Heidelberg Schloss
Om met die trein te ry is natuurlik vir my reeds ‘n ‘treat’ op sy eie en dis baie lekker om deur die landskap te ry en al die huise en plase en fabrieke te sien. Die wêreld hier is baie groen. Op Heidelberg aangekom het ons ‘n kaart by die toerisme sentrum gaan kry, want al het ons nou die tram ryery onder die knie gekry, moes ons nog uitvind hoe die busse werk. By Heidelberg Hauptbanhof staan daar maklik ‘n duisend indien nie meer fietse nie, soos wat mens van hulle huise af tot daar ry vir die dag en dan met die trein verder gaan. Dis meestal sommer sulke ou geskroefde fietse en nie die netjiese tipe fietse wat mens nou en dan is Suid Afrika sien nie. Die idee is nie om die mooiste en beste fiets op die dorp te hê nie, maar eerder net om vervoer te hê om maklik by die stasie te kom.
Fietse by Heidelberg Hauptbanhof
Ons het eers nie die busse mooi verstaan nie en is met die verkeerde bus, met die verkeerde nommer in die verkeerde rigting en het iewers by Heidelberg universiteit uitgekom. Dit was vroeg op ‘n ‘Samstag’ (Saterdag) en die studente moes seker nog geslaap het, want die kampus was maar leeg. Ek het my Nokia se GPS hier en kon sien ons is in die verkeerde rigting en aan die verkeerde kant van die Neckar rivier. Ons het afgeklim en ‘n tram gevat terug na die stasie toe. Die voodeel van die €5 kaartjie wat ons vroeër gekoop het, is dat mens heeldag op enige tram of bus daarmee kan ry. Ons het uiteindelik die busroetes uitgefigure en bus 33 gevat na die kasteel toe. Heidelberg is ook baie mooi. Ek sal nie probeer om te verduidelik hoe mooi dit is nie, want mens moet dit self ervaar, maar glo my dis ‘n baie mooi dorpie. Ons is teen die bult op in die kasteel se rigting.

Naby die kasteel is daar die bergbanh waar ons vir €8 ‘n kaartjie gekry het om met ‘n tipe van ‘n kabeltreintjie teen die berg op te gaan. Die treintjie is meer as ‘n honderd jaar oud en werk op ‘n baie interresante konsep. Daar is twee waens waarin mens kan sit. Die een is aan die bokant van die berg en die ander aan die onderkant en die twee is met ‘n kabel aan mekaar vas. Daar is dan net een spoor waarop altwee loop

Toe ons weer onder kom was ons by die kasteel. Die Heidelberg kasteel is baie oud en hulle reken hy is gebou voor 1214. Dit het ook al baie ‘shots’ gevat, van veral oorloë en brande. Die kasteel is 3 keer al in die geskiedenis deur weerlig geslaan en elke keer het groot dele afgebrand. Mens kan sien watter dele gebrand het en daar is ook ‘n deel van die een toring wat heel afgebreek het. In die binnehof is al die konings en leiers wat sedert die twaalfhonderds in die kasteel regeer het uit sandsteen gekap en teen die een muur opgesit. Dis baie goed gedoen en ek wil nie eens weet hoe lank dit hulle moes gevat het nie. Binne in die kasteel is daar die ‘Großes Fass’, ‘n uitermatig groot wynvaatjie, binne in die kelder van die kasteel. Dit het ‘n kapasiteit van ongeveer 220 000 liters en is in 1715 gebou uit ‘n honderd en dertig eikehoutbome.

Die tuine buite die kasteel is baie mooi en dis vreeslik moeranties. My verbeelding het die heeltyd met my weggehol en my ingedink hoe dit moes gewees het om in en rondom die kasteel te moes geleef het. Ek het my verbeel hoe ruiters met hulle perde daar sou ry en hoe die perde se hoewe op die klippaadjies sou klink en die reuk van die sale sou ruik. Ek het ook gesien hoe die prinsesse en die koning in die oggende in die tuine sou kon rondloop en naby die perde stalle was ‘n gebou waarop daar beelde van takbokke en wilde varke uitgekap is en ek reken dis waar die koning en die prinse die wild wat hulle gejag het gebring het om geslag te word. Soos ek gesê het, dis ‘n baie romantiese plek en soos wat mens voorheen op stel van Harry Potter was, was ek nou skierlik in die wêreld van ‘The Lord of the Rings”. Ons het in ‘n plek net buite die kasteel geëet, wat dieselfde betowerende atmosfeer gehad het. Daar het ek my eerste “Hefe Weisse”, ‘n gewilde duitse bier gedrink. Was glad nie sleg nie, veral na al die stappery.

Na ons ‘n hele klomp fotos geneem het is ons met die bus terug na die stasie en toe terug Karlsruhe toe. Ons is so 19:00 se kant weer met die Tram in die rigting van Durlach in Karlsruhe waar ons gaan kyk het na die wêreld bekende Flic Flac Circus. Dis ‘n groep wat allerhande akrobatiese toertjies en goed doen, ‘n baie lewendige en energieke vertoning. Ons het dit ook baie geniet. Net voor middernag het ons MacDonalds gekoop, want daar was nie veel anders oop nie. Ons is terug huis toe en voor ek my kop op die kussing neergesit het en vas gaan slaap het, het ek bymyself gedink dat ons die dag regtig ten volle benut het en dit was vrek lekker!
No comments:
Post a Comment