21 December 2007

Maropeng

Die afgelope naweek het ek en Estelle besluit om te gaan kyk waaroor Maropeng gaan. Maropeng, as ek my beste direkte vertaling van Tswana kan gebruik, reken ek beteken "plek waar die bene is", want Marope is "bene" en Maropeng is "waar daar bene is". Dit staan ook beter bekend as die "Cradle of humankind" of die "Wieg van die mensdom" en is basies ‚n uitstalling van fosiele en ander interresante uitbeeldings van die aarde en die mens se ontwikkeling die afgelope paar miljoen jaar.


Die beste deel van Maropeng is die ondergrondse bootrit wat op verskillende verbeeldingryke maniere van geluide, reuke, gevoel en mens se sig gebruik maak om jou te laat voel asof jy op ‚n rivierstroom onder in ‚n grot dryf. Die avontuur begin in die hede en vat mens dan terug in tyd deur die verskillende stadiums van die aarde se ontwikkeling. Mens gaan terug na die ys tydperk waar ‚n sneeu masjien en wit rotse met water oral om mens laat voel asof jy in 'Ice Age' die movie is. Later bereik mens die tydperk toe die aarde se kors geskuif het en eindig uiteindelik op in 'n gesimuleerde 'black hole'. Ek was aangenaam veras met die ervaring en het dit baie geniet.

Na ons na al die uitstallings gekyk het en ‚n koeldrank gegryp het, het ek die koordinate van die Sterkfontein grotte in my GPS ingesleutel. Ek het nie veel van die grotte verwag nie en het gereken dis maar net ‚n aanterklikheid om mens na die gebied te lok. Ek was weereens verbaas om te sien dat die grotte heelwat groter was as wat ek verwag het. Die grotte lê onder in 'n klein koppie en mens sou nie kon raai, deur na die koppie self te kyk, hoe groot die grotte daaronder eintlik is nie. Die diepste punt was 60 meter ondergronds.

Beide hierdie aantreklikhede is gegrond rondom die ontdekking van die 2.3 miljoen jaar oue Ausralpithecus africanus fosiel met die bynaam van "Mrs. Ples" wat in 1947 deur ‚n Dr. Robert Broom en John Robinson ontdek is. In 1935 het Robert Broom die eerste aapman fosiel by Sterkfontein gevind. In 1938 het ‚n jong skoolseun, Gert Terreblance, stukke van ‚n fosiel kopbeen naby Kromdraai gekry en ‚n enkele aapman tand is ook later tussen Kromdraai en Sterkfontein gekry. Die opgrawings in Sterkfontein het in 1966 begin en hulle is steeds besig daarmee, wat dit die langste aaneenlopende opgrawing in die wêreld maak. In 1997 is ‘n amper kompleet geraamte gevind wat ongeveer 2.5 miljoen jaar oud is en die bynaam "Little Foot" gekry het.
Wanneer mens die grotte besoek kan mens sien hoe maklik ‚n oermens daar rond kon geloop het en niks verwagtend in ‚n gat geval het, wat dan tot diep in die grot sou opeindig. Die gate is gevorm deur dat die grotte se dak op plekke ingegee het. Plante het later die gat half toe gegroei en as iemand of iets daar rond geloophet kon hulle maklik in die gat geval het. Allerhande stof en klippe het ook mettertyd deur die gat geval, wat dan die geraamte bedek het en as gevolg van die minerale in die grond en die water wat gedurig deur die grotte suipel is die bedekte geraamte versteun en sodoende bewaar vir baie jare.

Ons het die uitstappie baie geniet. Die area rondom die grotte is ook baie mooi en dit was veral lekker om 'n bietjie in die son te kom en net mens se bene bietjie te strek. Die volgende dag was ons bene en boude lekker styf van al die geklim en klouter in die grotte, maar dit was alles die moete werd.

19 December 2007

BURGER FIETSTOER


Ek en Candice beplan om volgende jaar net na ons trou die Cape Argus fietstoer te doen. Ons oefen dus intussen om voorbereid te wees vir die moordende Argus fietstoer. Die Argus is ongeveer 100 kilometer van swoeg en sweet en gooi so tussendeur ook 'n bergpas in. Elkgeval om voor te berei vir die grotes moet ons maar begin met die kleintjies. Ons het dus ingeskryf vir die Burger Fietstoer hier in Stellenbosch en besluit om die 44 kilometer reis te doen. Ons is baie trots op onsself. Ons het die hele reis voltooi sonder om eenkeer te stap of te rus. Nou vir die grote. Hier is 'n paar fotos van die dag:









Aan die einde van die dag het ons darem 'n brons medalje ontvang. Het ongelukkig nie meer foto's nie, maar het darem die reis binne twee ure voltooi. Dit was darem na aan ons target gewees, so die reis was 'n sukses.
Nou vir die Argus. Hier kom ons Argus.

Boedie Bestes vir 2007








Fliek:
----------------------------------------------
Adrian: American Gangster
Emile: Fracture (Anthony Hopkins)
Stefan: The Guardian
SW: 300












Boek:
-------------------------------------------
Adrian: King Of Torts (JOHN GRISHAM)
Emile: (Niks boeke gelees nie)
Stefan: Spud (Johan van der Ruit)
SW: (Niks boeke gelees nie)



















Tydskirf:
------------------------------------------------
Adrian: Sports Illustrated
Emile: Die Oewerhengelaar
Stefan: Mens Health
SW: Mens health








Rekenaar Program:
-----------------------------------------------
Adrian: (jy het my)
Emile: Olimpus Master.
Stefan: Google Earth
SW: Tiger Woods Golf







Web Site:
----------------------------------------------
Adrian: http://www.zoo.co.za/
Emile: http://www.jy-het-my.com/
Stefan: http://www.blogger.com/
SW: http://www.jousussie-se-pienk-fietsie.com/ (Nee nie rerig nie). http://www.keo.co.za/ is my wenner







Song:
-----------------------------------------------
Adrian: Robert Thicke, Lost without you
Emile: Chris Chameleon, Eerste oogopslag
Stefan: Snow Patrol, Chasing Cars
SW: Take That, Rule the world (Van movie Stardust) - Great song, sal hom aanbeveel vir Attie om op sy troue te speel











Bier:
----------------------------------
Adrian: Hunter’s dry
Emile: Hunter’s Dry
Stefan: Savana Light.
SW: Hunter's Dry (niks hier wat dit beat nie). Die ciders hier proe soos vrot appels.














Brannas:
------------------------------
Adrian: Ricky Louw
Emile: Wellington
Stefan: Richelieu
SW: Wellington baby!!!!!!!













TV Program:
----------------------------------
Adrian: Survivor
Emile: The War at Home
Stefan: Grey’s Anatomy
SW: X factor

















Sports wedstryd:
------------------------------------------------
Adrian: SA vs Engeland (groep wedtryde 36-0)
Emile: Rugby World Cup Final
Stefan: Rugby World Cup Final
SW: Super 14 Final




Model:
-------------------------------------------
Adrian: Candice Brown
Emile: Minky van der Westhuizen
Stefan: Tania van Graan
SW:
Keeley Hazel (p3 girl)

Boedie Kuier:
----------------
Adrian: DIE JAG
Emile: Plaas
Stefan: Die Plaas Kuier (Mila se Kudu)
SW: Daar is net een, die groot een, die magtige een, die JAG EEN!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Boedie Performance:
-------------------------
Adrian: Adrian, Die Burger Fietstoer (44 kilometer 1h44m)
Emile: Mila wat eindelik getrou het.
Stefan: Adrian as Seremonie Meester op Mila se troue.
SW: Stella wat 'n presentation aangebied het by 'n konferensie oor sy projek.

18 December 2007

MENSE & HUL DINGE UIT DIE WES - KAAP

Wel dit is nou al 'n geruime tyd gelede dat ek enige iets geblog het, sedert ek en Candice se verlowing. Die jaar staan nou einde se kant toe en het ek dit goed gedink om 'n vinnige opsomming te gee van wat ek en Candice die afgelope paar maande onsself mee besig gehou het.


Wel na die verlowing was dit maar weer terug na die normale skedule toe. Daar was egter 'n bietjie tyd vir uitkom en een van die geleenthede wat ons aangewakker het was 'n advertensie in die Weg tydskrif wat genoem het van 13 teleskope met potjiekos en sterre in Sutherland. Wel ek wou nog altyd Sutherland toe gaan en ook vir Candice gaan wys. Ek "organize" toe alles, maar besluit toe om maar die "outlaws" saam te neem. Wat volg is 'n paar foto's om 'n idee te gee van wat ons ervaar het. Vir die wat nie weet nie! Sutherland is 'n pragtige dorpie in die karoo, so ongeveer 3 ure van Kaapstad af. Dit het 'n absolute asemrowene sterrehemel en is ongeveer al die 4000 sterre wat op 'n goeie aand sigbaar is, met die blote oog wel in Sutherland sigbaar. Wel die naweek het nie teleurgestel nie en is ons inderdaad deur die sterrehemel betower. Sutherland is dus op sy eie unieke manier 'n juweel wat platinum werd is.

Die foto links bo is al die teleskope wat beskikbaar
is by die sterrekunde navorsing sentrum. Hier langsaan is die grootste teleskoop in SA. Hulle is baie geheimsinnig by hierdie plek en ek is seker hulle het al iets gesien wat ons nie weet nie. Dit is egter 'n belewenis op sy eie om binne in die teleskoop te wees. Ongelooflik.









Link is 'n idee van hoe Sutherland lyk. Daar is slegs een hoofstraat. Dit laat my baie aan Calvinia dink, maar is net baie kleiner. 'n Pragtige dorpie, waar mense nog sommer uitstap en gesels as hulle sien dat julle vreemdelinge is. Almal is vriendelik en groet met 'n glimlag. Hieride is mense wat in die armste provinsie in ons land bly, maar wat elke dag opstaan met 'n warm hart teenoor ander mense.






Hier regs is ook van die mense van Sutherland.
















Die "Vreemdelinge" in die dorp. Die "outlaws", Candice en haar broer.














Nog mense van Sutherland. Die outjies het my voorgekeer en gevra ek moet 'n foto van hul neem toe hulle sien ek het 'n kamera. Hulle het dit terdee geniet. Jy kan sien hulle neem baie foto's met toeriste. Vir hulle om vir 'n foto te posseer is vir ons om soos nuwe fliek op 'n groot wit skerm te gaan kyk in Calvinia. Dit gebeur so every once in a while.






En dan natuurlik die foto van die naweek. Hierdie is 'n ou murasie amper in die middel van die dorp. Die foto het die gebou pragtig saamgevat. Ek dink die foto spreek vir homself.

Wel die naweek was inderdaad 'n sukses. Pragtige sterre. Ongelooflike mooi dorpie, 13 teleskope en potjie kos. Voorwaar 'n wenresep. Ons beplan weer om volgende jaar te gaan. As julle ooit verby Sutherland ry, gaan maak gerus 'n draai daar. Dit is die moeite werd.


23 October 2007

Stywe Lyne

Daar is darem maar klomp mooi geluide in die wêreld. Een van hulle is as jou katrol so sszzzzzz skree soos wat die ou grote jou lyn aftrek en probeer wegkom. Hierdie is die somer wat ek myself belowe het, dat ek meer gereeld gaan visvang. So far, so good! Ek was darem al 4 keer by die waters gewees vandat die warmer weer sy opwagting gemaak het. 3 Daarvan was baie slegte dae, met die Augustus winde wat laat was en 'n dag by die dam baie onplesierig gemaak het. Hierdie laaste Saterdag was gelukkig 'n heel ander storie.


Ek het saam met my klein-neef, Radyn, en Paul wat ook hier by die varsity werk gaan vang. Paul se 2 dogtertjies het ons ook vergesel. Hierdie keer was dit die eerste keer dat ek Tierpoortdam se karpe sou aandurf. Met die stormsterkte winde van die vorige uitstappies het ek nog nie gesien waartoe my nuwe gerei instaat is nie. Ek en Radyn het die vorige dag eers gaan oefen om ons akkuraatheid met die gooiwerk te optimaliseer.



By die dam aagekom het die wind weer fris gewaai, en ek was bekommerd dat dit weer dieselfde tipe dag gaan wees. Die slyk het ook dik gelê die eerste 5m van die oewer af. Maar wie is bang. Ek het my 11ft Blue Marlins uitgehaal en my nuwe Okuma Interceptor Baitrunners opgemondeer en die lyne is in met 'n gly Rietvlei strop. Ek het soos oudergewoonte floaties en 'n degie op die hoeklyne gehad vir 'n begin. Die slik was 'n probleem deur aan die lyne te haak en die lyn dan skeef te trek. Oplossing, skuif die stokke in die water in.
Paul was eerste suksesvol met 2 mooi karpe. Die grootste een van 3.5kg. Ek het later 'n mooie van 3 kg gevang en Radyn se beste was 2.5kg op sy eerste hengel uitstappie. Die wind het darem vinnig gaan lê, en dit was 'n lieflike dag. Die klein karpe en babers het ook darem gepla om te sorg dat ons nie te rustig raak nie. Paul was die hengelaar van die dag, en het nog 2 mooies uitgetrek. Die aas van die dag was beslis Kariba erdwurms. Niks anders het op hierdie dag gewerk nie.

Daar was darem tyd om 'n vleisie op die kole te gooi en die rustigheid on die gazebo se skaduwee te geniet. Na middagete het die grotes verdwyn en het ons net nog 'n paar kleintjies gevang. Dit was intressant om te sien dat die grotes nie diep gele het nie, en ons het omtrent so op 60m gevang. Paul het verduidellik dat dit omtrent daar is waar die ou Kafferrivier se loop was.

Die einde van die dag het net te vinnig gekom.
Die stokke is vir oulaas ingegooi en die kar is solank begin pak. 'n Baie lekker dag by Tierpoort gewees. Die waters sal my beslis weer sien!
.

19 October 2007

Die Groen en Goud.

Schalk,
ek bring vir jou slegte nuus en goeie nuus hier uit die vaderland. Eers die slegte nuus. Lucky Dube is vermoor, klink my hulle wou die man hijack en toe is hy geskiet. So ou Lucky is nie meer met ons nie. Nou, as jy jouself weer 'compose' het na daai slag die goeie nuus. Die wereld hier in die Suide van Afrika is groener as ooit en dis nie net a.g.v. die lekker reens wat ons gehad het nie, maar oor Bokke more die beker huis toe bring. SAB het gister aangekondig dat hulle spesiale maatstawwe in plek gesit het om te probeer verseker dat daar genoeg bier in Gauteng beskikbaar sal wees oor die naweek. Hulle weet nie of hulle dit gaan maak nie. Die beeste kou hulle hoewe tot in die lewe, want vleis verkope is deur die dak. Biltong, niks “E Vediele”, “Gagona!”, klaar! Die manne eet nou sommer die vleis so rou met net sout en speserye oor. Verder is daar glo nie meer ‘n Springbok trui enige plek te koop nie. Dis alles uitverkoop en as jy nou een kry betaal jy nie vir die trui nie maar vir die groen en goud!

Oppad werk toe sien ek almal het Groen aan! Ek het self groen aan en ons sekretaresse het vir amal so borspeld gekoop wat so klein goue springbokkie op het. Die gees is hier! Bok koors is nie Mila se eerste mis op die Kudu in 2005 nie, ook nie Attie se gatslag van 2006 nie, Bok Koors is die 'tension' oor wat moontlik alles more aand kan gebeur. Nog iets wat enige bok ondersteuner se groen bloed maak kook is al hierdie sexy girls met hulle springbok truie. Darem niks mooier nie. En die koerante is vol van girls wat pose met net ‘n Springbok trui aan. Grrrr!

Kom Bokke, bring daai beker huis toe!!

17 October 2007

Die Underground

Ek voel sommer soos 'n lekker neut. Het vanoggend op die verkeerde trein gespring by New Eltham.


Wetie rerig wat ek gedink het nie. Ek dog eers, maar my, die trein laat loop mos vandag! Vandag is ek eerste by die werk, voor die res van die team. Brownie points vir die nuwe joiner! Maar...nee. Ek sien toe die outjie stop nie by Lewisham nie - Okay, ek sal by London Bridge afklim. Ek sien toe die outjie stop ook nie by London Bridge nie - Dis toe dat ek daai gevoel kry van jy weet jy is in die poe, maar jy kan net mooi okkol daaraan doen.

Die eerste plek waar ek kon afklim was toe Waterloo East station. My kaartjie was net geldig tot by Lewisham, so ek was 'n illegal alien op die trein. Ek sien toe daar voor is knape wat die tickets check en draai toe maar om, want ek wil nie uitgevang word nie. Toe besluit ek, ek gaan so in die middel van die mense probeer deurkom om 'n ander kaartjie vir terug te gaan koop. Miskien check hulle nie al die tickets nie? Miskien doen hulle net so spotcheck? Ek sweef toe deur die mense om myself so in die middel te stasioneer, omring deur ander haastige mense wat ook oppad werk toe is.


My gesig moes seker skuldig gelyk het, want voorwaar - Hulle keer my voor. 'Sir, your ticket?' Eish, uitgevang! Ek probeer toe verduidelik dat ek op die verkeerde trein geklim het en wys my geldige kaartjie vir die ander stasie. Maar aikona, hulle wil niks weet nie. Eintlik net die een vrou, haar kollegas sê toe vir haar sy moet dit los. £20 fine, sommer op die spot. Eish alweer, dit maak seer. Gee toe maar my kaart dat hulle my kant van die bank debiteer, want ek kon sien die antie issie lus vir speletjies nie.

Toe verduidelik hulle vir my die pad na die naaste underground toe en toe klim ek op die Jubilee Line Canary Wharf toe, die plek waar ek werk. Goeie bliksem, het nog nooit so gepakte tube gesien nie!

Die foto hierbo is nie eers naby hoe dit gelyk het nie. Die ouens buig sommer so by die deure om in te kom. En ja, toe is Blinkmeneer Garlic van gisteraand hier in my gesig. Met 'n snotneus ook nog daarby. So, die man het nie asem nie, en dit wat hy het blaas hy sommer som met 'n gesuis hier in my gesig. Die erg ding van die trein, DLR en die tube in spitstyd is dat niemand afklim langs die pad nie. Almal neuk na dieselfde plek toe, gewoonlik die plek waarheen jy ook gaan.

Maar nou ja. Was so uur laat vir werk. Hulle het darem verstaan, dit het al met almal gebeur.