26 October 2008

Cheltenham

Ons was twee naweke terug Cheltenham toe gewees vir 'n tipe van 'n kerk kamp. Dit was die eerste keer wat ons in die geweste van Engeland gekom het en die natuurskoon en ongerepte valleie en heuwels het ons harte gesteel. Hier is 'n kort fotoverhaal van die plek waar ons oornag het naby Cheltenham. Dit is baie oud en pragtig. Dit word besonder goed bewaar en instand gehou en daarom kan ons dit vandag nog geniet.











Die Boedie Logo

x
x
x
x
In voorbereiding vir die 10 jaar viering van die jaarlikse samekoms van die Boedies op die plaas in die Kalahari het die manne besluit dat ons ons eie kenteken kry. Iets wat as simbool vir die hegte vriendskap van die Boedies kan staan en wat daarmee geassosieer kan word. 'n Wapen, wat wanneer mense dit sien, hulle sal weet dit verteenwoordig die Boedies en waarvoor die Boedies staan.

Omdat die Boedies ook erkenning wil gee aan die belangrike rol wat die "Boedie Wives", oftewel die vrouens van die Boedie manne, speel in die welstand en algehele gemoedstoestand van die groep, is 'n ope stemming gehou waarin van die vrouens (die met gereelde toegang tot epos) ook deelgeneem het. Na baie "positiewe" kritiek, beraadslagging, afpersing en omkopery is daar demokraties besluit op 'n wapen.

Dis dus met groot trots dat die Boedies hulle kenteken aan u bekendstel:
Die volgende is 'n kort opsomming van die simboliek van die teken:
  • Die Acacia (doringboom): Sedert antieke tye, simboliseer die Acacia ongereptheid, uithouvermoë en herlewing. Die Acacia is 'n simboliese en heilige boom in baie kulture. Die boom is ook ons definisie van krag en die Boedies is gegrond in hierdie fundamentele begunsels: die ongereptheid van 'n opregte begeerte om mens se persoonlike doelwitte te verbeter, die belangrikheid van harde werk en uithouvermoë of vasbytvermoë in die uitvoer van alles wat mens aanpak. Die Boedies glo in die krag van die vrienskap om nuwe lewe in te blaas en mekaar aan te moedig om persoonlik, akademies en filantropies te groei.
  •    Die Koedoe: Die Koedoe is 'n magiese en waarksynlik een van die mooiste diere in die natuur. Daar is twee Koedoe spesies, die Groter Koedoe (Tragelaphus strepsiceros) en die Kleiner Koedoe (Tragelaphus imberbis). Die Koedoe op die Boedie wapen is die Groter Koedoe wat volop voorkom in die deel van die Kalahari waarin die Boedies jaarliks saamkom. Vinnige Koedoe feite: 
    1. Skouer hoogte - Bul 1.2 - 1.5 m Koei 1.0 - 1.4 m 
    2. Volwasse gewig - Bul 190 - 300 kg Koei 120 - 215 kg 
    3. Leeftyd - 7 - 8 years
    4. Diëet - Herbivoor
    Die Boedies het die Koedoebul as simbool gekies omdat ons so enorme groot respek vir hulle ontwikkel het tydens ons kuiers op die plaas. 'n Tipe respek wat mens net kry wanneer mens in die nabye teenwoordigheid van hierdie koninglike diere verkeer. Die Koedoe simboliseer vir ons uithouvermoë en aanpasbaarheid in enige omstandigheid.



  • Die Kampvuur: Tradisioneel het die kampvuur in verskillende kulture, soos die van die Boesmans en voortrekkers, 'n baie belangrike plek in hulle sosiale interaksie met mekaar gehad. Waar ons in ons hedendaagse roetines in die aande voor die televisie neerval, is daar in vroëer dae in die aande en soms ook in die oggende voor die dag begin is, om die kampvuur bymekaar gekom. Dit was 'n era waarin die kampvuur mense die tyd gegee het om nog werklik met mekaar te kan gesels. Ons sien dit as die tyd toe die Boesmans mekaar raad gegee het oor die jag, die plek waar die dag se gebeure gedeel is en waar daar vir mekaar stories en legendes vertel is. Die kampvuur is ook 'n simbool van met wie jy jou assosieer, in die sin van wie jy om jou kampvuur toelaat of saam met wie jy om die kampvuur sit en wie nie. In die vriendskap van die Boedies is daar altyd 'n "kampvuur". Wanneer ons in die Kalahari is, is dit 'n rooi ysterhout vuur in 'n holte in die sand, wanneer ons in die berge gaan stap is dit 'n sagtehout vuur op 'n skottel, as die Boedies by mekaar kuier is dit 'n braaivleis vuur. In die tye waarin ons lewe en vanwee ons geografiese verspreiding is 'n tradisionele kampvuur nie altyd moontlik nie en dan word "Outlook" of "Email" die kampvuur van die dag. Die ding waar rondom almal gaan sit om te gesels, stories uit te ruil en raad te vra. Dis dan ook waarom die kampvuur in die middel van ons wapen sy plek gekry het.

    Namens myself en die ander Boedies sê ons dankie aan almal wat kon deelneem en gehelp het met die ontwerp en verkiesing van die wapen. Vir die wat nie die fasiliteite gehad het nie, en van die huis af ondersteun het, ons nooi julle om deel te raak van die bond en die wapen te gebruik om julle ondersteuning vir die Boedies mee te wys. Die plan is om met verloop van tyd verskillende artikels te ontwerp wat die Boedies se teken sal dra, so hou die blog dop en bestel jou "Boedie Beanie", "Boedie Cap" of "Boedie koffiebeker" en ondersteun die Boedies sodat hulle die nodige vlugkaartjies, vervoer en verversings kostes kan dek vir volgende jaar se 10 jaar Boedie Jagtrip vieringe! 

        09 October 2008

        SA Celebrities

        Mense,

        Dis mos min deesdae dat jy sommer 'n Suid Afrikaanse celeb raakloop en so paar woordjies kan verwissel. Die uwe, Schalk W Roeland het nou onlangs sommer twee raakgeloop en ek moet dit met julle deel.
        Die eerste SA celeb is 'n jong man wat gebore en opgebring is in die Potchefstroom omgewing en distrik. Ons het ontmoet in ons eerstejaar aan die PUK (oftewel Noordwes Universiteit, Potchefstroom Kampus). Die besondere man is ook besig om vir homself 'n loopbaan in SA televisie oop te werk met al die rolle wat na sy kant toe kom.
        Hy was al in bekende en beminde sepies soos 7de Laan, Egoli, Binnelanders en nog ander ook. Watch mooi, een van die dae is hy so bekend jy gaan dit naby hom kan waag nie met al die papparazi wat hom gaan agtervolg om daai perfekte steelfoto te neem. Ek praat natuurlik van Drikus Volschenk.
        Hy was toevallig op dieselfde vlug van London Gatwick af na Joburg toe via Dubai. Ons het alte lekker gekuier op Dubai terwyl ons gewag het vir ons connecting vlug Johies toe. Hier sit hy en Elzna in Dubai se duty free area, voor een van die hekke en wag.
        Dit was sommer lekker om weer vir Drikus te sien en te kuier. Die man gaan nog groot gaan.
        Die ander celeb wat 'n vermelding verdien, is Johan Stemmet. Die immergoen Noot vir Noot aanbieder steel nou al vir jare lank ons Vrydae of Saterdae aande met die gewildste speletjiesprogram ooit op Suid Afrikaanse televisie. Of hy nou Noot vir Noot like of nie, jou paadjie het al iewers met dit gekruis. Al is dit net om die deelnemers so bietjie gas te gee uit die gemak van jou sitkamerbank.
        Johan het onlangs by die SA Gemeente in Engeland se basaar opgetree en hy was ook seremoniemeester tydens die dag. 'n Dag wat die Britse weer nie lekker wou saamspeel nie, maar almal het dit baie geniet. Hy het ook later in die aand 'n Noot vir Noot spel aangebied wat baie pret en plesier verskaf het vir almal teenwoordig. Dit het ons sommer huis toe laat verlang.
        Hier is ek en Johan, lekker warm aangetrek vir die snerpend kou wat sy kop uitgesteek het die dag.

        23 September 2008

        Die Groote wat nie weggekom het nie

        Vir my om 4uur in die oggend op te staan beteken een van twee dinge. 1, Ons is oppad see toe of 2, oppad dam toe. Vanoggend was altwee van toepassing. Ek moes vir Suné 4:30 by die skool gaan aflaai want sy gaan saam met die Gr. 8’s op hulle “Verrykingstoer” Groot-Brak toe. Ek is mos nou wakker, so ek kan net sowel van die geleentheid gebruik maak om die eerste hengelsessie vir die nuwe seisoen te gaan geniet.

        Saterdag se weer op SABC 3 het weathersa.co.za se voorspellings bevestig. Net ‘n ligte noordooste wind wat gaan waai met ‘n maksimum tempratuur van 22 grade Celcius. Die tyd van die jaar kan nogal baie sleg raak as die wind opsteek. Dan het jy nie ‘n idee as die vis byt soos jou polisieman rondwaai nie.

        Ek het by die dam aangekom met net genoeg lig dat ek darem kan sien wat ek doen. Die water was ysig gewees om die mieliebom mee aan te maak. Met sonopkoms was ek reg om te gooi.



        Die meeste van die kere as ek gaan vang leer ek iets nuuts. Vandag het ek geleer om nie reg oos die lyne in te gooi nie. Die oggend son verblind jou heeltemal en jy kan nie jou polisiemanne sien nie. Die eerste gooie het maar geskukkel, want die lyn op die katrolle is maar styf na maande se lê in my viskas. Die tweede gooie was ook ‘n gesukkel met die lyne wat haak aan alles en die lyne wat koek. Ek het behoorlik gelyk soos iemand wat vir sy heel eerste keer gaan hengel.

        My neef, Radyn, het by my aangesluit terwyl ek besig was om die gemors reg te maak. Van hier af het dit sommer baie beter gegaan. Die feit dat dit nou al biejtie warmer was, en ek weer gevoel in my hande gehad het, het baie gehelp. Die eerste paar ure was maar stil gewees en nie veel het gebeur met die degie en floaties wat ek op het nie. Ek probeer toe 'n erdwurm wat Radyn vir ons gebring het. Eweskielik hoor ek 'n pragige geluid! Sszzzzzzz, skree die katrol. Atlyd 'n goeie teken! Ek kon sommer voel dit is 'n goeie grootte vis. Hy het lekker baklei en hy is veilig in die net. My grootste karp nog. Net jammer ek het nie 'n skaal om hom te weeg nie, maar ek skat hom op 'n goeie 5kg. My persoonlike beste!!


        Radyn het ook twee uitgetrek wat ook op 'n erdwurm en mieliepit gebyt het.


        Nader na middagete toe raak alles weer stil en ons steek solank die kole op om die innerlike te versterk. Die res van die oggend het vir my nog 'n klein karp opgelewer. Na middagete het ons lekker in die son gesit en lui word. Ek was besig om te "dim en bright" toe die katrol weer skree. Ek kap en katrol. Hier is 'n dikke!! Ek moes die rem losdraai want die man gaan stoei. Ek het al in die verlede sulkes gehaak, maar het hulle nog altyd verloor. Dus was ek maar op my senuwees en wou nie te haastig raak nie. Ek het hom lyn gegee en as hy ophou swem bring ek hom stadig in. Dan draai hy weer om en swem die dam in. Terwyl ek hom speel byt my ander stok. Ek kap hom gou met die een hand en los hom maar want die grootte kan nie wegkom nie. 'n Paar minute later was hy op die wal. My nuwe persoonlike beste!! Weereens was ek baie spyt dat ek nie 'n skaal het nie, maar die ene het ek geskat op 7.5kg.


        Ek het gou foto's geneem en die ander lyn ingebring. Die grootte het die erdwurm en die kleintjie op die ander stok het toe die degie gevat. Die res van die middag het Radyn nog 2 karpe gekry.
        Nie baie vis nie, maar ons het baie tevrede ons goed gepak en teruggekeer huis toe. Ek kan nie wag vir die volgende geleentheid nie. Dit was toe 'n baie goeie begin vir die jaar. Volgende keer kry ek dalk die een wat die skaal op dubbelsyfers trek. Ek kan nie wag nie!

        13 September 2008

        Die gezoem van die Bye

        Hou julle van heuning? Wel, ek en Estelle het vroeër die week, een middag na werk, uitgevind ons boer met bye. 'n Hele swerm het in die kas in ons tuin ingetrek en was al besig om op grootskaal heuning te produseer. Ons het eers gewik en weeg of ons nie dalk ons werke moet los en profesionele heuning boere moet word nie, maar toe maar besluit om van daai pesbeheer mense te kry om vir Maya en haar makkers te kom uit rook.






        Nie lank nie of 'n ou in 'n ruimtepak klop aan die deur. "Ek dink jy is dalk opsoek na die planetarium? Dis daar naby WITS, maar ek kan nie nou praat nie, ek sit met 'n effense van 'n by probleem." Gou uitgevind die man het nie sy wentelbaan verloor nie, maar was eintlik hier om te help met die bye.

        Hy het hulle eers met so daggapompie berook en kon hoor die bye was sommer vinnig almal baie hoog, veral toe een by my oor verby vlieg en sê: "Hoezzzzzit!" Daarna het die byman sy rubberhandskoene aangetrek en ek dog bymyself, "Boet, as jy van plan is om hierdie hele swerm bye te 'strip search', gaan ons blêrrie heel aand hier wees." Ek sien toe hy gebruik dit eintlik om die heuningkorwe mee af te haal en die hele kas skoon te maak. Met die handskoene het hy sommer so handvol bedwelmde bye op 'n slag in 'n sak gegooi.

        Nou dat die kas weer na sy normale toestand teruggekeer het, is ons grootste bekommernis dat die bye gaan terug trek. Die byman sê dat hy tussen September en Oktober 'n groot klomp byneste in die stad moet verwyder en dat die bye lief is om na so week weer terug te trek. Ons hoop maar hulle bly nou weg.

        10 September 2008

        Boedies in die Kalahari '08

        Uiteindellik was dit weer daardie tyd van die jaar. Kalahari toe. Plaas toe. Tyd om te vergeet van alles in die wêreld wat jou pla. Daar vind jy die tyd om dit uit te praat, raad te kry, perpektief en antwoorde te kry. Maar dit is nie die hoofrede hoekom ons plaas toe gaan nie. Dit is tyd saam met die Boedies. Darem niks so lekker soos om ‘n groot vuur te sit en nonsens te praat saam met jou pelle nie. Vir my is die enigste kere wat nonsens praat sin maak. Saam met ander mense voel die altyd so aangeplak en ongemaklik. Nie saam met die Boedies nie.

        Maar die kersie op die koek bly mos maar ook daardie Kudu-bul. Verlede jaar het ons ‘n mooie gekry, gaan dit hierdie jaar weer die geval wees. Gaan ons nuut gekroonde golfkampioen net so suksesvol wees met kudu skiet soos met “voëltjies” skiet.

        Na die golf in die kar gespring en in die pad geval. Dit was al amper donker toe ons met die bakkie uit Stella uitry met al die proviant agterop gelaai. Ons het soos tradisie bepaal so halfpad plaas toe eers gestop om van die versnapperings te geniet, want toe word ons dors.
        Eers naby 8 uur op die plaas aangekom. Sommer met die intrapslag in die kombuis is ons al gegroet deur die somerbewoners. Dit is nou daai spinnekoppe wat veronderstel is om vlieë en goggatjies te vang. Blykbaar nie gevaarlik vir mense nie, maar ek weet darem nie. Die Kalahari-modelle was ook aansienlik groter as waaraan ek gewoond is. Dan vertel Stefan nog stories van Romanne.

        Ons was redellik uitgeput na die dag in die son, en het gou uitgepak en iets geëet voordat ons bed toe is. Ons het maar eers laat opgestaan dievolgende oggend, maar toe almal op en aan die gang is, is ons die veld in. Kain het ook reggestaan by die bakkie om die hekke vir ons oop te maak in ruil vir ‘n soetdingetjie. Dadellik het ons sommer baie bokke gesien. Ook sommer in een van die eerste lande het Kain ‘n “Tholo” (Kudu) gewaar. Een met horings wys hy. Toe hy eers vir ons in die regte rigting wys sien ons hoe die bul oor die draad spring en in die bosse verdwyn. Kain het toe vir Stefan baie vreemd aangekyk. So asof hy wou sê: “Hoekom jaag julle dan nie die bok nie, het julle net kom foto’s neem die jaar?”

        Stefan het toe vir hom verduidellik dat ons eers dievolgende dag kon skiet. Omdat dit so warm was sou die vleis sleg word as ons dit te lank laat hang.

        Adrian was oorgehaal om ‘n tarentaal plat te trek die jaar. Aangesien die .22 opgradeer is met ‘n jagteleskoop, hoe sou ons nou kon mis. Na ons eerste paar draaie het ons eers weer ‘n paar skote gaan skiet op ‘n plastiekbottel om seker te maak daar is nie stof in die loop nie.

        Ons het toe ook gesien dat die tarentale redellik veilig kan voel aangesien ons maar gesukkel het om die plastiekbottel, wat nie juis beweeg het nie, raak te skiet. Na die sessie is ons weer huis toe, want toe word ons dors.

        Na aandete is ons weer die veld in. Opsoek na springhase.
        In die verlede het ons staat gemaak om rou spoed om hulle te vang, maar daardie kite vlieg nie meer nie. Hierdie jaar het ons meer “omsingel en verwar” taktiek gevolg. Maar dit was nie suksesvol nie. Daardie hase raak elke jaar net vinniger.

        Vrydag en Saterdag weer ons rondtes gedoen vroeg in die oggend en laat in die middag. Weer het ons baie bokke gesien, maar nie ‘n bul om te skiet nie. Aangesien ons die kans gehad het, het ons nadergestap aan ‘n aasvoëlnes. Soos tipiese toeriste het ons gekyk hoe die ma ‘n draai vlieg en die kleintjie sy kop by die nes uitsteek om ook te sien wat onder op die grond aangaan.

        Na Vrydagmiddag se ekspidisie het ons ook die pragtige sonsondergange van die Kalahari probeer vasvang. Dit maak ‘n mens sommer poëties.

        Saterdag was nog ‘n fotosessie gewees. Dit was spesiaal vir SW se Britse kollegas. Die vra mos hoeka vir SW: “These Kudu’s, do they live in the woods? Do you breed them and then shoot them?” Pommies! Hy het toe ‘n paar foto’s van die personeel daar op die plaas geneem en waar hulle bly om die Ingelse te wys hoe dit lyk hier in Afrika.


        Saterdagmiddag, nou is dit ons laaste kans. Daar was nie veel hoop dat ons die keer iets gaan kry nie, en die 243 het maar eenkant gelê. Eweskielik roep Kain weer “Tholo” en wys weer horings met sy vingers langs sy kop. Voor in die pad staan die 2 bulle. Groot genoeg om te skiet, defenitief. SW, het die geweer uit, maar hulle het ons nie genoeg kans gegee nie en verdwyn agter die bosse in. Ons het lank gesoek maar kon hulle nie weer opspoor nie. Later het ons ‘n trop Springbokke gesien. SW het aangelê. Hy kon egter nie ‘n goeie skoot inkry nie en het besluit om nie te skiet nie aangesien hulle nie stil genoeg gestaan het in daai 2 minute wat ons vir hulle gekyk het nie. So is ons weer terug huis toe. Die res van ons het ‘n paar skote op die tarentale gehad, maar ook die was onsuksesvol. Selfs al het hulle doodstil en half aan die slaap in die boom gesit.

        Terug by die huis het ons weer vuur gemaak en elke oomblik daar op die plaas probeer vasvang in ons geheue. Ten spyte van die Kudu’s en die Springbokke wat nie wou stilstaan nie, was die plaas weer ongelooflik. Heeltemal te gou na my sin is ons weer terug in Potch en het ons almal weer vinnig gegroet terwyl ons weer begin droom van die volgende keer op die plaas!

        01 September 2008

        SW ROELAND: WARE NOMMER 1!

        POTCHEFSTROOM, NOORDWES. – Die 29-jarige S.W. Roeland het Woensdag die 20ste Augustus 2008 die eerste Boedie geword wat die gesogte BOEDIE Meesters-golftoernooi gewen het. Tot op datum is hy die enigste Boedie wat dit kon vermag. Dit moet egter in gedagte gehou word dat die toernooi hierdie jaar vir die eerste keer plaasgevind het.

        Kenners het voor die aanbreek van hierdie toernooi bespiegel dat SW dalk sou sukkel om die druk op die dag van die hierdie belangrike toernooi te verwerk. Veral gesien in die lig dat die ander spelers soos Emile Langeveld, Adrian Montzinger en Stefan Le Roux almal met goeie reputasies by die toernooi aangekom het. Inteendeel die laaste keer wat hierdie vier teenmekaar kragte gemeet het, op die alombekende en immerbeminde baan van die Pampoene (glad nie ‘n indikasie dat almal wat daar speel pampoene is nie), was Emile en Adrian in topvorm en was die enigste kompetisie: wie eerste SW of Stefan se bal gaan vind tussen al die rof. Dit moet egter in gedagte gehou word dat beide van hulle op daardie stadium rugprobleme gehad het.

        Verder het SW ook die reputasie dat hy onder druk vou en veral wannneer hy teen sy gootste teenstander Adrian Montzinger te staan kom. Hier is slegs een woord nodig om te noem: “Brain Lara krieket”, maar dit word gelos vir ‘n ander dag. Adrian wou hierdie sielkundige terkortkoming van SW uitbuit, maar nadat hy ‘n e-pos vanaf SW met die volgende woorde ontvang het: “Hy kan maar try. Maar as hy vir my lag as ek 'n*%&@# shot geslaan het OF as hy net stilbly, gaan ek hom @#$%* met 'n stok”, was sulke planne gelaatvaar. Die wenner sou slegs bepaal word deur die beste speler.
        Na ‘n paar goeie vertonings in toernooie voor die BOEDIE Meesters het SW die toernooi begin as gunsteling. Emile as tweede vanweë sy reputasie en Stefan en Adrian was maar in die agtergrond vanweë ‘n gebrek aan enige noemenswaardige voorbereiding.

        In moeilike speeltoestande het SW van die begin af die spel na die ander spelers geneem. Hy het sy “big dog” laat sing en elke keer die arme wit balletjie geslaan dat jy die bal jammer kry. Emile het ook goed begin. Hy het by verre die meeste skoonvelde raakgeslaan en het goed gelyk vanaf die bof, vir die eerste nege. Aangesien familie hierdie berig gaan lees, sal ons maar nie oor Emile gemoedstoestand gedurende sy tweede nege verslag gee nie.
        SW en Emile het met die klubhuis voorsprong gesit na die eerste nege. Adrian het teleurgestel, maar het in die agtergrond geskuil, gereed om toe te slaan. Stella was ook daar en het seker gemaak dat almal maar stilbly nadat hy geslaan het.


        Die tweede nege was meer kompeterend. SW het steeds konstant gespeel en het niemand geen gunsies bewys nie. Op ‘n baan waar dit moeilik is om voëltjies aan te teken het hy die enigste voëltjie van die dag aangeteken. Adrian het goed terug geveg in die tweede nege en met 7 houe verbeter op sy eerste nege. Emile was ook daar, maar meestal tussen die bome, gelyk of hy voëltjies wou raakslaan in plaas van aanteken. Stefan was ook daar en eers aan die einde sy ritme teruggekry.

        SW het egter die dag gevat en die klubhuis binnegegaan met ‘n wen van 7 houe oor sy naaste teenstander Adrian Montzinger. Emile en Stefan was onderskeidelik derde en vierde.

        SW dra hierdie oorwinning op aan sy gesin, vriende en familie. Hy het onder andere gesê: “Daar is ‘n paar belangrike dinge in ‘n man se lewe: Om jou vrou in die kerk te sien afstap op jou troudag, om die All Blacks te wen in Nieu-Zeeland en om die Boedie Meesters teen die Boedies te wên, hierdie is daar bo”.

        Emile Langeveld het gesê: “Volgende jaar is nog ‘n kans, ek sal werk aan sekere aspekte van my spel, probeer om voëltjies op die regte manier aan te teken, maar SW het goed gespeel en verdien die oorwinning”.

        Stefan het gesê: “My resultaat wys jou dat sonder konstante oefening jy gaan sukkel in die spel, ek sal my prioriteite moet heroorweeg , dit is of golf of niks.”

        Adrian het gesê: “Ek het op my natuurlike talent staatgemaak en toe verloor ek natuurlik. Ek moet nog werk aan sekere aspekte van my spel, veral my sielkundige intimidasie tegnieke. Die ander spelers vang vinnig op. Op enige ander dag sou my naam op die trofee gewees het, maar hierdie jaar is dit SW. Hy verdien dit.”
        Wel so word nog ‘n BOEDIE Meesters voltooi. Geluk SW en met die boodskap vanaf die ander Boedies dat SW maar moet houvas aan die trofee vir solank hy kan, sien ons uit na die volgende opwindende aflewering van die BOEDIE Meesters.