Jungfraujoch
Soos baie van julle seker reeds weet, het Switserland onlangs eers deel geraak van die Schengen Ooreenkoms, waaraan baie ander lande soos Duitsland, Frankryk, Begie, Oostenryk en nog 'n hele klomp ander in Europa behoort. Dit beteken dat hulle hulle grense oop gemaak het vir ander lede wat aan die ooreenkoms behoort en hulle het weggedoen met die paspoort beheer op hulle grense met die lande. Wat dit vir ons beteken is dat ons nou vir die eerste keer met ons Schengen Visums van Duitsland af Switserland kon binne gaan.
Ons het ook nie op ons laat wag nie en die eerste geleentheid wat ons gehad het om te gaan het ons ons planne opgelyn. Ons het ons huiswerk op die internet gedoen, want om van die Switsers se snelweg gebruik te kon maak moes ons 'n plakker teen ons voorruit hê wat bewys dat ons die nodige tolgeld betaal het. Die plakker is geldig vir 'n jaar en al sou ons net vir 'n dag in en uit Switserland wees, moes ons die volle bedrag betaal. Dit was so €24 wat rofweg omtrent R264 was en mens kan dit of op die grens koop of by enige petrolstasie in Switserland.
View Larger Map
Ons het die huurkar se GPS gevolg deur Basel en toe Oos na Grindelwald. Grindelwald is 'n klein dorpie in die Alpe vanwaar mens 'n trein kan vat wat mens deur Kleine Scheidegg tot by Jungfraujoch teen die berg op neem. By die Kleine Scheidegg stasie klim mens oor na 'n ander trein wat deur tonnels al langs die berg uit klim om mens tot by die Jungfraujoch, die hoogste treinstasie in Europa, te bring. Mens kan ook stap, maar dis nie die tipe van stap soos die wat mens in die Drakensbege doen nie, hier moet jy jou storie ken. In die winter is die sneeu dik van Grindelwald boontoe.
Die Alpe is ongelooflik, selfs meer so vir ons Suid Afrikaners wat nie sneeu ken nie. Regtig 'n winter sprokies wêreld en elke foto is 'n poskaart.Bo op die berg kan mens vir kilometers vêr sien en kan mens kyk hoe die gletsers teen die berg afloop. Die vars koue lig is verfrissend, maar omdat mens so vinnig tot by 3471 meter bo seevlak styg kan mens moontlik "altitude sickness" kry, maar siende dat ons nie vir langer as ses ure daar bo sou wees nie was ons redelik veilig.
Die stelsel werk op die oomblik bietjie vreemd, siende dat hulle onlangs eers oorgeskakel het van Switserse Frank na Euros. Mens kan met Euro note betaal, maar hulle vat nie graag munte nie. Die pryse is meestal nog in Switserse Frank gemerk en al betaal jy met Euros kry jy jou kleingeld in Switserse Frank, wat help as jy munte nodig het vir die parkeermeters wat nog net Switserse Frank vat. Wat ookal jy vat, maak seker jy het genoeg vir 'n lekker beker warm sjokolade, want na die koue op die berg sal jy jou eersgeboore reg daarvoor gee, maar ook vir die romerige wortelsop wat hulle in die vrek duur restaurant verkoop. Die lekkerste wortelsop wat ek nog geëet het.
Freiburgh
Die tweede naweek in Duitsland het ek saam met 'n kollega en sy meisie 'n trein gevang na Freiburg. Daar was 'n sokkerwedstryd aan die Saterdag en die RE of "Regional Express" was oorvol. Mense het in die gange en teen die trappe in die trein gestaan en dit was moeilik om sitplek te kry. As die ICE (InterCity Express) verby jaag skrik ek elke keer my as af want dis ongelooflik hoe vinnig hy verby kom.
In Frieburg het ons na die Freiburg Münster gaan kyk. Dis 'n baie ou katedraal wat in 1120 begin is en in 1827 'n katedraal geword het. Die ou kerke het 'n baie interessante geskiedenis, soos byvoorbeeld dat 'n katedraal of eerder 'n katedraalkerk verwys na 'n biskopskerk waarin die stoel van die biskop 'n prominente plek inneem.
Na nog 'n lekker warm sjokolade het ons deur die dorpie se kersmark geloop voor ons teen die Schlossberg uit is. Dis 'n stewige stap teen 'n heuwel uit en daarna nog 'n moordende stel trappe op teen 'n toring van waar mens oor die hele dorpie kan uitkyk. Op die hoogte is dit baie koud en op die boonste trappe van die toring het daar oral sneeu saamgepak. Freiburg is veral bekend vir sy omgewingsvriendelike praktyke en die inwoners is veral trots hierop. Oral deur die dorp is daar water voortjies wat Bächle genoem word en in vroëer jare gebruik is om water te voorsien vir brandbestryding en vir die diere. In die Somer maak die water die lug koel en is daar altyd die kalmerende geluid van lopende water. Daar word ook gesê dat as jy per ongeluk in een van die watervoortjies trap jy met 'n Freiburger sal trou.
Strasbourg
Sondagoggend het Aidee, 'n meisie wat vir die Duitse deel van ons maatskappy werk en haar man ons genooi om saam met hulle Strasbourg toe te gaan vir die dag. Dit was 'n baie lekker oggend en vir 'n verandering het die son geskyn. In Strasboug was ek baie opgewonde om die katedraal van ons geliefde dame (Engels: Cathedral of Our Lady Frans: Cathédrale Notre-Dame-de-Strasbourg) te besoek. (Dame verwys hier na die Maagd Maria). Al is groot dele van die Roomskatolieke kerk in die romaanse boustyl gebou word dit beskou as een van die beste voorbeelde van die laat gotiese (Gothic) boustyl. Van 1647 tot 1874 was dit die hoogste gebou in die wêreld en vandag is dit die 6de hoogste kerk in die wêreld. Sy is 'n betowerende gebou. Binne in is sy unorm en mens raak sommer dadelik stil en kry daai gevoel van respek wat mens kry as jy in 'n kerk ingaan. Dis regtig die mooiste kerk waarin ek nog was en ek het gewens ek kon 'n dien in so 'n kerk bywoon. Die glaswerk is ook iets besonders en ek kan nie die atmosfeer beskryf nie, maar dis definitief iets Heiligs.
Die res van die dag het ons deur Strasboug gestap, die kersmark besoek en toe by 'n klein Franse koffie winkel gaan sit vir koffie en Flammkuchen (Frans: tarte flambèe), 'n tipe pizza waarvan die deeg amper gebrand het in die houtvuur oond. Anders, maar lekker. Hier het ek en Aidee se man, ook Stefan, en 'n duitser, baie lekker gesels oor alles van die ekonomie, die ressesie, globale verwarming, omgewingsvriendelike energie tot die wêreld se waterbronne en die uitvoer van voedsel uit Afrika na Europa. Seker oor ons dieselfde naam het dat ons so goed oor die weg gekom het, siende dat ek hom net die oggend ontmoet het.
Vrydagaand na werk is ek op die tram terug na die Hotel in Karlsruhe en dit het saggies begin sneeu. Later die aand het ek 'n laaste draai by die kersmark gemaak en kon voel dat dit heelwat kouer geraak het. Dievolgende oggend was Karlsruhe wit van die sneeu. Oppad lughawe toe het ons in Heidelberg gestop en daar rondgeloop, maar dit was -15 grade Celcuis en ons kon nie lank buite rondloop nie. Ons is ook net betyds uit Europa uit, want op die volgende week was die nuus vol van stories oor mense wat op lughawens en trainstasies gestrand is deur een van Europa se koudste winters in die afgelope paar jaar.