskrywing van wat gebeur het op 31 Maart 2008 en 'n paar foto's. Ons huis is die een op die linkerkant van die foto. Die huis wat afgebrand het, is nogal naby en die een muur naaste aan ons het tydens die brand gedreig om te val. Op die een foto is ons ander bure se seun besig om met ons tuinslang die vuur dood te spuit. Ek dink dit het dalk 'n bietjie gehelp. Ons sal egter nie weet nie.

Wat 'n manier om jou dag te begin!

No comments: