24 July 2007

Boedies eindig derde in internasionale 3 Nasies Superbru.


Ek het vroeër berig dat die Boedies kookwater spel lewer in die 3 Nasies Superbru kompetisie by http://www.superbru.com/ en die afgelope naweek was dit dan ook die finaal van die 3 Nasies. Al het die Springbokke nie met di beker weggeloop nie, het dit nie die Boedies gekeer om skitterend te eindig met 'n globale derde plek nie. Om derde te eindig in 'n kompetisie waaraan daar 1041 spanne deelgeneem het is voorwaar eerste klas.

Tans is die Boedies juis hard besig om mekaar die stryd aan te sê in die Currie Beker Superbru kompetisie. Intern is dit 'n vuurwarm stryd wat gelei word deur Skalla met 22.5, gevolg deur Mila wat staan op 20.5. Kort op hulle hakke is Stella met 18.5 punte in die sakkie en hard aan die werk Attie 16 punte. As ek my somme reg pomp dan is die verskil tussen die voorloper en die agter os op die oomblik 'n noue 6.5 punte en enige iets is nog moontlik. Deelnemers kry 1 punt as hulle kan raai watter spen 'n wedstryd wen, 0.5 punte as hulle binne 5 punte van die telling kan raai en die deelnemer wat die naaste aan reg is loop weg met die bonus punt. Daar is ook "Grand Slam Punte" wat 1 punt ekstra is vir spelers wat al die spanne wat gaan wen oor 'n naweek reg raai.


Buiten vir die interne stryd is daar dan ook die globale stryd wat die Boedies as span teen die res van die wêreld se spanne speel en verbasend goed vaar. Huidiglik beset die Boedies die 4de plek op die Currie Beker Superbru ranglys waar hulle teen 724 ander spanne kompiteer. Die spanning neem toe soos wat die Currie Beker kompetisie al nader aan die finaal kom en ons kan maar net wag en sien wat die Boedies met die een sal maak.

23 July 2007

Plaas


Hou jou asem op. Geweer styf teen die skouer. Kry die kruis op die teiken, squeeze die sneller en kyk nogsteeds deur die teleskoop of die kudu val. Ek is so op my senuwees. Ek kan nie weer mis nie. Dit is dieselfde gevoel voor ‘n groot rugby of krieket game. Dis lekker senuwees. Die grotes was vanoggend so tussen hierdie vier lande, so ons kanse om hulle weer hier te kry is nogal goed. Daar is net ‘n klomp ooie voor in die pad en ‘n paar kleintjies. Is Stefan se gevoel reg dat ons nie weer die bul gaan sien nie?

SW was die eerste wat hom gesien het. Die kudu het ons ook gesien en hardloop ‘n paar tree agter ‘n bos in. Ek haal oor en maak gereed. Ek soek hom in die teleskoop. Skielik is al die senuwees weg, en al wat ek op fokus is om hom plat te trek. Ek sien net sy horings uitsteek agter die bos. Stefan se as ek kan uitfigure waar sy kop is, moet ek hom klits. Die kudu kyk toe vir ‘n oomblik agtertoe. Toe kon ek vir die eerste keer sien hoe groot hy is. Daar waar sy horings in die bos bymekaarkom word my teiken. Asem op, geweer stil, target locked ……..fire! Ek het vergeet om aan te hou kyk deur die teleskoop, maar SW sê ek het hom. Ek hoop net nie ek het hom gekwes nie, die son sit al laag. Stefan is eerste by hom. Wat ‘n gevoel! Soos om die All Blacks te wen met ‘n strafskop wat jy uit die hoek van die veld af oorskop.

Vir baie mense sou dit die hoogtepunt van die naweek gewees het om ‘n trofee op 120m uit die vuis ‘n kopskoot te gee. Vir my, net ‘n bonus.

Waaroor die naweek vir my gaan is om saam met die boedies te kuier. Te hoor hoe dit rerig gaan met al die lief en leed, wat rerig in hulle harte aangaan. Om te sien hoe groot die pense geword het van laaskeer se kuier af. Om ook vir hulle te se wat rerig in my hart aangaan. Waaroor ek opgewonde is en waarvoor ek ook bang is, en jy weet wat gesê word bly op die plaas. Hierdie is ouens wie se opinie saakmaak. Jy wil weet wat hulle dink en voel oor ‘n saak. Yster slyp yster.

Ons gaan jou mis, SW! Alles van die beste in London. Mag jou drome vir jou, Elzna en Will oortef word. Mag jy alles kry waarna jy soek.

Verstaan maar asseblief as ek hartseer is, en selfs ‘n traan stort. Ek is ‘n enigste kind, en ag julle almal as broers. So, dit is ontsettend sleg dat jy moet gaan. Die Boedie naweke gaan nie dieselfde wees sonder jou nie!

Boedies forever!

12 July 2007

Boedies kook in SuperBru internasionaal.


Soos julle teen die tyd weet is die Boedies groot rugby ondersteuners. Soos dit 'n opregte Suid Afrikaner betaam ondersteun die Boedies rugby, bier, biltong, brannas met eish, braaivleis, Afrikaanse girls soos Tanya Van Graan, Minki Van Der Westhuizen, Charlize Theron en Mrs.Balls en lekker Afrikaanse musiek soos John West en De La Rey. Daarom kan Die Boedies ook nie anders as om dik die donner in te wees na ons gehoor het dat daar selfs net gedink word daaraan om die Springbok embleem weg te vat, maar dis nie hoekom ek skryf nie.



Ek wil eerder die Boedies geluk wens met hulle skitterende vertoning to dusvêr in die Investec Superbru Tri-Nations kompetisie. Uit 'n totaal van 1036 spanne wat deelneem aan die kompetisie van dwars oor die wêreld beset die Boedies op die oomblik die 6de posisie. Net weereens bewys dat die Boedies wêreldklas rugby ondersteuners is. Ek het nie nou die huidige punte stand nie maar glo my die Boedies doen ewe goed in die ondersteuning van die ander bogenoemde Suid Afrikaanse tradisies.



03 July 2007

DIE VOLGENDE STAP

Wel dit was 'n tipiese Engelse dag. Druppels water oral waar jy kyk. Die lug was gevul met donkerwolke en ek wou sug van teleurstelling want alles het daarop gedui dat die 29ste Junie 2007 'n donker, nat dag gaan wees. Julle kan sien hoe is ons aangetrek in die middel van somer.


Ek was egter nie afgesit deur die water nie en het ons maar die langpad aangedurf Cambridge toe. Candice was van niks bewus nie en was sy onder die indruk dat ons maar net 'n bietjie platteland toe gaan. Sy het in elkgeval al aanvaar dat ek nie die ring saamgebring het nie. Haar suster het 'n bottle sjampanje in die piekniekmandjie gepak en weg is ons.


Oppad soontoe het die weer begin saamspeel. Sodra jy die sementreuse van London agterlaat en die platteland binnegaan dan kry jy 'n ander tipe waardering vir hoe mooi dit regtig hier is. En soos die son begin deurbreek het en die heuwels en pragtige groen landskappe begin saamrol het terwyl ons oppad was na ons eindbestemming was die heuwels en pragtige landskappe vir my simbolies aan die pad wat ek en Candice tot nou gestap het. Dit was altyd op en af gewees, moeilik dae, goeie dae, pragtige oomblikke, tye om te vergeet, hartseer en gelukkig, want dit is hoe die lewe is. Dit vat jou deur al sy lesse. Deur dit alles het die pragtige arms van die liefde ons altyd omvou en dus altyd teenwoordig. Dit is tog maar net die liefde wat jou daardie finale stoot gee om jou te veseker dat dit die persoon is met wie jy die res van jou lewe gaan spandeer. Niks anders nie.

Wel ons is toe oppad na ons eindbestemming. Daar aangekom was dit alles wat ek gedink het dit gaan wees. 'n Tipiese historiese Engelse dorpie wat nog vashou aan sy eeu oue tradisies. Die dorpie het 'n romantiese bekoring wat skrik vir niks. Nou stegies, pragtige argitektuur. Mooi rivier, asemrowene parke en baie meer.














Hier het ons 'n boot gehuur en besluit om te, wat die Engelse noem, 'PUNT'. 'n Mooi woord vir roei. Ons het stadig langs die rivier af gepunt. Teen die agtergrond was die pragtige St. Kings Kollege. Die son het mooi saamgespeel en dit was die perfekte oomblik. Ek het begin dink hoe baie Candice vir my beteken en dat ek die res van my lewe net met haar wil spandeer en niemand anders nie.



































Ek het 'n plekkie met bietjie privaatheid gekry, op my knieg in die boot gaan sit en daar op die Cambridge rivier met die Kingston Kollege in die agtergrond en met die pragtige natuur klanke in die agtergrond het ek die vraag gevra. Wel sy het kon dit eers nie glo nie en was werklik verras gewees. Sy het die ja woord gegee en my die gelukkigste man op aarde gemaak.





































Daarna was dit tyd vir die sjampanje en net tyd om die oomblik te geniet en vir ewig in die kamers van ons harte te liasseer.


Ek kan nie wag vir die res van my lewe saam met haar nie.

18 May 2007

BAIE GELUK MILA EN SUNE!


Die Boedies wil graag van die geleentheid gebruik maak om vir Mila en Sune geluk te wens op hierdie volgende opwindende stap in hul lewens. Dit gee die Boedies 'n warm gevoel om te sien hoe gelukkig julle twee in mekaar se geselskap is en ons kan niks meer byvoeg deur slegs te noem dat julle die beste besluit van julle lewens gemaak het nie.


Nog 'n Boedie het geval maar, die Boedie bond het niks verloor in die proses nie, want die Boediefamilie is baie trots dat Mila uiteindelik die moed bymekaar geskraap het om vir Sune die ja-woord te vra. Ons is seker Mila sal alles wees wat die Boedie se handleiding: "TROUES EN VROUENS", waarin hy terloops die beste gedoen het met aflegging van die toets, hom geleer het om te wees in hierdie reis van die lewe wat voorle.


Ons weet dat julle tot aan die einde van julle tyd hier op aarde elke oomblik in mekaar se geselskap sal geniet. En soos die seisoene verby vlieg en julle wyser word uit die klasse van die lewe is die Boedies seker dat julle liefde net so sal groei en daar nog vele herdenkings en silwer koeke en goue karre en platinum huise, en al die goed wat gewoonlik gepaard gaan met 'n langhuweliksband, sal wees.


Die Boedies wens julle 'n liefdevolle, geseende en baie opwindende lewe saam voor. Ons kan nie wag vir huwelikseremonie nie. Mila se geheime kan nou uiteindelik op lappe gebring word.
Die Boedies

17 May 2007

Die Groot vraag


Alles het baie goed verloop tot dusver. Die ouers is gevra, die kar is gepak en vol petrol, genoeg in elkgeval om in Betlehem te kom. Ek sal daar weer volmaak. Ek kan sien sy vermoed nog niks nie. Sy wonder of dit die naweek is wat ek haar gaan vra om te trou, maar ek het genoeg bohaai gemaak oor my finansies wat so vrot lyk en dat ek nog maande moet spaar om haar ring te kan bekostig. Dit gekla het darem die nodige uitwerking gehad om haar op 'n dwaalspoor te lei.

My opgewondenheid oor die trip na die Drakensberge toe word gedemp deur al gedagtes wat deur my kop flits van watter roetes ons gaan stap. Is die Gudu falls die regte plek om haar te vra. Sy is mal oor watervalle, dit hou vir haar een of ander bekoring in, maar is die valle so mooi soos wat ek dit onthou? Hoe stap 'n mens om daar te kom? Ek weet dis na die Crack se kant toe, maar laas toe ons saam met die Boedies daar was kan ek nie onthou dat ek 'n afdraaibodjie daar gesien het nie. Ek worry nou verniet daaroor. Ek sal 'n kaart by die kiosk daar koop. Ek onthou Stefan s'n het laaskeer al die roetes mooi daarop gehad.

Sê nou ons verkluim die naweek? Hoe moes ek nou weet die eerste groot kouefront van die winter gaan nou daardie naweek tref. Nou tref ons dit nog in die berge. Party mense praat van sneeu, maar ek weet darem nie.

Nou is mos die regte tyd om haar te vra. Ons is al lank saam. Ek het altyd gesê niks minder as 3 jaar nie. Ons is nou 'n paar maande al saam in Bloem, en dis presies soos ek gehoop het dit sou wees tussen ons. My Sunday night blues is stadig maar seker besig om weer te verdwyn. Ek het nou wel lank gewonder hoe ek en sy die ding nou moet laat werk vir dievolgende 50 jaar of wat. Ek weet nie hoekom ek solank gevat het om by die antwoord uit te kom nie. Maar dis ‘n vraag wat ek eers beantwoord wou hê voordat ek om die ja-woord vra. Ek het vriende en familie gevra en antwoorde by mense gesoek totdat ek eendag besef het dat ‘n lang gelukkige huwelik nie in die mag van die mens lê nie, maar dis net genade van God. Dit is met hierdie wete wat ek die berge ingevaar het om die meisie van my drome te om haar lewe met my te deel.
Ek kon nie glo toe ek die kaart buite die tent oopslaan en sien dat daar nie ‘n gemerkte pad is na die Gudu watervalle nie. Die eerste dag het ons verby die Tiger waterval gestap. Dié het amper opgedroog weens die droogte, maar steeds ‘n pragtige roete as jy so 3 en ‘n halfure het om te stap. Ek het die hele tyd gekyk of ek nie bordjies sien wat dalk ‘n verskuilde roete aanwys na die Gudu waterval nie. Ek was dan al daar, daar moet ‘n manier wees om daar te kom.

Terug by die kamp het ek die bure gevra of hulle nie weet van ‘n roete tot daar nie. Die oom vertel my toe dat ek reg is om Crack toe te stap. Daar sal wel bordjies wees wat ons moet volg. Ek maak maar kort-kort seker dat Suné nie rede het om in my sak te krap nie. Ek het ook al drie keer gekyk en seker gemaak dat die boksie nog daar onder in my sak lê.

Ek het die aand gaan slaap met weereens plan A, B en C vir ingeval iets gebeur en die waterval ons ontwyk. Ook dwaal my gedagtes na die bure sy gebuigde gazebo pype wat oorblyfsels is van die vorige nag se stormreen en wonder wat vir ons die nag lê en wag. Met die elektriese kombers op die matras was ons egter gou in droomland.



Een koppie koffie en ons was weg opsoek na die waterval. Nooit weer stap ek die paadjie op na Lookout Rock toe nie. Nooit weer nie!! As jy bo by daai klip kom is die wonderlike uitsig amper die moeite werd. Aan ons linkerkant ons oogmerk, wat tussen die Crack en Plowman’s kop in die Gudu bos in neerval. My hart het in my keel geklop toe ons deur die bos stap en steeds nie ‘n draai gemaak het op tussen die koppe in nie. Ons stap toe terug om te kyk of ons nie die afdraai gemis het nie. My blydskap was groot toe ons dié keer die bordjie sien wat ons op die regte paadjie geplaas het. Dit was ‘n stywe klim tot bo, maar defenitief die moeite werd. Die waterval was pragtig en neergestort in ‘n pragtige poel met yskoue en kristal helder bergwater.

Dit was ‘n wonderlike plek om Suné te vra om my vrou te word. Tussen deur al die planne het ek nie veel tyd gehad om aan my speech te werk nie. Al het ek een gehad sou ek dit alles vergeet het. Ek sal volgende keer wat ek haar hiernatoe bring een gereed hê. Dan sal ek weer vir haar vertel hoe lief ek vir haar is, en hoe baie sy vir my beteken en dat ek nie sonder haar kan lewe nie.

Dit was ‘n wonderlike paar dae in die berge. Wat ‘n wonderlike stukkie skepping. Defenitief een van my gunstelinge plekke in ons land, en ek is bly ek kon elke sekonde daarvan deel met die vrou van my drome!

16 May 2007

SA Rugby maak droog

Ek luister gister en vandag die nuus so. Oor die stories rondom Luke Watson se last-minute insluiting in die Bok-groep. Toe dink ek by myself: Hoe kry SA Rugby dit reg om sooo droog te maak in 'n week wat veronderstel was om een van die grootste in die rugbygeskiedenis van Suid Afrika te wees?

Die week wat die Super 14 finaal voorafgaan, 'n finaal wat vir die eerste keer in Suid Afrika gespeel word, tussen twee Suid Afrikaanse spanne, nadat hulle onderskeidelik eerste en tweede op die log was na die ligawedstryde.

Soos voorheen, het politiek sy lelike kop in die skrum ingedruk om ook sy pond vleis by te dra. Kom ons kyk weer na die ontknoping van die storie. Dis omtrent soos Le Bold Le Beautiful.

Hoskins dwing Luke Watson in die oefengroep in nadat die 45 name reeds bekend was aan hom en sy trawante. Jake en sy bende is woedend oor daar oor hulle koppe gegaan is. Ek sou ook wees. Skielik spring almal op die wa en almal maak 'n bydrae tot die hele debat. Toe John Robbie Maandag oggend met Hoskins op 702 'n onderhoud voer, toe val Hoskins hom aan en vertel vir hom hy dink hy is die enigste een wat iets weet van rugby af in Suid Afrika. Klink vir my soos iemand wat terugbaklei nadat hy homself in die hoek vasgeverf het.

Toe kom Stofile ook in die debat in met die stelling dat Jake White 'n rassis is want Luke Watson se pa het destyds sy rug op SA Rugby gekeer en in die townships gaan ruggas jol. Nou word Luke teruggekry. Dis seker van die grootste bol poe wat ek lanklaas gehoor het. Dis so goed om te se Jake kies nie vir Hougaard nie want hy het saam met kleurlinge na skool en in pouse gespeel toe hy klein was in die Boland. Jake kies nie vir Hougaard nie want hy dink nie Die Houg pas in by die tipe rugby wat hy wil vir die Bokke soek nie. Mense, word wakker en hou op om alles terug te trek na Suid Afrika se apartheid verlede. Asseblief. Daai tyd is verby en die meeste mense begin al so bietjie daarvan vergeet, tot iemand dit weer opbring met sulke snert.

Ek kry vir Luke die jammerste in die hele storie. Hy is in die middel en ek dink nie hy verdien dit nie. Wat hy verdien, is om betrek te word by die Springbokke. Ek is miskien nie sy grootste fan nie, maar die ou is goed. Blerrie goed. Hy het iets om te gee vir die Bokke, veral in die Wereldbeker jaar wat vol is en waar beserings hulle tol kan eis op ons topspelers.

Ongetwyfeld dra die media ook hulle deel by om die hele ding sensasioneel te maak en om kyker- en lesergetalle op te stoot. Ek sien een van die koerantvoorblaaie vangoggend toe ek werk toe ry: "Luke and Jake face to face today". Eish, dramaties...

My wens is dat sport en politiek glad nie met mekaar moet inmeng nie. Die twee behoort nie langs dieselfde vuur nie. Dis soos as jy nie na 'n braai toe gaan nie, want die ou wat jou girl voorheen gevry het, is ook daar. Dit gaan net nie werk nie.

Kom ons hoop Saterdag is 'n briljante eindstryd om die Super 14. Dat ons voorwaar Super rugby gaan sien.