14 March 2008

'n Dag in London

Stella se post van ‘n dag in sy lewe het my geinspire om ook so iets te doen. Om te wys wat ons hier in London doen deur die dag en so.

Vroeg opstaan was nog nooit my sterkpunt nie. En as dit koud is as jy moet vroeg opstaan, dan is ek nog minder in die mood. Ongelukkig kan mens nie verby die feit kom dat dit koud gaan wees in die oggend hier in die Verenigde Koningkryk nie.

Die is ‘n foto geneem van ons balkon af oor ons agterplaas. Die mis is partykeer so dik dat mens nie die sokkerveld agter ons erf kan sien nie. Die ys is ook gewoonlik sommer kliphard op die karre gevries in die oggend. ‘n Mens kry sulke skraper om die ys van jou windscreen af te skraap in die oggend, maar ons het nog nie sulke fasiliteite nie. So, in daardie opsig wil ek net vir Woolworths van Suid Afrika dankie sê vir hulle winkelkaart. Ek het nog altyd geweet daai kaart gaan handig te pas kom êrens. Uit desperaatheid het ek sommer die eerste keer my Woolies kaart gebruik om die ys af te krap. Thanks Woolies! Ons het sedert opgegradeer – ons gebruik nou die eierspaan om die ys af te skraap.
Dan vir Elzna stasie toe vat en later vat ek vir Will skool toe. Van daar af stasie toe en dan vat ek die trein Lewisham toe.









Van daar af klap ek die DLR (Docklands Light Railway) tot by Canary Wharf. Die DLR is soos ‘n enkelspoor trem wat heelwat stadiger as die gewone treine en die tubes is.


Canary Wharf is nogal ‘n indrukwekkende plek om vir die eerste keer te sien. Dit was voorheen dokke vir skepe se aflaai en oplaai. Daar is nogsteeds hyskrane langs die water, maar slegs vir historiese betekenis. Dit het egter verval en toe het hulle die hele area herbou en nou is dit een van die belangrikste finansiele distrikte in die wêreld.


Van die grootste geboue is die HSBC gebou, die Citigroup gebou en die Lehmans Brothers gebou. Daar is ‘n park tussen die geboue wat nou in die winter ‘n ysskaatsbaan gehuisves het. Siende dat ek nie eers kan staan op die ys nie, het ons dit nie probeer nie. Mila sou dit geniet het, hy is ‘n kranige skaatser en het ons laaskeer gaande gehad met sy moves en skills. Onder dit is ook ‘n shopping centre en parkering. Dit is egter ‘n malhuis met etenstyd en om tussen al die ‘suits’ deur te kom oppad na my gunsteling toeba winkel, is nogal ‘n mission en ‘n half.






By die werk – Met die tydverskil tussen hier en New York werk dit nogal lekker uit dat ons die US Power trades deurgaan en dan enige foute of nodige veranderings weer kan teruggee aan die traders om reg te maak of ons doen dit sommer partykeer.

Na werk, terug op die DLR tot by Lewisham, terug op die trein, loop van die stasie af of Elzna kom haal my as dit koud is of dit reën.



By die huis gekom, is dit badtyd vir Will en dan ontspan na die lang dag.

London is nogal anders. Baie mense sê dis soos ‘n wêreld op sy eie. Dis ‘n mengelmoes van verskillende kulture en amper soos ‘n snapshot van die wêreld met iets van alles. Ons moet nog al die museums, gallerye en plekke om te sien gaan doen. Al ons London uitstappies sal ook gedokumenteer word en dit sal op die blog verskyn.

Geluk Mnr en Mev Montzinger!



Namens myself en Die Boedies wil ons vir Adrian en Candice baie geluk wens met hulle troue. Dit was ‘n baie lekker kuier en al was ons naweek in die Paarl baie kort, was dit absoluut die moeite werd. Die omgewing daar is regtig baie mooi en soos Mila gesê het, met tye vergeet mens jy is in die Kaap en dit voel of jy iewers in Italie of iewers is. Candice het gestraal en het pragtig gelyk. Attie het ook goed gelyk, so goed soos ons manne ook nou maar kan. Ons weet mos almal dat dit vir ‘n man seer is om so goed te moet lyk en dit kom definitief nie natuurlik nie. Die troue was ‘n jol en dit was veral lekker om weer saam met die ere vriende van Die Boedies, Willem Breed en Chris Botha, te kon kuier. Chris staan ook op trou en die Boedies wil sommer van die geleentheid gebruik maak om hulle baie geluk te wens met hulle verlowing en sterkte met al die trou reëlings.

Die Boedies wens vir Adrian en Candice ‘n lang en gelukkige huwelik toe en wil hulle die versekering gee dat ons agter hulle staan deur dik en dun.

Lank sal hul lewe in hul Gloria!!

07 March 2008

"FOR BETTER OR FOR WORSE"

Hoe beskryf 'n mens jou mooiste dag. Geen woorde kan dit mooi genoeg vasvat nie. Selfs al probeer jy dan voel jy altyd na die tyd ek kon dit beter doen. Ons dag was inderdaad so gewees. Die 1ste Maart 2008 was absoluut die wonderlikste dag in die lewe van die Montzingers. Candice se baie goeie organiseringsvernuf het daartoe bygedra dat alles op die dag volgens plan verloop het en kon ons nie vra vir 'n beter troue nie.
Ten spyte hiervan en die aanhoudende versekering dat alles perfek gaan verloop was daar steeds skoenlappers wat mal gegaan het die week en die dag voor en die dag van die troue. Die ontbyt saam met die Boede voor die tyd het die senuwees bietjie bedaar en Candice se sjampanje het haar weer kalmeer.
Al die ander dinge het egter op die agtergrond verdwyn die oomblik toe
Candice by die kerk se deur instap. Sy het absoluut fantasties gelyk. Alles aan haar was perfek. Op daardie oomblik wou alles binne my ontplof van trots met die wete dat ek die een is wat sy gekies het. Die mooi prentjie van waar sy in die kerk se deur staan en daarna afstap na my toe in die kerk is by verre die beste visueel wat ek vir ewig in my geheue gaan vashou. Dit is inderdaad 'n lekker gevoel om getroud te wees. Alles voel net voltooi, so asof die legkaart nou finaal inmekaar pas.

Die kerk was pragtig en nadat ons met almal buite gesels het was dit tyd vir kuier by die onthaal.
Die kerk waar ons getrou het is meer as 'n honderd jaar oud en word genoem die Het Gestich Slawe Kerk, vandag is dit grotendeels slegs 'n toeriste aantreklikheid.

Hierna was dit natuurlik tyd om te gaan kuier. Die plek waar die onthaal was, is bekend as Ashanti Wynlandgoed. Dit is redelike jong plaas en nie baie bekend vir hul troues nie. Die dag het egter baie goed afgeloop en die dame wat verantwoordelik was vir die organisering het 'n perfekte werk daarvan gemaak. Die lekker wyn wat almal gedrink het, het natuurlik gehelp om almal te laat relax en dit was nie lank nie of almal het lekker gekuier. Dit was lekker dat die Boedies weer teenwoordig was en het ons lekker gekuier. Schalk in sy afwesigheid was baie gemis. Daar is niks lekkerder in die lewe as om goeie oomblikke saam met die mense wat die naaste aan jou is te spandeer nie. Saterdag was ek en Candice se beste oomblik en watter voorreg was dit nie om dit saam met mekaar, vriende en spesifiek vir my saam met die Boedies te deel nie. Ek kan nie wag vir die res van ons lewens saam nie.

04 March 2008

Vordering

Hier is hy nou! Ons bly nou al 2 maande in ons nuwe huis. Nog baie stowwerig maar al aansienlik beter as die eerste foto's wat julle gesien het, en ons geniet elke oomblik in ons nuwe woning. Ek wag nogsteeds dat iemand moet kom kuier! Die grasplant was hel, maar absoluut die moeite werd. Om so in die grond doenig te wees doen darem net iets vir die siel.


03 March 2008

Leeds Castle

[Kliek foto om te vergroot]
Ons was vir die naweek in Maidstone gewees en toe het ons besluit om 'n trippie te maak Leeds Castle toe. Ek was effe siek, so ek het die baie stap nie so baie geniet nie. Gelukkig is die kaartjies geldig vir 'n jaar, so ons sal defnitief weer teruggaan om dit ten volle te geniet. Miskien ook as die weer bietjie beter is.

Hier is ek en die jongman voor die poue. Die goed het my nog altyd skrikkerig gehad. Ek dink ek het 'n pou-skermutseling gehad toe ek klein was en daarom is ek net versigtig. Nie bang nie, nooit bang nie. Net versigtig.


[Kliek fotos om te vergroot]

[Kliek foto om te vergroot]

Die kasteel van ver af.


In die binnehof.



[Kliek foto om te vergroot]

08 February 2008

Durban toe en terug in 'n japtrap.

4:45am Beep,beep…beep,beep. What de…?! Uhhhh! Snooze.

4:50am Beep,beep…bee..Ok, teen die tyd het my liggaam begin ontwaak en so 50% van die boodskappe kom by die regte plekke uit. Net genoeg om te weet ek moet opstaan en gaan stort.

5:05am Geskeer,gestort, gedress. Estelle kry ’n vinnige soen. Nie dat sy al wakker genoeg is om te weet wat aangaan nie.

5:15am Op die N3 in my Sentra. Tussen my senuwee hoessie kan ek skaars die musiek op die radio hoor. Ek is mos glad nie mal oor vlieg nie.

5:45am Parkering op vloer 3, ...as daar is. Van vloer 3 af is dit een vloer af en dan kan ek oor die brug stap wat die parkering met die terminaal verbind.

5:55am By die SAA Economy Class toonbank. “Durban asseblief, vlug SAA531.”

6:20am Sit en stres terwyl ek kyk hoe mense stuk-stuk na hulle vliegtuie toe aangery word.

6:58am Nou nie meer lank nie. Sit in die vliegtuig. Venster sitplek. Dis beter, want mens het ’n view, maar meer belangrik vir my, mens kan met jou kop teen die kant van die vliegtuig lê.

7:20am Ontbyt, of eerder wat hulle ontbyt noem. Dis ‘n broodjie met ham en kaas en ’n yogurt. Nie sleg nie.

7:30am As mens met die 737-800s vlieg van Johannesburg na Durban voel dit mos of mens vlieg tot jy bo is en dan weer af. Dis asof mens net op vlieg en dan as jy die hoogste punt bereik het begin jy al daal om te land. Seker oor die vlug tussen Johannesburg en Durban nie in 737 terme as ‘n regte vlug kwalifiseer nie.

7:50am Ons land vandag van die weste kant van die lughawe. Mens land mos altyd teen die wind. Dit beteken ’n wye draai oor die see en omdat daar nie baie wolke is nie kan mens nogal baie sien. Ek sien die nuwe sokker stadion wat hulle besig is om te bou vir 2010, al die „containers“ op die hawe en ons vlieg oor ’n olietanker wat oppad is om haar vrag te gaan aflaai.

8:15am Die landing was perfek. Avis upgrade ons na ’n ou shape mercedes benz en ons vat die pad na die kantore naby die hawe waar ons ons vergadering het.


9:00am Op die 7de vloer het ons vergadering met die grootkoppe van die projek. Die onderwerp is ’n stelsel wat sal boekhou wat die voorraad petrol en diesel is wat in die pyplyn is en ook wanneer eienaarskap van die produk verander tussen die pyplyn en die opgaartenks. Dit beloof om ’n lang een te wees.



11:48am Almal het hulle sê gesê en die prentjie lyk nou baie helderder. Ons het genoeg uitgevind om te kan voortgaan met ons ontwerp.

12:25pm Siende dat ons nog effens vroeg is neem ons, ons middagete sommer by ’n restuarant op Durban se noord strand. Dis af seisoen, maar daar baljaar darem ‘n paar lywe in die branders en hier en daar lê een en sonbrand.



13:30pm Op die M4 terug oppad lughawe toe. Gelukkig is ons vlug terug nie vandag so laat nie.

15:20pm Ek is eintlik vol van die middagete, maar ek prop maar nog ’n paar van die komplimentêre grondboontjies in, net om iets te doen.



16:05pm Terug in Johannesburg. Dit reën, dis huis toe gaan tyd en die verkeer gaan rof wees.

16:35pm Ek het mos gesê die verkeer sal rof wees.

17:15pm Daar’s hy. Terug by die huis. Poot uit, maar terug. ‘n Suksesvolle dag, 10 ure se werk geboek, maar effektief net ’n 3 ure vergadering.

06 February 2008

VOORBEREIDING VIR DIE ARGUS!

Soos almal teen die tyd al weet is ek en Candice besig om voor te berei vir die Argus Fietstoernet na ons troue in Maart. Die Fietstoer is so ongeveer 100 kilometer en is baie bekend vir sy steiltes wat jy moet uitklim. Die afsny punt is na 7 ure vanaf wegspring. As jy steeds na 7 ure op die pad is dan is daar 'n "loser" bus wat jou optel. Ons probeer ten minste die bus mis.
Wel ons oefen nou al baie ernstig sedert Desember 2007 en het ons so week gelede vir ons rekenaartjies vir die fietse gekoop om ons vordering te monitor. Hieronder is ons vordering vir die afgelope twee weke. Die eerste paar dae het ek nie so mooi rekord gehou nie. Ek gaan probeer om elke week ons vordering op te monitor.

CANDICE & ATTIE SE ARGUS FIETSTOER OEFENPROGRAM

DATUM

AFSTAND

TYD

GEMIDDELDE SPOED

TOP SPOED

ODO-METER

ADRIAN

28-Jan

20.43 km

1:01.54

19.6 km/pu

50.4 km/pu

CANDICE

28-Jan

20.44 km

1:01.23

19.2 km/pu

53.6 km/pu

ADRIAN

29-Jan

21.13 km

59.14

22.1 km/pu

45.3 km/pu

CANDICE

29-Jan

21.02 km

59.10

22.5 km/pu

46.7 km/pu

ADRIAN

30-Jan

23.22 km

1:01.14

19.1 km/pu

43.4 km/pu

CANDICE

30-Jan

23.22 km

1:01.01

18.8 km/pu

45.3 km/pu

ADRIAN

31-Jan

32.66 km

1:51.38

17.5 km/pu

46.2 km/pu

99.6 km

CANDICE

31-Jan

32.66 km

1:43.59

17.1 km/pu

47.8 km/pu

100.6 km

ADRIAN

02-Feb

38.13 km

1:39.32

22.9 km/pu

62.0 km/pu

137.9 km

CANDICE

02-Feb

38.45 km

1:41.08

22.8 km/pu

57.5 km/pu

139.0 km

ADRIAN

04-Feb

21.96 km

58.27

22.5 km/pu

46.5 km/pu

159.9 km

CANDICE

04-Feb

22.20 km

58.42

22.6 km/pu

44.6 km/pu

161.3 km

ADRIAN

06-Feb

24.05 km

1:04.12

22.4 km/pu

46.7 km/pu

183.9 km

CANDICE

06-Feb

24.36 km

1:04.44

22.5 km/pu

47.5 km/pu

185.6 km


Figuur 1: Gemiddelde Spoed teenoor Afstand